Mnr. Riaan Strydom is nie bang vir kanse waag nie en hy het groot drome om die Bokmakieriehandelsnaam landwyd gereken te maak, asook om vir gehalte bekend te wees. Hy het op dieselfde grond, wat hy aanvanklik as ’n vrugteplaas saam met sy broer, Mario, geërf het, intussen ’n hoenderboerdery en varkboerdery opgerig en die plaas se omset in die afgelope vyf jaar versesdubbel.

Riaan het in 2014 besef die oorhoofse koste van sy groeiende hoenderboerdery, wat toe 30 000 hoenders kon huisves, is besig om die boerdery terug te hou. Hy het een van die grootste kanse van sy lewe gewaag en het banke om ’n lening genader.

“Ons onderneming was te klein om ’n bestuurder by die slagplaas aan te stel of om ’n koeltrok aan te koop.” Die hoenderboerdery het binne ’n jaar verdubbel tot 60 000 hoenders. Hy het sedertdien nóg hokke bygebou, en vanjaar kan hy 90 000 hoenders aanhou. Hy beoog om dié getal tot 110 000 te verhoog, wat beteken sy hoenderboerdery het, wat volume betref, tot vanjaar verdriedubbel.

Riaan lewer weekliks ongeveer 14 000 tot 15 000 hoenders aan die slagmark. Die vleis word plaaslik in hul winkel en slaghuis verkoop.

Die hoenderboerdery het ontstaan toe Riaan en Mario in 1996 met 200 hoenders op hul vrugteplaas in die Langkloof begin boer het om ekstra sakgeld in te bring. Hulle het elke twee tot drie maande nuwe hoenders ingekry, grootgemaak en self geslag om aan hul plaaswerkers en later aan die plaaslike gemeenskap te verkoop.

“Toe begin die mense vra hoekom hou ons nie meer hoenders aan nie.” Die twee broers het toe groter hokke begin bou en grond, asook ’n slagplaas bygehuur om te verseker hulle voldoen aan die gesondheidsvereistes. “Toe het die ding begin loop en ons het met hoenders begin boer.”

Riaan het in 2002, nadat hy sy diploma in boerderybestuur aan die PE Technikon se Saasveldkampus in George voltooi het, by die boerdery aangesluit en vandag behartig hy die bestuur van die plaas. Dit sluit die hoenders, varke, vrugte en vervoer in.

Mario is in beheer van die slaghuis, waar hy self slag en die vleis verwerk. Hulle verskaf werk aan nagenoeg 140 mense van Krakeelrivier. Hy het ook bestuurders wat onder meer na die hoenders, varke, die werkers in die boord, die slaghuis en die werkswinkel omsien.

Die slaghuis het in 2014 die beste gradering van die Oos-Kaapse departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming gekry en in 2016 die derde beste gradering.

Pak die waardeketting

Aanvanklik het die broers hoenderprodukte in winkels in die Langkloof versprei, maar hulle het in 2007 hul eie vleiswinkeltjie op Joubertina oopgemaak waar hulle hul eie hoender- en varkvleis begin verkoop het. Hulle het toe reeds ’n plaaswinkel op Krakeelrivier bedryf. Hulle kon egter nie voorbly nie en moes toe nog ruimte byhuur. In 2001 het hulle ’n slaghuis gehuur wat hulle in 2004 gekoop het.

Om hul aanbod te verbeter het hulle ook skaap- en beesvleis op die rakke bygevoeg en die slagplaas verbeter sodat hulle beeste en skape daar kon slag. Die winkel het egter steeds uit sy nate gebars en hulle het toe uiteindelik hul eie slaghuis oopgemaak. Vandag is hul inkomste op ’n Vrydag in die slaghuis amper drie maal dit wat hulle in die eerste maand in die eerste winkel verdien het.

Die varkboerdery het klein begin met net 20 diere; nou is daar altesame 600 varke. Riaan se plan is om moderner varkhokke te bou en om sy eie varke te teel omdat dit tans ’n probleem is om varke in die hande te kry. Hulle lewer hoofsaaklik vleis aan winkels in die Langkloof, asook aan kleinhandelwinkels in George en Port Elizabeth. Daarby lewer hy ook vleis aan verskeie restaurante op Jeffreysbaai.

Hy lewer groter hoenders as wat die huidige markneiging is. “Jy bestee ’n sekere bedrag om jou hoender tot die gewone grootte te kry, maar as ek die hoender ’n ekstra R5 se voer gee, maak ek R6 uit die ekstra vleis.” Hy sê hy kry tot dusver die hoenders verkoop en gee glad nie soutwaterinspuitings nie. Riaan maak vandag 14 000 tot 15 000 braaihoenders per week groot.

Die hoenderafval word in twee hope verdeel. Op die voorgrond is al die afvalprodukte van die slaghuis, saam met die kuikenbokse en hoendermis wat gemeng word om kompos te maak en die hoendermis op die agtergrond.

Ontgin alles

Die hoenderafval van die hokke en slaghuis was aanvanklik ’n probleem, maar toe iemand voorstel Riaan moet eerder kompos daarvan maak, is nóg ’n inkomstestroom by die boerdery gevoeg. Hy meng ’n deel van die hoendermis met die hoenderafval uit die slaghuis en die bokse waarin hy die kuikens aankoop met ’n laaigraaf.

Hy het twee hope, een met kompos en een met slegs hoendermis. Hy gebruik ’n deel daarvan om sy boorde te bemes, maar verkoop die meeste daarvan. “Vandag is die verkoop van hoendermis amper die grootste rede om met hoenders te boer. As jy hoendermis uit jou som haal, raak die som te klein.” Verder is hy ernstig daaroor om eerder sy geld in die plaas terug te ploeg as om nuwe voertuie te koop.

Hou alles op een plek

Namate die boerdery uitgebrei het, het dit ál moeiliker geword om ’n oog op elke faset van die plaas te hou. Hy gebruik nou Dropbox vir ondernemings om by te bly met elke verandering wat op die plaas gemaak word. Die toepassing is nou op sy selfoon, skootrekenaar en iPad gelaai. Enige inligting rakende die plaas is daarop gelaai, en sluit in waterverbruik, vervoertariewe, kwotasies, verlof, voerbestellings, bespuitingsprogramme, tot die aantal kuikens wat weekliks inkom.

“Al my data is op een plek beskikbaar en dit is aanlyn, wat beteken my foon kan maar in die water val, ek het steeds al die data.” Die verskillende bestuurders het toegang tot hul eie lêer waar hulle hul spesifieke afdeling gereeld moet bywerk, wat beteken Riaan kan te alle tye sy vinger op die boerdery se pols hou.

Hy kry weekliks verslae van die aantal varke wat geslag is, of wanneer ’n hoenderhok uitgeslag is met ’n uiteensetting van die hoeveelheid hoenders wat aangekoop is, gevrek het, hul gemiddelde gewig en hoeveel voer hulle gevreet het sodat hy sy voeromsetting kan bereken. Een van sy kantoorbestuurders by die slagplaas het vir hom Excel-sigblaaie saamgestel waarvolgens hy eenvoudige berekeninge kan doen om sy uitsette of voeromsettings te bepaal.

Op dié manier bly hy heeltyd op die hoogte van die boerdery-uitgawes en die slaghuise en winkels wat hulle bestuur. Hy het die stelsel begin gebruik toe die boerdery se grootte ’n ál groter probleem begin word het. “Ek het nie geweet waar ek wen of verloor nie, en aan die einde van die maand het ek net gesien dit gaan goed of sleg.

Dit is toe dat ek Dropbox begin gebruik het.” Hy het ook verskeie WhatsApp-groepe geskep vir die verskillende afdelings op die plaas waarop enige nuwe inligting deur die bestuurders opgeteken word. Een voorbeeld daarvan is die onderhoudgroep. “Wanneer iemand ’n stukkende lig sien, neem hy ’n foto en sit dit op die groep, en dan weet die onderhoudspan om dit te gaan regmaak.” Hy kry ook daaglikse verslae uit die hoender- en varkhokke sodat hy bybly al kom hy nie by die hokke uit nie.

Mnr. Riaan Strydom (links) saam met sy broer, Mario, wat die slaghuis bestuur.

Laat die boeke klop

Hy het tot onlangs self die geldsake en boekhouding van die boerdery en hul winkels behartig, maar het intussen die hulp van mnr. Earle van der Watt, ’n finansiële bestuurder, ingeroep.

Van der Watt verskaf sy dienste aan boerderye wat nie groot genoeg is om hul eie finansiële bestuurder aan te stel nie. “Die bestuur loop nou gladder, die finansiële state en bankrekeninge is beter georganiseer en ek het nou ’n duideliker prentjie van die verskillende boerdery-afdelings en watter winsgewend is en watter nie.”

Die Bokmakierieboerdery se werkersmag.

Vrugte-afdeling

In sy beginjaar op die plaas het die boerdery nagenoeg 3 400 kratte vrugte gepluk. Twee jaar gelede het hy 11 000 kratte gepluk op ’n kleiner gebied as waarop hy begin boer het. Dít het hy reggekry deur ou, ondoeltreffende bome uit te haal en die aantal bome per hektaar te vermeerder. Die huidige droogte en haelskade in Februarie vanjaar was ’n groot terugslag vir die boerdery, maar danksy diversifikasie kon Riaan die impak van die skade verminder.

Nadat die hael feitlik die hele vrugte-oes vroeër binne twee weke afgeslaan het, het Riaan na maniere gesoek om steeds werk aan sy seisoenswerkers te verskaf. “Daar is baie indringerswartwattelbome op die plaas en die wet vereis dat ek as grondeienaar die indringerplante moet uitroei.” Hy het brandhout begin maak.

Hy stuur dié hout saam met ’n vragmotor, wat voer op Worcester gaan haal, en verkoop dit by twee afsetpunte in die Kaap. Hy het ’n ervare span werkers ingekry om die steeds groeiende vraag uit die Kaap van hout te voorsien. Riaan bestuur ook ’n vervoeronderneming vir ekstra inkomste en om die vervoerkoste van die boerdery te verminder.

Die een vragmotor word vir 50% van die plaas se doeleindes aangewend en die ander vir 80% vir die plaas. Hy koop sy hoendervoer in Worcester aan, en indien hy ’n beter prys vir sapvrugte in Ceres kry, dan dien die vragmotors ’n dubbele doel.

Sy arsenaal planne droog nie op nie . . .

Hy wil nog ’n vleisverwerkingsaanleg oprig, ’n webwerf skep vir aanlyn bestellings en ’n eie pakhuis bou, wat ’n oes van 18 000 kratte moet kan opberg en verpak.

Vogmeters in die grond stel Riaan in staat om sy besproeiing noukeurig te beplan en om te verseker die bome word nie oorbesproei nie.

Groot treë met tegnologie

Riaan het onlangs termometers buite en in al die hoenderhokke laat installeer. Die buitenste meter dien ’n dubbele doel, aangesien hy nou kan sien of ryp op pad is sodat hy rypskade in boorde kan voorkom. Die binneste meters vergemaklik bestuur en verlaag die risiko van hoenders wat te warm of koud kry. “ ’n Hoender wat koud kry, raak maklik siek en dié wat warm kry, kry maklik hitte-uitputting, wat groot vrektes veroorsaak.”

Riaan en ’n groep boere in die Langkloof toets die afgelope twee jaar die Sisko-stelsel, wat deur mnr. Neil-Pierre Strydom, ’n plaaslike ontwikkelaar, ontwerp is. Dié stelsel is ontwerp om die opteken van data met die hand te verminder en om naspeurbaarheid in die boord te verbeter. Danksy die stelsel weet hy in watter boord elke krat in die pakhuis gepluk is, deur watter plukspan en hoeveel sakke elke plukker pluk.

Hy kry elke drie minute ’n vorderingsverslag van die plukproses – daar is WiFi in die boorde – en die stelsel is boonop ontwerp dat plukkers nie meer sakke kan skandeer as wat hulle gepluk het nie. “Ek moes saans met papierwerk gaan sit om die betalings vir die stukwerk te bereken. Nou druk ek bloot ’n verslag aan die einde van die week uit.”

Riaan het ook ’n elektroniese etiketstelsel in gebruik geneem, waarvolgens hy die dieselverbruik van elke afdeling van die plaas meet. ’n Unieke kleur word aan die verskillende afdelings op die plaas toegeken en wanneer ’n voertuig aan die einde van ’n taak volgemaak word, word ’n kleuretiket gebruik, wat dit makliker maak om te weet hoeveel diesel elke afdeling gebruik.

Navrae: Mnr. Riaan Strydom, e-pos: riaan@bokmakierietrust.co.za; sel 082 853 6817.

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.