As boer in die dorre woestynland van Namibië weet jy, ook in nat en groen seisoene, dat jy eintlik vir die volgende droogte boer. Met veekuddes dikwels onder druk en bosindringing wat boerdery plek-plek onvolhoubaar maak, het Namibiese boere nou die verpesting van swarthaak, sekelbos en ander bosse omgeswaai en ’n houtskoolbedryf op die been gebring.

Met die uitvoer van 210 000 ton houtskool in 2020 kon hulle dus hul grootste nagmerrie in ’n snelgroeiende onderneming omskep.

Vir party Namibiërs was die droogte van 2018-’19 die ergste in menseheugenis. Vir ander was dit die grootste sedert 1932-’33. Bykans die hele land was in droogte gedompel. Vir sommige mense het dit al sedert 2010 voortgesleep, met slegs enkele plase wat (ondergemiddelde) reën gekry het.

Bosindringing is ’n wesenlike probleem in groot dele van Suider-Afrika en ook Namibië. Dit het daartoe gelei dat verpakkingsaanlegte opgerig is en vinnig uitgebrei het om in die behoeftes van oorsese markte te kan voorsien. Die Namibiese houtskoolvereniging (NCA) speel ’n deurslaggewende rol om die bedryf te laat groei.

In veral die sentrale en noordelike gebiede van Namibië het bosindringing só ’n groot probleem geword dat boerdery nie meer lewensvatbaar is nie, en op plekke selfs heeltemal onmoontlik. Volgens mnr. Michael Degé, bestuurder van die NCA, word gereken dat 45 miljoen hektaar van die Namibiese landskap deur verbossing geraak word. Sowat 2 miljoen hektaar word tans gebruik vir houtskoolvervaardiging op hoofsaaklik veeplase.

Die probleemspesies wat hiervoor gebruik word, is die verskillende akasia-spesies, soos die swarthaak (Senegalia mellifera) en rooihaak (Vachellia reficiens), asook die mopanie (Colophospermum mopane), driedoring (Rhigozum trichotomum) en omutjete (Dichrostachys cinerea).

Ná ’n karbonisasieproses van 7 uur word die oond met sand geseël om te keer dat suurstof inkom. Die oond kan dan die volgende oggend oopgemaak word.

Knou vir veebedryf

Bosindringing het veeboerdery in Namibië buitensporig geknou. Dit is veral kommerwekkend as in ag geneem word dat ongeveer 70% van die land se bevolking van die landbou, en spesifiek die rooivleisbedryf, afhanklik is.

In 2018 was die inkomste uit die beesvleisbedryf alleen sowat $184 miljoen (N$2,6 miljard). Die uitvoer van houtskool het in 2019 ongeveer $58 miljoen (N$850 miljoen) beloop, wat van Namibië die grootste uitvoerder van houtskool in Afrika maak, en die elfde grootste uitvoerder wêreldwyd.

Volgens Degé was daar in 2016 sowat 280 houtskoolprodusente wat by die NCA geregis- treer was, teenoor 1 353 tans. Werkgeleenthede word geskep vir ongeveer 10 000 mense, wat van die houtskoolbedryf ’n groot werkverskaffer maak. Ongeveer die helfte van die produsente is opkomende boere uit voorheen ekonomies benadeelde groepe.

Daar is tans 25 houtskoolverwerkingsaanlegte in Namibië wat houtskool in groot maat aankoop, verwerk en versprei na binne- en buitelandse markte soos Suid-Afrika, die Midde-Ooste, Australië en Europese lande soos Brittanje en Griekeland. Die internasionale standaarde waaraan die produk moet voldoen, is baie hoog. Tegniese gehalte soos koolstofbinding, asinhoud, vlugtige stowwe en die voginhoud moet uitstekend wees.

Nadat die houtskool uit die oond kom, moet dit minstens drie tot vier dae in die veld afkoel voor dit in sakke geplaas kan word. Dit is om brandgevaar in die sak te voorkom.
Hierdie houtskool is met die nuwe eendag-metode gebrand wat die hout perfek karboniseer.

GESOGTE PRODUK

Volgens Degé word ongeveer 4 ton biomassa benodig om 1 ton houtskool met die hulp van metaal- of droogoonde te produseer.

Namibiese houtskool is van baie hoë gehalte omdat die meeste indringerspesiebosse ’n hoë digtheidspartikel het. Die hoë temperatuur en uiters droë weersomstandighede in Namibië is gunstig vir die droog word van hout. Houtskool van die indringerbos ontsteek maklik, bereik vinnig kooktemperatuur en is bekend daarvoor dat dit kos ’n geurige, houtagtige smaak gee.

Volgens die huidige markaanvraag en groei kan die uitvoer teen 2022 verhoog word tot 300 000 ton per jaar, ’n 85%-verhoging teenoor 2016. Degé sê ’n proses is reeds aan die gang om ’n reeks neweprodukte te skep uit die houtskool wat teen 2022 uitgevoer kan word.

Van die produkte wat beoog word, is brikette, wat reeds in groot maat geproduseer en uitgevoer word. Drie nuwe briketaanlegte word tans opgerig om in die groeiende vraag te kan voorsien.

Geaktiveerde houtskool, wat gebruik word vir medisinale en kosmetiese doeleindes, asook die grondaanvulling biokoolstof (biochar), is nog moontlikhede wat ondersoek word.

Houtskoolasyn wat van houtrook verkry word en met ’n gesofistikeerde, dog eenvoudige en kostedoeltreffende proses onttrek word, het die voordeel dat dit reeds in water opgelos is en dadelik gebruik kan word vir landboudoeleindes. Nog ’n neweproduk is kooltjies vir waterpype.

Nadat die houtskool afgekoel het, word dit in sakke gepak en geweeg voordat dit vir verdere verwerking na die fabriek gestuur word. FOTO’S: MICHAEL DEGé

Vennote VIR SUKSES

As ’n vrywillige organisasie sonder winsoogmerk is die NCA op die been gebring om die hout- en houtskoolbedryf te help groei met die samewerking van die vyfde nasionale ontwikkelingsplan (NDP5).

Die NCA is geaffilieer by die Namibiese Landbou-unie (NLU) en ontvang die steun van die Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit (GIZ, die Duitse vereniging vir internasionale samewerking).

Dit kos ’n plaaseienaar vir die eerste drie maande gemiddeld N$200 000 om 15 kolewerkers van alle benodigdhede te voorsien.

Werkers benodig volgens wet beskermende klere wat oorpakke, stewels, rookmaskers, handskoene, ’n gesigsbril en hoed insluit. Ander toerusting sluit in droogoonde, byle en pangas. Die plaaseienaar is verantwoordelik om behuising, watervoorsiening, sanitasie en opleiding te verskaf. “Binne vier tot vyf maande word hierdie koste verhaal en begin jy wins toon. Dit maak die houtskoolbedryf baie kostedoeltreffend,” sê Degé.

’n Groep werkers wat opleiding van die NCA in die veld ontvang het.

bosbestuur EN BRANDPROSES

Volgens me. Manushka Moodley van die Forest Stewardship Council (FSC) het die FSC bevind dat ongeveer 45 miljoen ha van Namibië deur bosindringing geraak word. Dit hou ernstige nadelige gevolge vir biodiversiteit en grondwater in, en is die oorsaak dat grondgebruik oor die afgelope paar dekades met twee derdes gekrimp het.

Bosindringing neem jaarliks met 2-3% toe. Volgens Moodley is die verbossing toe te skryf aan onder meer die vermindering van gereelde veldbrande, die verwydering van blaareters en oorbeweiding.

Die FSC het tans reeds 1,6 miljoen ha landbougrond vir bosuitdunning geïdentifiseer. Onder die FSC se wakende oog word seker gemaak dat die uitdunning volgens streng reëls en regulasies geskied.

Soos in enige bedryf kan daar ongelukkig nadelige aspekte wees, en in dié geval is dit onbeheerde bosbrande as gevolg van die houtskoolbedryf. Daarom het die Namibiese departement van bosbou met die samewerking van die NCA baie spesifieke riglyne opgestel oor veiligheid op plekke waar kole gebrand word.

Van 1 Mei af is dit verpligtend dat ten minste drie tot vier werkers hul oonde bymekaar moet plaas en saam brand. In die omtrek van 15 m rondom die oonde moet die gras teen die grond afgesny word. Geen hout mag aan die bokant van die oond uitsteek nie — die deksel van die oond moet dus heeltemal toegemaak kan word om te voorkom dat vuurvonke uitspat. Brandbestrydingstoerusting moet op die toneel en in werkende toestand wees, en personeel moet opgelei wees om dit te kan gebruik.

Volgens die riglyne moet alle bure in kennis gestel word wanneer daar gebrand word. Dan moet plaaskaarte beskikbaar wees waarop die paaie, hekke en waterpunte aangedui is in verhouding met die kolebrandpunte. Die belangrikste is egter dat daar te alle tye toesighouers op die brandterrein moet wees.