Ongeag die baie lae inflasiekoers – in Februarie 2,9% op ’n jaargrondslag – het die monetêre beleidskomitee (MBK) van die Reserwebank einde Maart 2021 besluit om rentekoerse stabiel te hou. Die inflasiekoers is onder die teikenband van 3-6% van die Reserwebank en daarom kon verwag word dat rentekoerse verlaag sou word.

Die Reserwebank het die afgelope paar jaar bekend geword om ’n baie konserwatiewe benadering. Verskeie ekonome meen Suid-Afrikaanse rentekoerse is te hoog, gegewe die swak ekonomiese groei, stygende werkloosheid en lae inflasie.

Die MBK het met die bekendmaking van sy besluit syfers bekend gemaak wat sy siening ondersteun dat die ekonomie relatief vinnig gaan begin groei en dat inflasie hoër gaan neig. Volgens sy modelle kan dit ’n styging in rentekoerse regverdig voor die einde van die jaar.

Finansiering bly skaars. Finansieringsinstellings is baie konserwatief met die verskaffing van finansiering, wat die herstel in die ekonomie knou en heelwat boere benadeel.

Intussen het hernude kommer ontstaan oor die voortbestaan van die Land Bank, wat einde Maart sowat R400 miljoen se lenings moes terugbetaal, terwyl daar nie uitsluitsel is oor die regering se reddingsplan vir dié bank nie. Dit knel die beskikbaarheid van finansiering in die landbou verder.

Nigeriese bankgroep

Dan was daar ook in die finansiële omgewing die nuus dat ’n Nigeriese bankgroep sowat 90% bekom het van Grobank, die bankfiliaal van die landboumaatskappy Afgri. Die ander finansieringsarm van Afgri, Unigro, moes ook terugskaal nadat die Land Bank hul ooreenkoms ten opsigte van finansiering opgeskort het.

’n Paar ander landboubesighede bevind hulle in dieselfde penarie. Dit alles plaas druk op die beskikbaarheid van finansiering en nuwe investering in die landbou.

Die breë ekonomie gaan tans gebuk onder moeilike kredietbekombaarheid. Dit word bevestig deur die syfer dat krediet in die private sektor in Januarie met slegs 2,6% toegeneem het teenoor die vorige jaar. Dit is die laagste vlak van kredietverlening sedert 2010.

Die groei in krediet in die private sektor was sowat twee jaar gelede in die orde van 7-8% per jaar. Die syfer beklemtoon net dat krediet moeilik bekombaar is en knel boerderye se uitbreidings en investering.

Finansiering in die landbou is uiters belangrik om insetkoste en oeste te finansier. Lae rentekoerse help darem om die terugbetaalvermoë te verbeter, maar daar is geen teken van die voordeel in toeganklike finansiering te midde van ’n lae rentekoerspatroon nie.

Inteendeel, die MBK het in sy ondersteunde dokumente wat bekend gemaak is, daarop gesinspeel dat die daling in rentekoerse op ’n einde is en dat rentekoerse na die einde van die jaar kan styg. Suid-Afrika het skynbaar volgens die MBK die onderste draaipunt van die rentekoerssiklus bereik.

Elders ter wêreld

Die tabel gee ’n opsomming van die jongste stand van ekonomiese aanwysers vir ’n paar lande: groot ekonomieë en opkomende ekonomieë waarmee Suid-Afrika meestal vergelyk word.

Internasionale ekonomiese aanwysers

Die meeste lande ervaar nog ’n negatiewe ekonomiese groeifase. Die uitsondering is China, wat voortgaan om sterk te groei. Die IMF en ander verwag dat daar gedurende 2021 ’n voortdurende herstel in ekonomiese groei sal plaasvind tot 5,5% vir 2021 en dat China verder sal versnel na sowat 8%.

Dit is natuurlik een van die redes waarom metaalpryse begin herstel namate vraag toeneem.

Suid-Afrika is maar taamlik in die bondel van die groep lande. In die geval van werkloosheid is Suid-Afrika loshande die slegste daaraan toe en dit is nog besig om toe te neem.

Die rentekoerse op staatseffekte in die meeste ontwikkelende lande is taamlik laag, wat in pas is met hul baie lae inflasiekoers. Naas Turkye en Brasilië is die rentekoerse op Suid-Afrikaanse staatseffekte van die hoogste in die lande in die tabel.

Die aanduidings is dat die inflasiekoers in die wêreld nog ’n jaar of drie laag gaan bly, maar stadig opwaarts sal begin neig. Die Amerikaanse federale reserwebank het ook aanduidings gegee dat hy nie beoog om in die volgende jaar of wat rentekoerse te verhoog nie.

Dit hou ’n voordeel vir Suid-Afrika in. Omdat plaaslike rentekoerse heelwat hoër is as in ontwikkelde ekonomieë, help dit mee dat daar kapitaal na Suid-Afrika vloei en die wisselkoers stut. Daar is navorsing wat toon dat die waarde van die rand taamlik hoog gekorreleer is met pryse van minerale en metale. Die verwagte herstel in ekonomiese groei en die stygende pryse van minerale en metale, wat deels aangedryf word deur die groei in China, bevoordeel Suid-Afrikaanse myne en die wisselkoers van die rand.

MBK se standpunt

Die Reserwebank se groeivooruitskatting vir die plaaslike ekonomie word in grafiek 1 getoon. Die siening dat die ekonomie met 3,8% gaan groei, is heel optimisties, maar dit is ná die insinking van 7% in 2020.

Grafiek 1: Ekonomiese groeikoers % (BBP)

Die Reserwebank verwag dan dat groei daarna tot 2,4-2,5% per jaar sal afneem. Dit gaan nog sowat 3-5 jaar se groei verg om die verlore produksievlakke en besteding terug te kry op 2019 se vlakke.

Daar is ook aanduidings dat voedselbesteding begin afneem namate die swak ekonomiese toestande na laer koopkrag deurwerk.

Nogtans waarsku die MBK dat die risiko van finansiële onstabiliteit nog nie heeltemal onder die knie is nie.

Hy waarsku ook dat ’n derde vlaag van die Covid-19-pandemie verwag word, wat die ekonomie verder kan knou.

In die lig hiervan is die gevolgtrekking dat die ekonomie beslis nie oorverhit is nie. Verbruikers se koopkrag neem af en werkloosheid neem toe. Dit behoort genoeg rede te wees om rentekoerse nog te verlaag.

Hierby moet ons voeg dat die inflasiekoers in Februarie 2,9% was. Dit is onder die Reserwebank se teiken van 3-6%. Dit bevestig dat daar nie inflasiedruk is nie en ’n mens sou verwag dat die Reserwebank meer tegemoetkomend sou wees en rentekoerse verder verlaag het om die ekonomie te stimuleer.

Grafiek 2 toon die verloop van inflasie en die prima rentekoers. Die verloop is duidelik. Daar is ’n afwaartse neiging tot onder 3%, wat die argument versterk dat rentekoerse verlaag kon word.

Grafiek 2: Prima rentekoers en Inflasiekoers

Baie konserwatief

Die MBK is baie konserwatief en gee ’n hele aantal redes waarom hy van mening is dat die inflasiekoers hoër gaan neig in die komende jaar of twee en dat hy ’n benadering volg van om vooruit te kyk en betyds te reageer.

Die redes wat die MBK aanvoer vir sy siening om nie rentekoerse te verlaag nie, is dat hy verwag inflasie gaan in die loop van die jaar toeneem tot gemiddeld sowat 4,3% vir 2021, wat hoër is as sy voorspelling aan die begin van die jaar. Hy verwag dat inflasie volgende jaar tot 4,4% gaan styg.

Dit is steeds onder die gemiddelde van die teikenband waarna hy mik. Hy verwys veral na stygende brandstofpryse en stygende elektrisiteitstariewe, en sê dat hy voorkomend wil optree.

Die slegte nuus van die MBK se verklaring is dat sy ekonometriese modelle toon dat rentekoerse voor die einde van die jaar (derde en vierde kwartaal) verhoog kan word en weer in 2022.

Wat kommer wek, is dat ’n mens nie kan sien hoe banke meer tegemoetkomend gaan wees om finansiering te verskaf deur die loop van die jaar as die vooruitsig is dat rentekoerse kan styg nie.

Die feit dat kredietverlening aan die private sektor tot die laagste vlak in tien jaar gedaal het, dui op banke se konserwatiewe benadering. Finansiering gaan taai bly en dit sal goed wees om vroegtydig beplanning te doen en reëlings te tref, veral ook waar die situasie rondom die Land Bank nie verbeter nie.