Daar was dwarsdeur die inperkingstyd ’n drastiese toename in produk- en veediefstal, en die onwettige slag van vee en plundering op plase.

Mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, sê veediefstal het op sommige plekke in die land verdubbel teenoor wat dit normaalweg is. “In die gebied suid van Johannesburg in Gauteng en tot ongeveer by Harrismith en Viljoenskroon het die diefstal kwaai toegeneem. Ook uit die Magaliesburg-omgewing byvoorbeeld hoor ons van baie probleme.”

Boonop mag die veediefstalinligtingsentrum weens die inperking nie aktief binne die plaaswagstelsel werk nie. “Ons skryf die toename in veediefstal en -slagtings toe aan die feit dat ons nie onsself kan help beskerm nie.”

DALING

Hy sê in gebiede waar daar tradisioneel baie veediefstal plaasvind, soos die ou Transkei in die Oos-Kaap, het dit egter afgeneem. “Ons skryf dit toe daaraan dat baie mense vir die inperkingstydperk na hierdie gebiede teruggekeer het en nou is daar baie oë en ore wat waarneem.”

MIELIEDIEFSTAL

’n Ondersoek van Agri SA oor mieliediefstal in die Vrystaat toon dat boere daar al skade van tot R234 miljoen weens diefstal van mielies gelei het. Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van landelike veiligheid by Agri SA, sê die opname is in 23 dorpe in die provinsie gedoen en 43 boere het terugvoer gegee.

“Tussen hulle was daar 631 voorvalle van diefstal in sowat ’n sewe-weke-tydperk in Maart en April. Ván hierdie boere het 84% gesê hulle het nie eens die diefstal by die polisie aangemeld nie weens die onvermoë van die polisie om die sake te ondersoek.”

Hy sê die 43 boere se geskatte verliese was R1,8 miljoen en as ’n mens in ag neem dat daar sowat 3 500 boere in die Vrystaat is wat mielies produseer, kan die skade reeds so hoog as R234 miljoen aan mieliediefstal alleen wees. “Onder die boere wat aan die opname deelgeneem het, was daar twee opkomende boere by Edenville wat sê hulle het geen oes nie. Hul lande is leeg gesteel en hulle het die beeste ingejaag.”

UITGELEWER

Terwyl die regering sy voete sleep, is die boerderygemeenskap oorgelaat aan sy eie lot. “Dit is tyd dat die regering sy kant bring. Dit is nie meer besigheid soos gewoonlik nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, adjunk-president en voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee.

Versoeke aan die ministeries van polisie, landbou, en samewerkende regering en tradisionele sake vir die insluiting van plaaswagte as ’n noodsaaklike diens onder toesig van die plaaslike polisie, het tot dusver op dowe ore geval.

Mnr. Bheki Cele, minister van polisie, het vroeër gesê plaaswagte en gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) kan nie aan patrollies deelneem nie, want hulle is aan niemand verantwoordbaar nie en daar kan nie teen hulle opgetree word nie.

Dít terwyl die georganiseerde landbou reeds sedert die laat 1990’s deur sy plaaswagstelsel deel van landelike veiligheid is en goeie samewerking met die polisie ervaar ter ondersteuning van sigbare polisiëring en die toepassing van die landelike beveiligingstrategie.

TLU SA sê die onlangse openbare optrede van Cele is onverstaanbaar. Die minister was ook nog nie bereid om met georganiseerde landbou te skakel om ’n aanvaarbare oplossing te vind tot voordeel van misdaadbekamping in die landelike gebied gedurende die inperking nie.