Wetgewing ingevolge waarvan bevrore voedsel wat ontdooi het, weer gevries en steeds verkoop mag word, is eintlik bedoel vir ondernemings wie se vrieskaste per ongeluk afgeskakel het en nie vir invoerders om grootmaat-vleis te ontdooi en te herverpak om dán verkoop te word nie.

Só waarsku mnr. Marthinus Stander, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) se braaihoenderorganisasie, oor hoendervleispakke waarvan verskeie lande van oorsprong aangedui word. Ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing kan bevrore voedsel wat ná ontdooiing nie warmer as 8 °C geword het nie, weer gevries en verkoop word.

“Die huidige wetgewing is ontoereikend om mense, veral diegene met verswakte immuunstelsels, teen moontlike gevare te beskerm nie. Tussen die Departement van Landbou en die Depertament van Gesondheid is daar ook te veel grys gebiede sodat wetgewing oor verpakking en temperatuur misbruik kan word,” sê hy.