Die internet in die vorm van die nuwe aanlyn platform www.farmdirectsa.co.za skep ’n bemarkingswebtuiste vir boere wat meer kontak met die kopers van hul produkte soek.

Mnr. Jaco Badenhorst, een van die stigterslede van FarmDirect, sê ná net een maand van verkope is dit duidelik dat dié manier van verkoop ’n goeie toekoms in die landbou het.

“Die uniekheid van die platform lê daarin dat daar nie net produkte verkoop word nie, maar boere ook hul stories kan vertel. Verbruikers wil graag weet waar hul kos vandaan kom en hoe dit verbou of geproduseer is.”

Badenhorst sê baie verskaffers en kleinhandelaars dui maklik op die verpakking aan dat ’n produk vrylopend is of nie hormone ingekry het nie, sonder dat daar ’n manier is om dit te verifieer.

“Met FarmDirect kry verbruikers die geleentheid om regstreeks met die boer kontak te maak, en self die versekering te kry dat die betrokke boerderypraktyke wat die verbruiker verkies, gebruik is.”

Badenhorst meen die platform en manier van verkoop skakel die middelman uit en verseker dat verkopers meer geld in die sak hou. “Dit maak boerdery winsgewender en verseker sodoende volhoubaarheid in die landbouwaardeketting.”

Altesaam 70 boere landwyd het reeds op FarmDirect geregistreer en bied meer as 300 produkte direk vanaf die plaas. Maar dis mos wat lekker is van ’n internetwinkel: Daar is altyd plek vir nog voorraad en meer verskeidenheid. Badenhorst nooi boere dus om hul produkte op die aanlyn portaal te registreer.

Die mate waartoe boere op die portaal geregistreer het en die verkeer wat reeds op die portaal is, is bespoedig deur die koronaviruspandemie en verbruikers se gemak met aanlyn aankope.

Volgens Badenhorst het deelname aan die portaal ook tot gevolg gehad dat boere anders begin dink oor hul daaglikse take, hoe boerdery as besigheid moet bedryf word en die belangrikheid van ’n handelsmerk.

“Van die boere kry professionele hulp om ’n handelsmerk te ontwikkel en van hulle werk gereeld hul storie op die platform by soos hul kontak met verbruikers nuwe planne stimuleer.”

FarmDirect bied verskillende opsies om verkopers te help om produkte by verbruikers te besorg.

Eweneens kan boere ook die platform gebruik om graan, voer, strooi, vee en wild aan ander boere te verkoop, sê Badenhorst. “Ons wil die mark tussen boere uitbrei en hoop om later ’n verskaffingsbeen by te voeg wat boere help om aankope in groot maat te doen.”

Badenhorst en mnr. Helmut Drewes van Agrista, ’n landboutegnologie-onderneming, het FarmDirect op die been gebring. Badenhorst is ook ’n toerisme-entrepreneur en boer van Swellendam. Boere kan hulle profiel gratis op die webwerf laai en sommer dadelik aan verbruikers landwyd begin bemark en verkoop.

Navrae: Jaco Badenhorst, 087 012 5356