In dieselfde maand waarin onteiening sonder vergoeding as beleid aanvaar word, word SEB-kodes vir die landbou met groot geskal aangekondig. Boere gaan langtand aan SEB byt – en die uiteinde is dat ondernemings só gestruktureer gaan word om bates te beskerm.

Die Departement van Handel en Nywerheid het in Desember verlede jaar nuwe kodes vir swart ekonomiese bemagtiging vir die landbousektor (Agri SEB) in die Staatskoerant afgekondig. Dit behels kortliks dat boerderye in drie kategorieë ingedeel word. Dit is naamlik dié met ’n omset van minder as R10 miljoen, dié met ’n omset van R10 miljoen tot R50 miljoen en dan dié met ’n omset van meer as R50 miljoen.

Wat die landbou betref, speel die mate van swart eienaarskap in die boerdery, saam met vaardigheids- en verskaffersontwikkeling, ’n deurslaggewende rol in die uiteindelike SEB-status van die onderneming. Dié status is dan op sy beurt weer bepalend in dié mate wat boerderye met die kopers van hul produkte sake kan doen, maar veral ook in watter mate hulle met die staat – in die vorm van kontrakte, tenders of waterregte – kan handel dryf.

Boerderye met ’n omset van minder as R10 miljoen word outomaties as vlak 4-ondernemings beskou wat heeltemal aan AgriSEB-vereistes voldoen. Boerderye met ’n omset van R10 miljoen tot R50 miljoen word as kwalifiserende klein ondernemings beskou en moet, naas 25% plus 1 swart aandeelhouding (waarvan 10% vroue moet wees) ook aan óf die vaardigheids- óf die verskaffersontwikkeling se minimum vereistes voldoen.

Boerderye met ’n omset van meer as R50 miljoen word as groot ondernemings beskou en moet aan al drie die maatstawwe se minimum vereistes voldoen om Agri SEB-status te kan geniet.

Implikasies

Tabel 1 bevat inligting oor die omset van ’n aantal boerderye in die Oos-Vrystaat. Volgens die tabel is daar 27 deelnemende boerderye in dié studiegroep en was hul gemiddelde omset vir verlede jaar R19 miljoen. Daar is 12 boerderye met ’n omset van minder as R10 miljoen, 14 met ’n omset van R10 miljoen tot R50 miljoen, terwyl daar een boerdery met ’n omset van meer as R50 miljoen is.

Om verskeie redes, soos belasting en erfopvolging, is dié boerderye egter in onderlinge entiteite gestruktureer sodat die boerdery in ’n kombinasie van ’n trust, beslote korporasie of maatskappy en eenmansaak bedryf word. Dus toon tabel 1 ook aan dat dié 27 boerderye as 46 onderlinge entiteite bedryf word, waarvan die gemiddelde omset vir verlede jaar R11 miljoen beloop het.

Daar is 28 entiteite met ’n omset van minder as R10 miljoen, 17 met ’n omset van R10 miljoen tot R50 miljoen en steeds een entiteit met ’n omset van meer as R50 miljoen. Daarvolgens is 61% van die entiteite klein ondernemings wat outomaties ’n vlak 4-status sal geniet. Dan is daar 37% kwalifiserende klein ondernemings wat ’n aanpassing in hul eienaarskap en ook vaardigheids- óf verskaffersontwikkeling sal moet maak om hul Agri SEB-status reg te stel.

Laastens is daar 2% van die entiteite wat as groot ondernemings redelike groot aanpassings sal moet maak om hul Agri SEB-status in ooreenstemming met die riglyne te kan kry. Die strukturele samestelling van ’n boerdery sal dus ’n deurslaggewende rol in sy Agri SEB-vereistes speel.

Vertakkings

Die gebruik van omset as kwalifiserende vereiste is ietwat diskrimenerend teenoor sekere tipes boerderye. Sekere boerderyvertakkings het ’n hoë omset, met gepaardgaande hoë produksiekoste, terwyl ander vertakkings weer net die teenoorgestelde daarvan is.

Tabel 2 bevat inligting oor hoeveel vee-eenhede of hektare nodig is om die verskillende vlakke van omset vir Agri SEB-status te bereik. By ’n ekstensiewe vleisbeesboerdery sal 1 143 reproduserende vee-eenhede ’n omset van R10 miljoen genereer, terwyl 5 714 vee-eenhede nodig is om R50 miljoen se omset te behaal.

Daarenteen sal 63 ha se intensiewe aartappelverbouing onder besproeiing R10 miljoen se omset lewer, terwyl 317 ha daarvan ’n omset van meer as R50 miljoen gaan oplewer. Die soort vertakking, of kombinasies daarvan, sal dus ook ’n deurslaggewende rol speel in die kwalifiserende omset van boerderye vir Agri SEB se doeleindes.

Eienaarskap

Die nuut aangekondigde SEB-kodes vir die landbou lê baie klem op die mate van swart eienaarskap in boerderye. Dit spesifiseer egter nêrens watter boerderybates ter sprake is nie en gee nêrens riglyne oor hoe die verskillende ondernemingsvorme dié eienaarskap moet verdeel nie. Dit lyk of met die riglyne aanvaar word dat boerderye in beslote korporasies of maatskappye bedryf word.

Die eienaarskap van die onderneming kan dan in aandeelhouding van 25% plus 1 aan swart eienaars voorsien word, ongeag watter bates daar in die beslote korporasie of maatskappy is. In die geval eenmansake of trusts kan eienaarskap egter nie onderverdeel word nie. Die grafiek bevat inligting oor die ondernemingsvorms waarin boerderye in VKB se bedieningsgebied in die Oos-Vrystaat bedryf word.

Daarvolgens word 64% van die boerderye as eenmansake bedryf, terwyl 9% as trusts handel dryf. Byna driekwart van dié boerderye word dus in ’n ondernemingsvorm bedryf waarvan die eienaarskap nie onderverdeel kan word nie, ongeag wat die uitkoms van dié ondernemings se AgriSEB-vereiste op die grondslag van omset mag wees.

Net meer as ’n kwart van die boerderye word as ’n beslote korporasie of maatskappy bedryf waarvan die eienaarskap wél onderverdeel kan word.

Belastingvoordeel

Daar is ’n spesiale belastingtoegewing vir beslote korporasies en maatskappye wat by vervaardiging en/of produksie betrokke is. As dié klein sakekorporasies se jaarlikse omset minder as R20 miljoen is en al sy lede/aandeelhouers is natuurlike persone, is daar aansienlike gunstige belastingskale op so ’n entiteit van toepassing.

Dus word baie sulke entiteite juis om dié rede vir boerderydoeleindes geskep. Die onderverdeling van dié entiteite se eienaarskap, soos deur swart eienaarskap in die vorm van ’n werknemerstrust in te sluit, gaan dié entiteite van hul belastingvoordeel ontneem. By ’n beslote korporasie, waar die lede tot tien beperk word, gaan dit eweneens ’n probleem wees om die status as beslote korporasie te behou waar meer as tien werkers binne die eienaarskap ingesluit moet word.

Grond

Een doelwit van Agri SEB is om ’n substantiewe verandering in die rassamestelling van die eienaarskap en bestuur van bestaande én nuwe entiteite aan te moedig. By boerderye maak grond ongeveer 55% van die totale bates uit.

Aangesien dit ook aan boedel- en/of kapitaalwinsbelasting by die verwisseling van eienaarskap onderworpe is, is verskeie boerderye al só gestruktureer dat die grond in ’n trust is, terwyl die bedryfsgedeelte van die boerdery in ’n beslote korporasie of maatskappy plaasvind. Die nuwe SEB-kodes sê niks oor wat by eienaarskap in- of uitgesluit word nie.

Dus kan die bedryfsmaatskappy ’n leë dop wees wat al sy bates by ’n trust huur. Hoewel daar oënskynlik geen strafmaatreëls vir boerderye is wat volgens omset wél Agri SEB moet toepas, maar dit nie doen nie, is daar dus geen beletsel om sekere bates uit die bedryfsentiteit te sluit wat volgens omset wél aan Agri SEB moet voldoen nie.

Anders gestruktureer

Vir die bemagtigingsproses om suksesvol te kan wees, moet die Regering se afdwinging van ekonomiese maatreëls op die private sektor vir albei partye ’n finansiële voordeel inhou. Dit moet in wese ’n punt bereik waar die private sektor met geesdrif daaraan wil deelneem omdat die voordele daarvan omvangryk is.

In dieselfde maand waarin die nuwe Agri SEB-kodes aangekondig is, het die ANC op sy nasionale konferensie ook aangekondig dat hy die beginsel van grondonteiening sonder vergoeding as beleid aanvaar. Die vraag is dus waarom boere enigsins aan Agri SEB moet deelneem as dit die uiteindelike beleid van die ANC is om grond sonder vergoeding af te neem om só radikale, pleks van substantiewe verandering in die rassesamestelling van die eienaarskap en bestuur van bestaande én nuwe entiteite aan te moedig.

Soos sake staan, is 61% van boerdery-entiteite se omset minder as R10 miljoen en is 73% van boerdery-entiteite in eenmansake of trusts gestruktureer, wat die onderverdeling van eienaarskap onmoontlik maak. Boere gaan dus langtand daaraan byt om hul boerderye vrywillig só te struktureer dat die rassesamestelling daarvan tot “groter ekonomiese voordele” van Suid-Afrika as geheel kan wees.

Die teenoorgestelde gaan eerder gebeur, naamlik dat boere hul boerderye só gaan struktureer dat hul bates beskerm is en dat die onderlinge omset van elke entiteit minder as R10 miljoen beloop.

Dr. Philip Theunissen is ’n rekenmeester en landbou-ekonoom van Bethlehem.