Naspeurbaarheid is op almal se lippe. Dit is blykbaar wat al die belanghebbendes in die mark wil hê, en bowenal die verbruiker. Ons word vertel die tannie in Engeland wat die woltrui wil koop, is daarop ingestel om te weet presies van watter plaas hierdie skaap se wol kom en of daardie skaap reg behandel is deur haar leeftyd op die plaas.

Daar is niks fout daarmee nie en so is daar ook nie fout daarmee dat elkeen sy eie mening kan vorm oor die jongste ding in die wolbedryf wat almal aan die praat het en vir almal sakke vol geld gaan maak nie, naamlik RWS (Responsible Wool Standard). RWS is klaarblyklik die oplossing vir ons naspeurbaarheidsprobleem in Suid-Afrika.

Met die koms van RWS was en is talle wolboere baie opgewonde, aangesien premies van tot 15% belowe is vir gesertifiseerde wol. In tye soos vandag sal niemand twee keer dink om die kans aan te gryp om deel te wees van beter wolpryse nie.

Maar hoe meer ek begin delf het in die reëls en regulasies van die RWS, hoe meer het ek begin twyfel in die praktiese uitvoerbaarheid en monitering van hierdie standaarde. Elke keer wanneer ek nabetragting hieroor doen, het daar net meer vrae opgekom, waarvan die grootste is of RWS die einde van vrye keuse vir die wolboer is.

Hoekom moet die boer die proses finansier?

Hoekom moet die wolboer hom laat voorsê hoe om te boer deur ’n dokument en persone wat geen kennis dra van die plaas waarop die boerdery bedryf word nie? Die boer self sal mos weet wat sal werk en wat nie. Sou die derde, vierde of selfs sesde generasie nie juis die beste weet wat sal werk nie?

Indien naspeurbaarheid iets is wat die mark wil hê, hoekom is die boer ook die een wat die hele proses moet finansier? Hoekom moet die boer betaal vir sy evaluasie en jaarliks ’n tarief betaal indien dit iets is wat die mark wil hê? Ja, ons word vertel dat dit ’n vrywillige proses is, maar hoekom word daar nie oop kaarte gespeel met produsente oor wat die einddoel van die projek is nie?

Is enige produsente geraadpleeg en opinies gevra voor hierdie RWS-deur vir ons oopgemaak is en die proses aan die gang gesit is?

Is dit bloot ’n geldmaakstorie? Indien daar ’n premie is op die wol wat verkoop word, hoekom vat die makelaar kommissie op die volle bedrag? Hoekom word die premie nie as geheel uitbetaal aan die produsent nie? Is dit nie die produsent wat al die werk doen om al hierdie regulasies na te kom nie?

Gestel daar is wel ’n premie vir RWS-wol, hoekom is daar steeds nie-RWS-wol wat beter pryse op die weeklikse veilings behaal as RWS-wol? Is dit ’n vaste premie? Wat is die premie? Wat of wie bepaal die premie? Hoekom word die premie nie aangedui saam met die weeklikse Merino-aanwyser nie?

Sou dit nie ’n beter manier wees om produsente te oorreed om deel te raak van RWS indien dit verklaar word dat daar ’n 10%-premie vir gesertifiseerde wol is nie?

Sodra hierdie vraag oor premies aangeraak word, word ’n mens baie vinnig ’n tabel gewys waarop persentasies van premies vir verskeie mikrongroepe aangedui word.

Wat nog ’n vraag laat ontstaan: Hoekom verskil die premies tussen mikrongroepe? Is RWS nie net ’n produksiestandaard nie? Het dit nie ten doel om die produksiemetodes van die wolboer te beheer nie?

Wat gebeur met die inligting?

Ja, ek verstaan nie alle kopers betaal premies vir RWS-wol nie en daardie kopers koop dalk ’n kleiner persentasie van sekere mikrongroepe, maar die feit bly staan: RWS is nie daar om die gehalte of mikrons van my wol te kontroleer nie en ek behoort dieselfde premie te kry vir 22 mikron-wol as vir die 16 mikron-wol indien ek die produksiestandaarde van RWS kan handhaaf.

Hoekom is dit belangriker dat al die sparre in my binnedrade heel is en my krippe nie lek nie as dat ek ’n ordentlike skeerhuis het? Hoekom is ’n hortjiesvloer in ’n vanghok met ’n dak nie ’n vereiste vir toetrede tot ’n standaard wat daarop roem dat dit verantwoordelike hantering van vee voorop stel nie?

Hoekom is dit wat buite die skeerhuis gebeur, belangriker as dit wat daarbinne gebeur? Hoekom bepaal die makelaar en koper hom nie eerder by dit wat binne die veehanteringsgeriewe en skeerhuis gebeur nie en los die boer dat hy op sy plaas maak soos wat hy weet hoe om te boer?

Hoekom moet die boer ’n kaart van sy plaas indien met kampe en waterpunte en weidingstelsel en alles mooi uiteengesit? Wie wil dit weet en waarom?

Ek wil ’n voorspelling waag: Sodra ons die punt bereik waar ongeveer 70% van wolboere deel geraak het van RWS, gaan daar ’n besluit geneem word om verder geen ongesertifiseerde wol te koop nie en sodoende dwing hulle die laaste 30% om ook deel te word.

Wanneer ons daardie punt bereik, is daar nie meer omdraai nie, want ek glo die sogenaamde premie sal wegval en ons as wolboere sal voorgesê kan word om watter regulasies ook al na te kom, anders sal ons nie meer ons wol kan verkoop nie.

Die een ding wat my die meeste bekommer, is wat hierdie internasionale liggaam of standaard keer om oor ’n paar jaar vir ons voor te sê dat ons net aan voerkraal X of abattoir Z mag verkoop indien ons nog ons wol wil verkoop. Gestel daar is ’n premie van 10% en alle produsente raak deel van RWS – het ons in effek die wolprys met 10% gelig?

Skeerders in die steek gelaat

Ek het in 2010 begin skeer en my skeerloopbaan het my oorsee geneem en vir my deure oopgemaak en geleenthede geskep om ’n goeie bestaan hieruit te kan maak.

Toe ek begin skeer het, was ’n skeerder wat 100 skape per dag kan skeer, gesien as bogemiddeld. Met my eerste toer oorsee het ek gou agtergekom hoe ver agter ons is in hierdie verband.

Nieu-Seelandse skeerders moet minstens 200 skape per dag skeer. Goeie skeerders daar kan tot 500 skape per dag skeer. In Australië skeer goeie skeerders 250 tot 300 Merino-ooie per dag – en daar is nog taamlik plooie aan daardie skape.

Wat is die verskil? Ons geriewe en werkure. Ons het uitstekende skeerders in ons land wat ook 200 en 300 skape per dag kan skeer mits hulle vir agt ure produktief kan skeer en skeergeriewe op peil is.

RWS is geskryf met die aanname dat hierdie dinge reeds gereed is, maar in Suid-Afrika se geval is ons nog ver van daar. Ek het gehoop RWS sal hierdie probleem vir ons oplos, maar dit het die skeerder weer eens in die steek gelaat. Dit veroorsaak dat baie goeie en potensieel goeie skeerders die skeerbedryf verlaat en dat skeerders nooit hul volle potensiaal kan bereik nie.

Dit is nie genoeg om RWS lewensgroot op jou wolbale te skryf en dan slaap die skeerders steeds in die skeerhuis nie. Jy voldoen aan geen standaard indien jou vanghok drie opslaanhekkies buite in die grond voor jou skuur se deur is nie. Jy voldoen aan geen standaard indien die skeerder 20 meter moet loop om ’n skaap te gaan vang en haar dan weer 20 meter terug te vat net om in dieselfde vanghok as die ongeskeerde skaap terug te sit nie. Jy voldoen aan geen standaard wat skeer betref, as jy nie onderdakgeriewe het om skape oornag droog te hou of indien dit reën, ’n dag se skape droog te hou nie.

Nogtans word RWS-wol gelaai uit skeerhuise wat nie eens aan een van daardie drie aspekte voldoen nie. Dit maak RWS goedkoop. Die boer wat geld uithaal en sy geriewe opknap en regmaak, kry geen voordeel nie, aangesien die boer wat geen tyd, geld of moeite insit om sy geriewe reg te kry nie, ook RWS op sy bale skryf en in aanmerking kom vir die sogenaamde premie.

Stel self standaard op

Ek verstaan wol is ’n uitvoerproduk en dat sekere standaarde gehandhaaf moet word. Ek stel egter voor dat ons ons eie standaard opstel.

Kom ons betrek mense in die bedryf wat weet wat in die praktyk aangaan – die boere self, die skeerders self, die wolkopers en selfs die dierebeskermingsowerhede. Die slim mense in kantore is nie altyd die mense wat die beste weet van wat in alle omstandighede op die plaas sal werk nie.

Hoekom moet ons iets wat soveel tekortkominge het, gebruik wat duidelik nie vir toestande in Suid-Afrika geskryf nie. Ons is nou almal klaar met skool – “knip en plak” is nie meer ’n manier om iets gedoen te kry nie.

Ons is uniek omdat boere oor die jare moes aanpas by omstandighede en klimaat. Hoekom kan ons dus nie ’n standaard daarstel wat uniek tot ons omstandighede is nie?

Gee die wolboer sy keuse terug deur vir hom die kans te gee om ’n inset te lewer in dit wat met sy produk gebeur en ’n eie standaard daar te kan stel.

Suid-Afrika produseer van die wêreld se beste Merinowol en ons behoort beter pryse te kan kry vir ons wol sonder om voorgesê te word hoe om te boer deur mense wat nie al self in die Suid-Afrikaanse wolprodusent se skoene gestaan het nie. 

Mnr. Tienie du Plessis het grootgeword op ’n plaas by Steynsburg. Hy het in 2010 begin skeer – plaaslik en oorsee. In 2013 het hy sy eie skeerdiens in sy grootworddorp en naburige distrikte begin, en het die jaar daarna met Dohne-Merino’s begin boer.

Die menings van rubriekskrywers stem nie noodwendig ooreen met Landbouweekblad nie. Die tydskrif moedig gesonde debatvoering aan oor aktuele kwessies wat die landbou raak.