“Ons het besluit ons wil nie in Australië gaan boer nie, maar ons wil in Suid-Afrika bly,” sê mnr. Gielie Geldenhuys van Rheeboksplaat Farming Nominees digby Ceres. Sy seuns, M.L. en Cobus, beaam dit kopknikkend. 

“Ons het besef hier is ’n maatskaplike verantwoordelikheid in die land; elkeen van ons het ’n morele plig om grondhervorming te laat werk. Die regering kan dit nie alleen doen nie en hy het boonop nog nie ’n antwoord daarvoor nie. Toe ons tot daardie besef gekom het, was die res maklik,” vertel hy oor hul besluit om sowat 1 000 ha van hul grond te onderverdeel en verder in vennootskap saam met mnr. Tommy Mona met vrugte en vee daarop te boer.

Die Bambisane-boerdery in die Theronsberg-area het in Augustus die lig gesien, ná drie jaar se gesukkel met onder meer die regering en Land Bank om finansiering te kry. Uiteindelik het FNB tot hul redding gekom, met ’n lening (teen gunstige terme) én ’n lekker skenking.

Vir meer oor Bambisane-boerdery, maak seker jy woon PALS en Landbouweekblad se grondsimposium op Ceres van 14 tot 15 November by. Bespreek jou kaartjie hier en klik hier vir meer inligting. Kontak ook Jacolette Kloppers by Jacolette.kloppers@landbou.com

Kies die regte vennoot

Geldenhuys is in 2014 met sy voorneme om ’n grondhervormingsprojek aan te pak na mnr. Gerrit van Vuuren van die Witzenberg-PALS.

“Ek wou iemand werklik bemagtig. Daarom moes ons realisties wees oor die omvang en tipe projek.” Hulle het koppe bymekaar gesit en ’n week of wat later het Van Vuuren hom gebel met die nuus: Hy dink hy het die regte mens met wie Geldenhuys ’n projek kan begin.

Dié persoon was Mona, ’n bekende in die Ceres-gemeenskap danksy sy betrokkenheid as pastoor by die World Harvest Christian-kerk, ’n lid van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening, direkteur van PALS en Xhosa-opperhoof.

Mona, wat oorspronklik van Sterkspruit in die Oos-Kaap kom, woon al 35 jaar lank op Ceres, waar hy kontrakwerk vir boere gedoen het. Hy was voorheen deel van ’n LRAD-projek (die program vir die herverdeling van grond vir landbou-ontwikkeling) waar hy en 24 mede-aandeelhouers op 5 ha ’n bestaan uit groenteboerdery moes maak. Die grond was langs die Nduli-plakkerskamp. Diefstal en rioolprobleme het die projek uiteindelik gekelder. 

Mona het nie weer kans gesien om saam met soveel aandeelhouers te werk nie, maar wou sy eie stukkie grond bekom.

“Ek is gebore in die landbou. My pa het meer as 600 skape en 200 beeste gehad. Vee is my eerste liefde, want dit maak vrede in my hart.”

En toe hy die dag vir Geldenhuys ontmoet, het die Here vir hom gesê dis die regte man.

Terwyl die vennote gewag het vir die haakplekke om uitgestryk te word, het Mona solank ’n paar kursusse gedoen om sy kennis op te knap. Hy het onder meer sakebestuur- en finansiële bestuurskursusse voltooi. Foto: Lucille Botha

Geldenhuys vertel hoe hy en Mona koffie gedrink het en begin gesels het. “Ons het altwee so bietjie gedink oor die ding, en besef ons kan dit saam maak werk. Ek het net gevoel hier is ’n eerlike man met wie ek ’n pad kan loop. Ons het van die eerste dag af al lekker gesels en daar was van die begin af vertroue, wat die belangrikste is.”

Op daardie stadium het Geldenhuys reeds die grond geïdentifiseer wat hy bereid was om oor te dra. Hy sou sowat 1 009 ha van sy plaas Slangfontein (1 400 ha) vir die projek afsny. Die grond is in ’n maatskappy geplaas, waarvan Mona 51% van die aandele besit. Só is Bambisane – dit beteken “ons werk saam” – gebore. Daarop beoog hulle om met sowat 15 ha vrugte, Angusbeeste en Dormerskape te boer. Die plaas sal permanente werk vir sowat 20 mense skep. 

Geldenhuys het ook ’n mentorskapsooreenkoms van vyf jaar met Mona gesluit. Daarna kan Mona hulle uitkoop, maar in dié stadium kan albei sien hoe hul kinders nog eendag sy aan sy op die stuk grond gaan boer.

Talle struikelblokke oorwin

Die projek se eerste haakplek het gekom met die onderverdelingsproses.

“Ons het dit met staatshulp probeer regkry, maar ons het ons koppe gestamp in Pretoria. Ons volg toe die ou, tradisionele manier deur die Wes-Kaapse department van landbou, ons plaaslike department en ’n plaaslike landmeter, Claus Riding.”

Daarná het die finansiering gelol. Hulle het sowat R5,6 miljoen nodig gehad.

“Ná twee jaar waarin ons absoluut niks gevorder het met Land Bank nie – nie ’n enkele tree vorentoe gegee het nie – het ek een oggend net vir die bank gesê: Los alles, ons kan nie verder nie. Ons het by ’n doodloopstraat gekom,” vertel Geldenhuys.

Een van Bambisane-boerdery se nuwe boorde. Al die kultivars is tans hoog in aanvraag. Die oes sal binnelands, maar ook in Afrika en ander uitvoermarkte bemark word. Die vrugtemaatskappy Core is die boerdery se uitvoerder. Foto: Lucille Botha

Mona erken hulle het soms raadop geraak.

“Drie jaar is ’n lang tyd, o jinne.”? Geldenhuys moes begrotings tot vier keer oor doen en “sommige bome het al oud geraak in die proses. Ons het gedink ons sal iewers staatshulp kry, maar hulle kom hier, en dan raak hulle net weg.”

Uiteindelik het ’n banklening hulle deurgetrek.

“Gerrit het vir ons voelers uitgesteek na die bestuurder van die plaaslike FNB-tak en alles is toe deur FBN en FirstRand gedoen. Hulle het vir ons ’n lening en oortrokke gerief teen beter koerse aangebied, asook ’n geldskenking. Ek dink dis van die eerste projekte wat hulle so help,” vertel Geldenhuys.

“Niemand kan in hierdie tye meer ’n plaas gaan koop as hy nie ander geld het om dit mee te finansier nie. Die skenking het ons baie gehelp om van die grond af te kom, maar ons kan doen met nog ’n bietjie hulp. Dis nie maklik om ’n plaas van die grond af staan te maak nie . . . Die boere het nie die geld om sulke projekte te finansier nie en weens die droogte is kommersiële boere se beursies klein; daar sal ’n vorm van staatshulp moet wees.” 

Hy hoop as die regering sien hul projek is aan die gang, sal hy bystand verleen.

Aan ander boere wat soortgelyke projekte aandurf, sê hy: “As jy dink dit gaan ses maande kos, dit gaan nie. Dit gaan altyd twee keer langer wees as wat jy dink. Jy moet hare op jou tande hê. Die wiele draai stadig in die staatsdiens.”

Geduld en vasbyt

Maar aanhouer wen, en Geldenhuys het opnuut geleer wat geduld beteken.

“En van vasbyt! Moenie tou opgooi nie, daar is altyd ’n oplossing. Dís die grootste les wat ons geleer het. In die landbou kan jy radeloos wees, maar jy durf nie moedeloos wees nie.” 

Mona, wat die plaas bestuur, sê géén struikelblok kon hulle stuit nie.

“Die boerdery gaan nog my hele familie bevoordeel. Boerdery is nie ’n ding waaroor jy vandag droom en môre gebeur dit nie. Nee, dit kos tyd. As jy dié ding beoog, en jy dink jy gaan binne vyf jaar baie geld hê, moet jy weet dit is nie so nie. Dit kan tot tien jaar wees voor jy iets in jou sak het. Maar om te boer kan jy nie net een pad loop nie, jy moet ander paadjies ook loop, solank jy weet waarheen jy gaan.”

Die blinknuwe trekker wat Bambisane-boerdery kon koop danksy ’n skenking van FNB. By Geldenhuys en Mona is mnr. Klaas Fritz, trekkerbestuurder by die boerdery. Foto: Lucille Botha

PALS wérk

Sonder PALS sou hulle waarskynlik nie die projek van die grond af gekry het nie, sê Mona en Geldenhuys.

“PALS het seker nog ’n paar rimpelings wat uitgestryk moet word, maar dis die eerste model wat ek sien wat ek dink kan werk. Daar is ’n vaste struktuur en kundiges wat jou bystaan. As dit nie vir PALS was nie, sou ons ’n klomp foute gemaak het. Toe ons eers finansiering gekry het, het dit baie makliker gegaan en PALS het ’n groot rol gespeel.”

Vandag is Mona en Geldenhuys trots om hul nuwe boorde (en trekker wat danksy FNB se skenking gekoop is) te wys.

“Dié boerdery,” beduie Mona, “gaan nog baie ver gaan. Gielie se kinders gaan nog ’n pad loop saam met my kinders. Daarvan is ek baie seker.”

Hortgro