Deesdae kry ek gereeld navrae van lesers wat hul beleggings wil afkoop om hul skuld te betaal. Hulle sê die rentekoers op die skuld is hoër as die opbrengs op die belegging, en dat die druk op hul maandelikse uitgawes te hoog is. As ons net na die rentekoers kyk, blyk dit dat so ’n besluit sin maak: Betaal die skuld teen 10% af met ’n belegging wat teen net 8% groei.

Ongelukkig wys die somme dat die aflos van die skuld selde ’n goeie besluit is. Die rede waarom dit nie werk nie, is mense se manier van optree en dink wanneer dit by geld kom. Die oomblik wanneer ons ietwat van ’n oorskot in ’n maand het, verbeter ons ons lewenstyl. Dit is hoekom ’n salarisverhoging net vir ’n kort tydjie probleme oplos voor die probleme maar weer kop uitsteek.

Soos my vriend altyd sê: “Ek het nie ’n probleem met my salaris nie. Dit is my uitgawes wat die probleem is.” Ongelukkig verstaan min mense hier- die aspek. ’n Vriendin van my vrou het onlangs gesê haar man gaan nou vir skuldberading, want sy inkomste is nie genoeg nie.

Dít terwyl sy pas vir haar en haar kinders die duurste tramezzini’s en koeldranke by die skool se snoepie gekoop het. Die groot probleem hier is nie die gebrek aan inkomste nie, maar die gebrek aan ’n begroting. Voor jy nie presies besluit hoeveel jy beskikbaar het vir elke spesifieke uitgawe nie, sal geen inkomste genoeg wees nie.

Toebroodjies by die skoolsnoepie is nie verkeerd nie, solank daar net in die begroting spesifiek daarvoor voorsiening gemaak is. Hierdie gebrek aan ’n begroting en die gebrek aan behoorlike opleiding oor hoe om met geld te werk, is die twee grootste probleme met geldbestuur.

Die vraag is dus hoekom die afkoop van beleggings om skuld te betaal, nie werk nie. Die maklikste manier om dit te verduidelik, is met ’n voorbeeld (sien die tabel). Jan het ’n jaar gelede ’n motor ter waarde van R500 000 gekoop deur middel van ’n huurkoop. Dit moet oor 65 maande afbetaal word.

Die rentekoers op die skuld is 10% en die paaiement betaalbaar, is R10 000 per maand. Ná 12 maande is daar nog R426 700 uitstaande op die motor se skuld. Jan het ’n belegging wat oor die afgelope vier jaar teen 8% per jaar gegroei het. Hy wil die belegging afkoop en dan R9 500 van die paaiement op die motor vir die volgende 53 maande spaar.

Uit die tabel blyk dit helaas duidelik dat dit nie in hierdie geval voordelig is om die skuld af te los nie. Trouens, die syfers wys as jy nie 99% van die maandelikse paaiement gaan wegsit vir die hele termyn nie, gaan jy swakker daaraan toe wees. Ongelukkig wys die geskiedenis dit is selde die geval.

In die meeste gevalle word slegs ’n gedeelte van die paaiement weggesit, en in baie gevalle het ons gevind dat beleggers selde die paaiement vir die volle termyn wegsit. Onthou ook dat dit gegrond is op ’n aanname dat die belegging in die volgende vyf jaar swakker gaan groei as die rentekoers op die skuld.

Mits die belegging reg gestruktureer is, behoort dit nie die geval te wees nie. As jy dus doelgerig die volle paaiement spaar terwyl jy die skuld afbetaal, kan jy hierdie opsie oorweeg. Vir die res van ons is dit beter om eerder ekstra geld in ons beleggings te plaas as om ons skuld af te los.

Laasgenoemde gaan net jou lewenstyl verbeter en nie jou geldsake nie.

Adv. Ronald King is hoof van strategiese navorsing by PSG.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.