“Die implikasies vir boere wat groot kapitaaluitgawes aangegaan het op grond van water- gebruik wat later blyk onregmatig te wees en wie se watergebruik dan stopgesit word, is voor die hand liggend. Die risiko is nie die moeite werd nie,” sê mnr. Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne by Agri SA.

Regter R.E. Griffiths van die hooggeregshof in Mkhanda het op 13 Oktober beslis dat boere ingevolge die wet slegs van ’n waterreg op grond afstand kan doen wanneer ’n bepaalde lisensie-aansoek daarvoor in die vooruitsig gestel word en daar ’n onderliggende transaksie, hetsy die verkoop of skenking daarvan, tussen die betrokke partye is.

Rabie sê kopers en verkopers van eiendom moet hul huiswerk baie deeglik doen, veral ten opsigte van die wettigheid van watergebruik. “Kundige regsadvies moet beslis ingewin word wanneer onsekerheid bestaan.”

Onwettige watergebruik stel oortreders aan vervolging deur die staat bloot. “Natuurlik moet die staat ook sy kant bring rakende die interpretering en toepassing van die wet. Dit sluit in die afhandeling van die verifikasie en validasie van bestaande regmatige watergebruik, asook die daarstelling en bevoegmaking van opvangsgebied-agentskappe en plaaslike watergebruikersinstellings.”

WEES INGELIG OOR WET

Agri SA was ten nouste by die aanvanklike onderhandelings oor en die skryf van die wet betrokke, en was oor die jare ook betrokke by hofsake oor die interpretering en uitvoering van die wet. “Ons ervaring is dat veral kommersiële boere deeglik bewus is van die wet,” sê Rabie.

Besproeiingsrade en watergebruikersverenigings, asook organisasies soos die Suid-Afrikaanse vereniging van watergebruikersverenigings (SAAFWUA), met wie Agri SA ’n uitstekende werkverhouding het, doen baie om te help dat boere ingelig is.

“Waar boere nie kennis dra of volledig ingelig is oor die spesifieke bepalings ten opsigte van die oordraagbaarheid van watergebruiksregte nie, bepleit ons dat hulle onder meer by organisasies soos Agri SA aansluit en inskakel by plaaslike waterbestuursinstellings wat by SAAFWUA geaf- filieer is.

“Water is ’n deurslaggewende element van enige landbou-onderneming se risikobestuursprak- tyke,” sê Rabie.

ONSEKERHEDE

Hy raai boere aan om baie bedag te wees op die heersende onsekerhede wanneer hulle genader word met aanbiedinge vir die koop van water.

Die departement van water en sanitasie laat tans geen oordrag van watergebruiksregte toe nie sedert ’n departementele omsendbrief in Januarie 2018 in dié verband uitgereik is. ’n Uitspraak in Junie vanjaar deur ’n volbank regters in Pretoria het bevind dat regte wel oorgedra mag word, maar dat dit nie verkoop mag word nie. Die applikante in dié saak, onder meer SAAFWUA en boere, het teen die uitspraak geappelleer.

“Ons verwag dat die appèlhof finale duidelikheid oor die kwessie sal gee. Boere moet (intussen) baie versigtig wees en hulle deeglik vergewis van die huidige stand van sake,” sê Rabie.

Regskoste help dra

Griffiths het, teenstrydig met die Pretoria-uitspraak, beslis dat die wet wel voorsiening maak daarvoor dat waterregte deur een persoon aan ’n ander verkoop kan word, mits sulke transaksies aan wetlike voorskrifte voldoen.

Rabie sê Agri SA het namens sy lede ’n wesenlike belang ten opsigte van die kwessie van die oordraagbaarheid van watergebruiksregte, met of sonder vergoeding, in ooreenstemming met die bepalings van artikel 25 van die Nasionale Waterwet.

Agri SA is nie ’n regstreekse party tot die saak wat op appèl geneem is nie, maar dra by tot die regskoste van die partye van die geding aanhangig gemaak het. “Ons het ook ’n wesenlike bydrae tot die saak van die Wittewater-boerderye gelewer (die saak waaroor die Oos-Kaapse hooggeregshof beslis het).

“Ons stem heelhartig saam met die Oos-Kaapse hof se bevindinge oor die vergoedingselement wat gepaardgaan met die oordra van watergebruiksregte.

“Dit is heeltemal geoorloof ingevolge die Nasionale Waterwet en inherent deel van die kommersiële werklikheid van watergebruiksregte as eiendom,” sê Rabie.