Die betrokke weerstandige geen is in die meeste insekte resessief, maar in China is dominante bolwurmweerstandigheid teen Bt aan die toeneem. Net een verandering van ’n dominante mutasie is nodig om een van dié bolwurms weerstandig te maak.

Dit was die aansporing vir wetenskaplikes van die Universiteit van Arizona om die genetiese mutasie te vind wat katoenbolwurmruspes weerstandig teen GM-katoen maak.

Daar is nog nie genoeg van die weerstandige bolwurms om China se katoenproduksie te raak nie, maar die geen versprei vinniger as ander weerstandige gene. “As dinge só aanhou, gaan die mutasie probleme vir boere veroorsaak,” sê prof. Bruce Tabashnik van die departement insektekunde aan die Universiteit van Arizona.

Die navorsingspan het deur genomika en geenredigering die verandering in ’n enkele DNS-basispaar wat die weerstandigheid meebring, tussen honderde miljoene basispare in die bolwurm se genoom gevind. Die Crispr-tegniek is gebruik om een bolwurm met presisie geneties te redigeer om te bewys dat die geen wel Bt-weerstandigheid veroorsaak. “Dit sou nie moontlik gewees het sonder die nuutste ontwikkelings en vooruitgang in genetiese tegnologie nie,” sê Tabashnik.

Aangesien die genetiese basis vir Bt-weerstandigheid in bolwurms onbekend was, moes wetenskaplikes die insek se hele genoom bestudeer om die skuldige te identifiseer.

Die DNS van weerstandige en vatbare bolwurms is vergelyk, en die soektog is van 17 000 moontlike gene tot 21 gene verwant aan weerstandigheid verminder. Net 17 daarvan kodeer vir proteïen wat die bolwurmruspes produseer. Dié 17 gene van die vatbare en weerstandige ruspes is vergelyk, en daar was een reëlmatige verskil. “Daar was een posisie waar al die weerstandige bolwurms een DNS-basispaar gehad het, en waar al die vatbare bolwurms ’n ander DNS-basispaar gehad het.”

Die identifikasie van die basispaar was net die begin. Die tweede stap was om vas te stel of die enkele mutasie wel tot weerstandigheid gelei het. Die Crispr-tegniek is gebruik om die HaTSPAN1-geen presies te verander. Toe die navorsers die geen in weerstandige bolwurms ontwrig, het hulle heeltemal vatbaar vir Bt geraak, terwyl vatbare bolwurms weerstandig geraak het ná die byvoeging van die mutasie tot hul DNS.

Die laaste stap was om die hipotese te toets dat dié betrokke mutasie tot weerstandigheid teen Bt-katoen op lande bydra. Dit is gedoen deur duisende bolwurmmotte wat vanaf 2006 tot 2016 versamel is, vir die mutasie te toets. Die navorsers het gevind dat die frekwensie van die mutasie in dié tyd met ’n faktor van 100 toegeneem het vanaf 1 uit 1 000 tot 1 uit 10.

Hoewel daar nog nie genoeg van die weerstandige bolwurms is om China se katoenbedryf te knou nie, is dit wel vroeg genoeg vir boere om hul benadering te verander en Bt-weerstandigheid teen te staan.

Meer inligting: https://goo.gl/K99PqK

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.