NOORSDORING

Gewone naam: Noorsdoring (voetangel, vingerpol)

Wetenskaplike naam: Euphorbia aggregata

Familie: Euphorbiaceae

Hierdie saamgestelde plant bestaan uit ’n groot aantal byna regopstaande, harde, sukkulente stamme wat regaf duidelik driehoekig gegroef is. Lang, skerp, bruin tot perskleurige dorings kom op die boonste dele van die stamme tussen die groewe voor. Die stamme is groen, maar by ouer plante raak dit amper pers.

Die onderste deel van die stam is sonder dorings, grys van kleur en dunner as die boonste deel. Die stamme is só dig teen mekaar gedruk dat die plant in sy geheel lyk soos ’n koepelvormige “kussing” wat met dorings beskerm is. Die stamme is vertak, maar elke tak lyk soos elke ander tak. Die plant is dus besonder reëlmatig.

So ’n saamgestelde plant word tot 180 cm in deursnee en in die middel byna 90 cm hoog. Soms vrek so ’n groot plant in die middel en vorm dan ’n ring.

Die stamme bevat melksap. Dit is kenmerkend van die Euphorbia-soorte. Daar is geen blaartjies aan die stamme nie, behalwe enkele in die jong stadia. Die plant is ’n geharde, droogtebestande sukkulent, maar die wortelstelsel is swak ontwikkel. Die sappige stamme dien as vogopbergingsorgane.

Die noorsdoring blom gewoonlik in die lente en ook ná droogtes wat in die groeityd gebreek word. Die blommetjies vertoon soos knoppies en kom aan die punte van die takke voor. Enkele saadjies word in klein kapsules voortgebring.

Die plant kom in die suidelike Karoogebied voor en word noordwaarts tot in die Vrystaat aangetref. Dit groei op dorre vlakteveld sowel as rante. Dit verkies egter sanderige, goed gedreineerde grond. Die teenwoordigheid van die plant dui geen weidingstoestand aan nie. Dit is wel ’n aanduiding van droë tot dorre grond.

Vanweë die dorings is die plant beslis nie maklik vreetbaar nie. Grootvee skraap soms die dorings met hul kloue af en vreet dan die takpunte. In uitsonderlike gevalle vreet skape die plant. Die noorsdoring kom nooit in groot getalle voor nie. Soms vorm dit net beperkte kolonies. ’n Noorsdoringplant neem jare om ’n “kussing” op te bou.

Die plakkie (Cotyledon orbiculata) kan as gevolg van sy sukkulente eienskappe droogtes oorleef, maar dit het geen weidingswaarde nie en word selfs as giftig bestempel.

PLAKKIE

Gewone naam: Plakkie (hondeoorplakkie, kooltjie, kofrie, varkoor, varkiesblaar, varkore, pig’s ears)

Wetenskaplike naam: Cotyledon orbiculata

Familie: Crassulaceae

Die plakkie is ’n sukkulente plant van ongeveer 25-80 cm hoog. Soms is dit klein – veral in die koue berggebiede – maar andersins is dit ’n groterige bos. Die stam is groenerig, vertak, en soms met ’n dun, afskilferende, gryskleurige bas bedek.

Die wortelstelsel is stewig, hoofsaaklik vlak, en bestaan uit lang, veselrige wortels wat fyn vertak is. Die blare is groot, dik, sappig en grysgroen tot blougroen van kleur. Hulle word deur ’n duidelike persrooi rand omsoom.

Die plakkie blom gewoonlik in die somer, herfs en vroeë winter. Met blomtyd word dik, groen tot rooipers blomstele gevorm en aan die uiteindes word ’n aantal onderstebohangende, helderrooi, wasagtige blomme gedra. Die blomme is uitgerek klokvormig. Baie saadjies word per blom gedra.

Die plakkie kom wyd versprei voor, maar is gewoonlik yl versprei waar dit voorkom. Dit word in gras- sowel as bossieveld aangetref en skuil meestal in die basis van ’n ander bos, of groei teenaan ’n graspol of soms tussen klippe. Die plakkie kom langs die kus voor, in bos- en spekboomveld en bergstruikveld. Dit word ook in die Sneeuberggebiede in suurpolveld aangetref. In laasgenoemde veld word dit nooit ’n groot plant nie.

Dit verkies sanderige, droë grond. Die plakkie kan vermeerder met die agteruitgang van die veld. Die plant vermeerder veral ná droogtes en gedy skynbaar op reën wat gedurende die koeler maande van die jaar val. As gevolg van sy sukkulente eienskappe is die plant goed in staat om droogtes te oorleef.

Die plakkie het geen weidingswaarde nie en word selfs as giftig bestempel.

Gousblom of tondeldoek (Arctotheca calendula) is smaaklik en skape vreet die blomme geredelik.

GOUSBLOM/TONTELDOEK

Gewone naam: Gousblom (tonteldoek, botterblom, marigold)

Wetenskaplike naam: Arctotheca calendula

Familie: Asteraceae (asterfamilie)

Dié plantjie is ’n kruidagtige, platgroeiende opslagplant, sowat 25-45 cm in deursnee. Die blare straal uit vanaf die verkorte stam, direk op die grondoppervlak.

Daar is ’n kort, dik penwortel. Die blare is groot, plat, diep ingekeep en groen tot liggroen.

Hierdie opslagplant blom gewoonlik in die vroeë lente, maar kan met gunstige reënval ook in die voorsomer, somer en herfs blom.

Die blomme is groot, geel en tipies sonneblomagtig. Dit word aan die eindpunte van lang, dun, effens perskleurige stele gedra wat by die sentrale deel van die plant uitgroei.

Meestal word twee tot vyftien blomme per plant voortgebring. Die ryp saadjies word deur die wind versprei. Ná die saad ryp geword het, verdroog die plant en vrek.

Dié baie bekende plantjie kom feitlik reg oor Suid-Afrika voor. Dit slaan gewoonlik op ná goeie winter- en lentereën.

Die gousblom kom veral op sanderige grond voor. Dit kan egter in ’n groot verskeidenheid grondsoorte groei, behalwe in egte brakveld en swaar grond. Dit word gewoonlik met yl grasveld en gemengde gras-bossie-veld geassosieer.

Die plant is smaaklik en skape vreet die blomme geredelik. Die blaargedeeltes is minder smaaklik, maar sal gevreet word. Waar die gousblom in groot hoeveelhede voorkom, kan dit tydelik aansienlik tot die weiding bydra. In tuine word dit as ’n onkruid beskou.

Dié opslagplant dui op geen bepaalde weidingstoestand nie. Aanduidings is egter dat dit meer dikwels voorkom waar weidingstoestande gunstig is.

Kry die toepassing! Jy kan nou foto’s en beskrywings van 250 karoobossies en -grasse op jou slimfoon sien. Laai die gratis Karoobossie-toepassing op jou selfoon af deur die Google Play Store of die Apple iStore te besoek en vir “Nama-Karoo Plants” te soek.