Tecoma stans L. (Bignoniaceae), ook bekend as geelklokkies, is een van vele indringerplante wat in die 1800’s as sierplante na Suid-Afrika gebring is.

Dit is ’n immergroen boom of struik wat inheems tot Mexiko is. In Suid-Afrika het dit nie natuurlike vyande nie en het dit ’n indringer geword, geklassifiseer as kategorie 1b volgens die regulasies van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit.

Geelklokkies (Tecoma stans) met geel blomme en lang peule. FOTO’s: LULAMA MADIRE
Die volwasse Mada polluta.

Geelklokkies dring oop veld, versteurde gebiede, die kante van paaie en vleilande binne. Dit lewer duisende lewensvatbare, ligte, papieragtige, gevleuelde sade op wat maklik deur wind en water versprei word. Geelklokkies het al in die meeste provinsies, behalwe die Vrystaat en die Noord-Kaap, gevestig en versprei steeds verder.

Dié indringerplant verander die ekostelsel en suig baie van die land se kosbare water op. Geen onkruiddoders is geregistreer om dit te bestry nie, en wanneer dit afgekap of afgebrand word, ontwikkel dit verskeie nuwe stamme. Dié indringer verminder ook inheemse biodiversiteit, beïnvloed die beskikbaarheid van water en verlaag die gehalte van grondvoedingstowwe.

Die Landbounavorsingsraad (LNR) het ’n skilpadkewer, Mada polluta (Coleoptera: Coccinellidae), in Mexiko versamel en in kwarantyn ingevoer vir verdere ondersoek en toetse om die geskiktheid daarvan as ’n biologiese bekampingsagent vir geelklokkies te bepaal.

Mada polluta se vreetskade.

Volwassene kewers én larwes voed op die blare tot slegs die are oorbly. Die kewer is as geskik en doeltreffend vir die biologiese bekamping van geelklokkies in Suid-Afrika bevind en is in Desember 2013 uit kwarantyn gestel. Sedertdien is dit in verskeie provinsies losgelaat. Dit blyk dat vleilande ideaal is vir hulle om goed te vestig.

In November 2016 is M. polluta vir die eerste keer in Oos-Londen losgelaat. ’n Jaar ná die loslating was dit goed gevestig en die aantal volwassenes en onvolwasse stadiums wat gevind is, het aansienlik vermeerder. Die verspreidingsafstand was meer as 50 m vanaf die punt van loslating.

Die kewers het beduidende blaarskade van 82% veroorsaak en peule aan die beskadigde plante het aansienlik verminder. Die kewer val saailinge én groot bome aan. Volgens voorlopige resultate is dit duidelik dat M. polluta baie druk op Tecoma- besmettings in die Oos-Londense studiegebied uitoefen.

Meer studies sal uitgevoer word om die impak wat die kewer op dié gebied het, te bepaal, en die verspreidingsafstand sal gemoniteer word. Die kewer sal in nóg beskermde gebiede losgelaat word om te verseker dat dit in ’n aantal gebiede in dieselfde provinsie in die veld bestudeer kan word.

Lulama Madire is ’n navorser by die LNR se Instituut vir Plantbeskerming.

NAVRAE: E-pos: MadireL@arc.agric.za; tel. 012 808 8000.