Die groen vingers van ’n oupa, die waagmoed van sy twee kleinseuns, twee mentors wat geleenthede vir ’n woestynvrug in ’n droë landstreek skep, en ’n Bloemfonteinse ingenieur wat met ’n eiesoortige ontwerp vorendag gekom het. Dít is die bestanddele wat bygedra het tot ’n vernuwende boereplan op die plaas Nooitgedacht naby Jagersfontein in die Vrystaat.

Die Kotzé-familie boer al sewe geslagte lank daar met skape, beeste, lusern en wild. Op pad na Nooitgedacht se opstal lê lappe turksvyboorde oopgesprei in die veld. Die rooi turksvy, of beesturksvy soos dit ook bekend staan, is nie so gewild om te eet soos sy groen of geel eweknieë nie, maar sy groot hoeveelheid pitte maak dit ideaal om een van die turksvyplant se winsgewendste produkte te verskaf.

Die olie wat uit die pitte gepars word, is baie gesog in die kosmetiese bedryf, maar daar is ook ander gebruike, vertel mnr. Michiel Kotzé. Saam met sy neef WJ het hy begin verlede jaar die plaas se turksvyboorde kommersieel begin benut. “Die olie bevat hoë vlakke van vitamien E, wat baie goed vir jou vel is en dus een van die hoofbestanddele in skoonheidsprodukte, soos verjongingsrome, is. Die olie het ook helende eienskappe, byvoorbeeld om brandwonde te behandel,” sê Michiel.

Die turksvyboorde op Nooitgedacht is destyds deur Michiel en WJ se oupa, wyle mnr. Giel Kotzé, geplant. Sy kleinseuns reken hul oupa sou nooit kon dink dat hulle eendag die pitte sal oes nie. “Hy het sedert die 1960’s stelselmatig turksvye aangeplant vir veevoer en skuiling wanneer die skape geskeer is en dit koud word. Hier is nie natuurlike skuiling vir die skape nie.”

WJ vertel hul oupa was bekend om sy groen vingers, en hy het oor die jare tot 60 ha turksvybome geplant. Vandag is sowat 40 ha daarvan oor. “Dit het my in die droogtetye opgeval dat die turksvye byna nie geraak is nie. Dit groei juis goed op die dele van die plaas waar ander plantegroei nie aard nie, soos die vlakker dele waar dit klipperig is en waar jy normaalweg net steekgras sou kry.”

Toe WJ in 2017 as deel van ’n veekundekursus ’n diversifikasieprojek moes aanpak, het hy ’n sakeplan uitgewerk om die turksvye by hul boerdery te integreer. Die neefs het toe besluit om sy plan uit te voer. Só het hul maatskappy, Mokhoraan Prickly Pear Products, ontstaan. “Mokhoraan was ons oupa se Sotho-naam. ’n Korhaan is ’n voël wat hier in ons omgewing baie bekend is, en hy stap vinnig deur die veld. Só was ons oupa – haastig en energiek. Met dié naam eer ons sy nalatenskap.”

Hulle het gaan kers opsteek by dr. Danie van Tonder, ’n Vrystaatse turksvyboer wat jare gelede reeds die moontlikhede raakgesien het om turksvypitolie te oes. Hy pars die olie uit die pitte en het ’n aantal buitelandse en plaaslike kopers vir die turksvypitolie bekom. Die pitte wat Mokhoraan lewer, word op kontrak aan Van Tonder verkoop.

Verlede jaar, die eerste produksiejaar, is 625 kg pitte gelewer. Dit lyk egter of vanjaar selfs voorspoediger sal wees. Michiel vertel hulle het vanjaar reeds 4 000 kg pitte geoes – en daar is nog twee boorde om klaar te pluk.

Mokhoraan neem in Januarie sowat tien deeltydse werkers in diens om die turksvye te oes. Die langtermyndoelwit is om permanente werkgeleenthede te skep. foto: MICHIEL KOTZÉ
Die rooi turksvypulp word op koringkaf uitgegiet, waarna dit uitgedroog word. Dié verrykte produk word as veevoer gebruik. foto: Vida Booysen

WERKSKEPPING

Die turksvye word deur sowat tien seisoenswerkers met die hand gepluk. Gewapen met knyptange en beskermende klere takel hulle in Januarie die turksvybome. Dit is geen wonder nie dat Michiel en WJ die werkers as Mokhoraan se belangrikste bate beskou. “Sonder die arbeid sou ons niks kon doen nie. Ons hoop om in die toekoms deur dié projek meer werkgeleenthede te skep.”

Die turksvykultivar op Nooitgedacht is gelukkig weerstandig teen plae soos die Cactoblastis-mot en cochenille (skarlakenluis). Dit ryp ook nie maklik dood nie. “Tot ons verbasing het ons agtergekom die vrugte bevat ongeveer dubbeld die hoeveelheid pitte as dié van die gewilde Moradu-plant. Boonop pars die pitte net mooi dubbeld die hoeveelheid turksvypitolie as wat normaalweg uit ander pitte gekry word.”

Die kratte geplukte turksvye word met ’n wa en trekker vervoer na die verpulpingsmasjien wat gerieflik onder ’n skaduboom buite ’n skuur staangemaak is. Die masjien wat die pitte van die pulp skei, is deur mnr. Fritz Teseling ontwerp en deur Roastech in Bloemfontein gebou. Die masjien bestaan uit twee dele: ’n verpulper en ’n borsel. Die vrugte word uit die kratte aan die bokant van die masjien gegooi, waar dit tot ’n fyn pulp gesny word deur ’n stel vinnig draaiende lemme. Omdat die turksvypitte so hard is, bly dit ongeskonde.

Van daar vloei dit af na die borsel. Die borsel draai teen ’n skerm waardeur die pitte nie kan val nie, maar die pulp en stroop wel. Die pulp word eers afgetap, waarna die pitte deur ’n straal water skoongewas word voor dit in ’n opvanghouer beland. Daarna word enige oortollige vloeistof gedreineer voordat die pitte op droograkke uitgesprei word totdat dit droog genoeg is om te verpak.

“Die masjien se ontwerp is van so ’n aard dat die pulp nie met water in aanraking kom nie en sodoende vir ander produkte gebruik kan word,” sê Michiel. Dit is belangrik, want daar moet voorkom word dat die pulp gis en onbruikbaar raak. Die pulp word met ’n ondergrondse pyp na ’n opvangtenk in die nabygeleë skuur gepomp. Die tenk word met ’n jassie (nat lap) bedek sodat die pulp nie warm word nie. Die twee turksvy-entrepreneurs giet die rooi pulp op koringkaf uit, laat dit uitdroog en gebruik dié verrykte produk as veevoer.

Daar is tans meer pulp as wat Mokhoraan kan verwerk, maar dit het beslis waarde wat ontgin kan word, sê Michiel. “Die gedagte met die pulp op die kaf is juis dat dit ’n konsentraat is en dat dit een van die bestanddele van jou voermengsel kan word. Omdat dit so hoog in energie is, kan jy jou mielie-komponent met die stroopbedekte kaf vervang.”

Hulle ondersoek die moontlikheid om in die toekoms die stroop te pasteuriseer en dit effens te verdik sodat hulle melasse daarvan kan maak. Dit kan dan soos konvensionele melasse wat van suikerriet vervaardig word, as aanvulling vir beeste gevoer word.

Die kratte geplukte turksvye word met ’n trekker en wa na die verpulpingsmasjien vervoer. Daar word soveel moontlik van die plaas se bestaande toerusting en infrastruktuur gebruik. foto: Vida Booysen
Die turksvye word uit die kratte aan die bokant van die verpulpingsmasjien gegooi, waar dit tot ’n fyn pulp gesny word deur ’n stel vinnig draaiende lemme. foto’S: Vida Booysen

WAARDE VAN BLARE AS VOER

Die turksvyblare self hou heelwat moontlikhede in, hoewel hulle dit nie tans verwerk nie. “Ek is oortuig daarvan dat daar groot waarde in die gebruik van blare as voer lê. Dis hoog in proteïene en energie, hoewel die vlakke daarvan van plant tot plant wissel,” sê Michiel. Een probleem is dat turksvyblare moeilik en tydsaam uitdroog. Omdat die blare so vol water is, is dit swaar en moeilik om te hanteer. Jy moet dus honderde ton snoei en verwerk om miskien 50 ton voer te hê. Dis ontsettend arbeidsintensief.”

Hul ander groot mentor, dr. Herman Fouché, dosent aan die Universiteit van die Vrystaat se fakulteit natuur- en landbouwetenskappe, help ook met die soektog na kostedoeltreffende maniere om die totale turksvyplant te benut en die nodige masjinerie te bekom. Fouché is bekend om sy navorsing oor die potensiaal van turksvye.

Volgens die Kotzés sou die vordering wat hulle die afgelope twee jaar gemaak het, nie plaasgevind het sonder die ondersteuning van Fouché en die verskaffing van ’n mark deur Van Tonder nie.

Die neefs ploeg in dié stadium hul wins terug in die onderneming, en sê hulle kon ná die eerste jaar hul insetkoste verhaal. “Met die uitsondering van die pulpmasjien en ’n paar bykomstighede gebruik ons die plaas se reeds gevestigde toerusting, masjinerie, werktuie, voertuie en trekkers. Dit word dus nie by die som getel wanneer beginkoste bereken word nie.”

Michiel glo die turksvyplant het groot potensiaal en boere kan gerus daarin belê, veral met die probleme van klimaatsverandering in gedagte. “Maar doen eers jou huiswerk en verstaan waarmee jy werk,” is sy raad. “Vir Mokhoraan in die konteks van die bestaande Kotzé-boerdery blyk dit uiters winsgewend te wees.”

Só lyk die turksvypitte nadat dit op droograkke uitgesprei en gereeld omgehark is om uit te droog.

LBW vra . . .

MNRE. MICHIEL EN WJ KOTZÉ

Watter tegnologie is onmisbaar?

Buiten ons pulpmasjien, trekker en wa is ons werkers ons boerdery se belangrikste bate. Sonder hulle sou ons niks kon verrig nie.

Wat is die beste raad wat jy al GEKRY HET?

WJ: Luister na ouer mense se raad en planne. Moenie net jou eie kop volg nie. MICHIEL: My pa, Willie, het gesê: “Maak nie saak wat jy in die lewe doen nie, doen dit na die beste van jou vermoë. Só sal jy altyd werk hê.”

Wat is jul groot struikelblok?

Die turksvye hier by ons word oor Kersfees en Nuwejaar ryp. Eensklaps, binne twee weke, is alles gelyk ryp. As ons nie vinnig oes nie, verloor ons ’n gedeelte daarvan.

raad vir ander entrepreneurs?

As daar ’n geleentheid op jou pad kom, maak dadelik daarvan werk en ondersoek die moontlikhede. Tree vroegtydig op in jou boerdery.

NAVRAE: Mnr. Michiel Kotzé, e-pos: michielakotze@gmail.com

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.