Klimaatsverandering gaan na verwagting fynbos ernstig knou. In die jongste nuusbrief van die Flower Valley-bewaringstrust in die Overberg, skryf me. Lesley Richardson, uitvoerende direkteur, daar is ses redes waarom klimaatsverandering so ’n groot bedreiging vir die toekoms van fynbos inhou.

Beramings wat wetenskaplikes as deel van die Wes-Kaapse departement van landbou se SmartAgri-projek gedoen het, toon die fynbosbioom se omvang kan met 51% tot 65% krimp weens klimaatsverandering. Navorsing toon ook die rykdom plantsoorte kan verminder weens warmer en droër weer, veranderde brandpatrone en indringerplante.

Klimaatsverandering is boonop sleg vir besigheid omdat die bevolkings van fynbossoorte wat wild gepluk word, kan verklein, hul habitatte gefragmenteer kan word en die gehalte van die blomme en loof kan verswak. Richardson skryf die nadelige uitwerking van die droogte van die afgelope drie jaar op die bedryf is reeds groot.

Cape Flora SA, die bedryfsorganisasie van die Kaapse veldblombedryf, reken fynbos verskaf ’n manier om ’n bestaan te maak aan 20 000 mense. Om fynbos te oes, is van die enigste inkomste vir sommige gesinne in die landelike dele van die Wes-Kaap. Sonder fynbos gaan die gemeenskappe baie swaar kry.

Fynbossaad benodig vuur om te ontkiem, maar daarna moet dit reën sodat die saailinge kan ontwikkel. Met weerpatrone wat weens klimaatsverandering gaan verander, sal fynbos sukkel om in sekere dele van die provinsie te groei en indringersoorte kan oorneem. As die Wes-Kaap droër en warmer word en watervoorraad in die provinsie se damme onsekerder word, sal grondwater ál meer ingespan word om in die vraag na water te voorsien.

Die verandering kan sekere plantsoorte van die Kaapse Blommeryk, wat afhanklik is van strome wat deur waterdraers gevoed word, benadeel. Hoewel dit nie heeltemal duidelik is wat die uitwerking van ’n groter onttrekking van grondwater op fynbossoorte is nie, is ekoloë baie bekommerd daaroor.

“Van die bedreigings is onvermydelik, maar ander, soos die uitroei van indringerplante en volhoubare oplossings vir watergebruik, kan help om die uitwerking daarvan te versag,” sê Richardson.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.