Die impak wat klimaatsverandering op grondwater het, is in groot onsekerheid gehul. Wêreldwye vooruitskouings oor die uitwerking van klimaatsverandering op water toon dat wisselvalliger reënval groter onsekerheid oor riviervloei en groot veranderinge in die aanvulling van grondwater kan meebring.

Wat in die toekoms gaan gebeur, sal grootliks afhang van plaaslike geologiese en hidrologiese kenmerke en die mate waarin grondwater in ’n spesifieke gebied onttrek word. Prof. Anil Markandya, navorser by die Basque-sentrum vir klimaatsverandering in Spanje, skryf in ’n oorsigverslag vir die Wêreldbank dat inligting oor die uitwerking van klimaatsverandering op grondwater taamlik beperk is, maar dat navorsing sedert 2007 toegeneem het.

Anil se verslag, State of knowledge on climate change, water and economics, meld verder dat die water wat afkomstig is van sneeu en gletsers wat smelt, baie van die wêreld se riviere voed en help om die grondwatervoorraad aan te vul.

’n Toename in temperatuur weens klimaatsverandering kan egter veroorsaak dat dit minder sneeu en gletsers kleiner word en watervoorraad só beperk word. Hy haal die hoofstuk oor varswaterbronne in die 2014-verslag van die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering aan en beklemtoon dié belangrike bevindings: In enige spesifieke klimaatscenario kan daar verwag word dat gebiede waar projeksies toon dat die totale afloop gaan toeneem, die gebiede is waar die aanvulling van grondwater sal toeneem.

Waar projeksies toon dat die totale afloop gaan afneem vanweë laer reënval, gaan die aanvulling van grondwater afneem. ’n Verandering in die intensiteit van reënval kan die aanvulling van grondwater in humiede gebiede verlaag as die indringingsvermoë van die grond oorskry word, maar dit kan ook toeneem vanweë die vinniger syfering van water deur die wortelsone en die gevolglike laer evapo- transpirasie in halfwoestyngebiede.

’n Afname in sneeu weens hoër temperature kan lei tot ’n laer aanvulling van grondwater, selfs al bly die reënval konstant. Grondwater aan die kus kan deur veranderinge in waterafloop én die styging van die vlak van die oseaan beïnvloed word. Veral onbegrensde waterdraers kan uiteindelik deur soutwaterindringing geknou word.

VRAAG NA WATER

Die verhoogde vraag na water (veral vir besproeiing) vanweë wisselvalliger reën, ’n toename in temperatuur, bevolkingstoename en ekonomiese groei moet ook in berekening gebring word wanneer die impak van klimaatsverandering op grondwater bespreek word.

Só skryf dr. Blanca Jiménez Cisneros, direkteur van waterwetenskap by Unesco, en ander wetenskaplikes in die varswaterhoofstuk van die 2014-verslag van die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering. Blanca en haar medeskrywers sê aangesien klimaatsverandering in sekere gebiede kan veroorsaak dat oppervlak- en grondwater minder word, kan mededinging om water toeneem tussen verskillende gebruikers, soos die landbou, ekostelsels, menslike nedersettings, nywerhede en die opwekking van elektrisiteit.

Dit kan sodoende energieverskaffing en voedselsekerheid beïnvloed. Hulle het verder gevind dat dit nie maklik is om veranderinge in die vlak van grond- water bloot aan klimaatsverandering toe te skryf nie omdat veranderinge in grondgebruik en die gevolglike onttrekking van grondwater ook ’n invloed kan hê.

Dit is nie bekend hoe klimaatsverandering reeds die onttrekking van grondwater beïnvloed nie. “Die waarneming van veranderinge in grondwaterstelsels én die toeskrywing daarvan aan veranderinge in die klimaat is raar vanweë ’n gebrek aan toepaslike waarnemingsboorgate (observation wells) en min navorsing,” sê Blanca.

VERANDERING IN PLANTEGROEI EN GRONDGEBRUIK

Mnr. Phil Hobbs, senior hidrogeologie- navorser by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad, sê een van die meer opvallende, dog onregstreekse, impakte van klimaatsverandering op grondwater is die waarskynlikheid dat droogtes wat meer dikwels voorkom, veroorsaak dat meer boorgate gesink word. Daar word gevolglik meer grondwater gebruik, soos wat tans in die Wes-Kaap gebeur.

Die prentjie word verder benewel deurdat daar nie genoeg navorsing is oor die uitwerking wat ’n verandering in plantegroei vanweë klimaatsverandering en ’n toename in koolsuurgas op grondwater het nie.

Daarbenewens kan die teenwoordigheid van meerjarige plante, fyn grond en aquitards (lae van klei, slik of rots wat waterindringing tussen waterdraers vertraag, maar nie keer nie), die grondwateraanvulling en -vlakke se gevoeligheid vir klimaatsverandering verminder.

Die gevoeligheid kan vergroot word deur jaarlikse gewasverbouing, sandgrond en onbegrensde waterdraers.

LEER MEER OOR DIé BRONNE

In die tweede artikel in ons reeks oor grondwater bespreek ons die uitwerking van klimaatsverandering op grondwater. Sien ook “Grondwater moet reg bestuur word” in LBW van 6 April 2018.

WAT MOET GEDOEN WORD?

Prof. Anil Markandya sê dit word ál belangriker om waterbronne met sorg te bestuur deur onder meer die koste van water só vas te stel dat gebruikers dit spaarsamig sal gebruik. Navorsing in die wêreld se 235 rivier-komme deur dr. Mohamad Hejazi en kollegas van die instituut vir gesamentlike navorsing oor globale verandering aan die Universiteit van Maryland in Amerika toon dat wateronttrekking in die 21ste eeu sal verdubbel as pryse dieselfde bly.

Waar pryse vasgestel word om aanbod en vraag in ewewig te bring, sal die toename in onttrekking aansienlik kleiner wees. Daarbenewens moet die doeltreffend-heid van besproeiing en die produktiwiteit van water verhoog word.

Besproeiings-doeltreffendheid meet die deel van die water wat uit die dam of boorgat gepomp word wat uiteindelik aan plante toegedien word. Waterproduktiwiteit het ten doel om ’n groter oes met dieselfde hoeveelheid water te kry.

Volgens die skrywers van die hoofstuk oor vars water in die 2014-verslag van die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering moet aanpassing by klimaatsverandering deur die groter gebruik van grondwater ondersteun word deur ’n langtermynprogram om grondwaterhoeveelhede en -aanvulling beter te verstaan.