Hy wil niks anders doen as boer nie, sê mnr. Russell Heger (38) terwyl hy tussen die kweekhuise op sy plaas Springfontein rondloop. “Dit is nie soggens vir my ’n probleem om op te staan en werk toe te kom nie.”

Dié passie vir boerdery was die dryfkrag agter die merkwaardige groei van sy groenteboerdery, ongeag die feit dat winsmarges minder as 5% van die omset is.

Heger se filosofie sedert hy 17 jaar gelede sy eerste komkommers geplant het, is om die grootste volume produkte van goeie gehalte so kostedoeltreffend moontlik te produseer. “Tensy jy uitbrei, gaan jou toekoms nie baie rooskleurig wees nie, want pryse het in die afgelope tien jaar nie baie verander nie,” sê hy. “Die enigste manier om meer geld te maak, is om meer te produseer deur te soek na maniere om opbrengs te verbeter. En dít sonder om uitgawes te besnoei wat opbrengs sal beïnvloed.”

Goeie lesse en diversifikasie

Heger se pa, Alan, wat eers as ’n elektriese inspekteur in Oos-Londen gewerk het, het Springfontein, van 50 ha, in 1992 gekoop. Aanvanklik het hy tamaties verbou. Hy was een van die stigterslede van die voormalige Oos-Londense tamatiepakkers se pakhuis langs die N2.

Heger het aan die tegniese hoërskool Port Rex in Oos-Londen skoolgegaan, met die idee om daarna by die familie se boerderybedrywighede aan te sluit. Maar nadat hy in 1998 matriek geslaag het, is besluit hy moes eers ’n sertifikaat as diesel-en-petrolwerktuigkundige verwerf, wat hy met onderskeiding geslaag het. Daarna het hy ook ’n vakleerlingskap by Datnis Nissan in die stad voltooi. “My pa het daarop aangedring dat ek ’n kwalifikasie verwerf en voel hoe dit is om vir ’n baas te werk voordat ek by die familie- onderneming kon aansluit. As ek terugkyk, het ek goeie lesse geleer.”

In 2001 het Heger teruggekeer Springfontein toe en eers vir ’n salaris gewerk voordat hy ’n aandeel in die winste aangebied is. Aanvanklik het pa en seun steeds met tamaties geboer – wat hulle toe in tonnels verbou het – maar die skerp styging in insetkoste het die Hegers gedwing om ook ander gewasse te ondersoek.

Hoewel hulle verskeie gewasse, onder meer snyblomme, oorweeg het, het hulle toe besluit om komkommers in ’n paar van die tonnels te plant. Nie net was die oes ’n sukses nie, maar hulle het deur die plaaslike winkels aan wie hulle tamaties gelewer het, gou ’n mark gevind vir die 3 000 komkommers wat weekliks geproduseer is.

Die volume komkommers is geleidelik ten koste van die tamaties verhoog, en vandag is komkommers vir 87% van hul omset verantwoordelik. Die ander 13% kom van groen soetrissies op die land waarmee hulle agt jaar gelede begin het. Die Hegers het tien jaar gelede besluit om te diversifiseer en in vleisbeeste belê. Hulle het ’n plaas in die distrik Cathcart gehuur en met kruisraskoeie begin.

Vandag is daar 400 teelkoeie (met hoofsaaklik Fenfield Red-, Angus- en Brangus-gene) op drie gehuurde plase van sowat 2 000 ha. “Ek hou daarvan om met vee én groente te boer,” sê Heger. “Dit laat ons toe om die risiko te versprei. Wanneer die groente nie goed vaar nie, het ons die beeste, en omgekeerd.”

Verder word Rhodes-gras op 15 ha van Springfontein en die ander groenteplaas, Ashfield naby Oos-Londen, verbou om die beeste by Cathcart te ondersteun.

Die ingang na Springfontein in die Kwelera-gebied noord van Oos-Londen. Mnr. Russell Heger se pa, Alan, het die eiendom in 1992 gekoop en aanvanklik tamaties geplant.
Groen soetrissies wat op die land verbou word, is verantwoordelik vir 13% van Springfontein en Ashfield se omset. Water kom uit boorgate en drie damme op die eiendomme.

Watertoetsprosedure

Om komkommeropbrengste te verbeter, probeer Heger op die hoogte bly van internasionale verbouingstegnieke en -neigings. Hy het al komkommerplase in Israel en Nederland – die wêreldleiers in komkommerproduksie – besoek, en het ook ’n Nederlandse konsultant, mnr. Herbert Stolker van die internasionale varsprodukte-konsultasiemaatskappy Delphy.

Heger hou in fyn besonderhede boek van planttye, sproeibemesting toegedien, bespuiting, pluk, verkope en watertoetsresultate om strategies te kan beplan hoe en waar winsgrense verhoog kan word. “Kweekhuisboerdery – as jy dit aan motorsport wil gelykstel – is soos Formule 1-wedrenne. Alles is hoëtegnologie, dus soek jy na marginale winste.”

Volgens hom het die gebruik van geënte plante – wat vandag standaardpraktyk is – ’n revolusionêre impak op komkommerproduksie gehad. Die voordele van geënte plante wissel van weerstand teen grondgedraagde siektes tot hoër produksie en groter, gesonder vrugte. “Ons gebruik nou al langer as tien jaar geënte plante. Dit maak ’n groot verskil aan produksie.”

Rijk Zwaan-saailinge van die Multi Plant-saalingkwekery (Brits, Noordwes) en Hishtil-kwekery (Riebeek-Wes, Wes-Kaap) word in ’n medium van houtskaafsels geplant in drie maande lange produksiesiklusse per jaar (die aanplantings word versprei om doeltreffende voorsiening te verseker).

Alle plante word gereeld opgelei en gesnoei, terwyl bemesting deur druppers toegedien word in ’n sproeibemestingstelsel wat noukeurig gemonitor word en waarin watergehalte en -bewaring nie onderhandelbaar is nie. “Ons het ’n streng watertoetsprosedure, en afloopwater word hergebruik. Water word ook bespaar deur presiese besproeiingstegnieke wat die ouderdom van plante, die tyd van die dag en die weerstoestande in ag neem.”

Biologiese oplossings

Die bestuur van siektes en plae binne ’n intensiewe produksie-omgewing is ’n voortdurende probleem. Heger het hom die afgelope paar jaar toenemend toegespits op biologiese bekampingsmaatreëls, waaronder roofinsekte en voordelige swamme afkomstig van Koppert Biological Systems.

Dié biologiese oplossings lei daartoe dat hy gemaklik voldoen aan die streng standaarde wat die jaarlikse Global Gap-oudits vir chemiese residu op produkte stel. “Die kettingwinkels aan wie ons voorsien, doen deur die jaar hul eie lukrake toetse vir plaagdoderresidu. Om die Global Gap-oudits te slaag, moet ons ons groente wegstuur vir toetsing. Die biologiese bekamping maak dinge dus baie makliker.”

Naas bemesting, plantaankope en elektrisiteit is arbeid die duurste insetkoste. Met 70 heeltydse werkers en tot 30 seisoenswerkers in die somer is die doeltreffende bestuur van die personeel volgens Heger uiters belangrik. Hy probeer werkers op verskeie maniere aanspoor.

Eerstens word alle geskoolde werkers, soos drywers, ekstra betaal, terwyl sekere werkers met prestasiebonussse aangemoedig word. “Ons gee hulle prestasiebonusse gegrond op die opbrengs van ’n spesifieke deel waarvoor hulle verantwoordelik is. As hulle hul teiken haal, kry hulle ’n bonus.”

Om hardwerkende werkers te kry wat bereid is om opgelei te word, bly ’n kwessie, en daar word goed omgesien na lojale en geskoolde werkers. “Ons het ’n goeie verhouding met die meeste van ons werknemers. In teenstelling met die siening dat arbeid volop is, vind ons dis moeilik om goeie werkers te kry, en oormatige alkohol- en dwelmgebruik is ’n probleem.”

Sommige van die kweekhuise op Springfontein naby Oos-Londen in die Oos-Kaap.
Mnr. Russell Heger en sy kinders, Rebecca en Daniel, op Springfontein. Russell is met Annette getroud.
Goeie watergehalte is ’n belangrike faktor om die doeltreffende werking van die sproeibemestingstelsel op Springfontein te verseker.

Uitbreiding al opsie

Al Springveg se produkte gaan na ’n Global Gap- gesertifiseerde pakhuis, waar die komkommers individueel toegedraai en regstreeks aan Shoprite/Checkers en Spar gelewer word. Albei kettingwinkels het gespesialiseerde afdelings vir verkryging, aankope en verspreiding in die vorm van Freshmark (Shoprite/Checkers) en Freshline (Spar), wat vars produkte deur ’n gesentraliseerde stelsel versprei.

Springveg se produkte word dus dikwels onder die winkel se handelsmerk bemark in Shoprite/Checkers-winkels in KwaZulu- Natal en die Oos-Kaap, en in Spar-winkels in die Oos- en Wes-Kaap.

Volgens Russell is die deurlopende voorsiening van voldoende volumes vars produkte 365 dae van die jaar ’n voorvereiste om ’n betekenisvolle verhouding met kettingwinkels te bou. “Wanneer jy deur ’n kettingwinkel bemark, moet jy deurlopend kan voorsien. Dit is belangrik om ’n goeie verhouding met kettingwinkels te bou, want jou voorsiening vanjaar beïnvloed wat jy volgende jaar gaan voorsien.”

Soms kan kettingwinkels nie ál die produkte aanvaar nie, en die oorskot word dan op munisipale markte landwyd verkoop. Oor die toekoms sê Heger met groot oortuiging: “Ons sal moet uitbrei. Daar is geen ander opsie nie.”

Hoewel hy baie bewus van die politieke landskap is, sê Heger, ’n lid van Agri Oos-Kaap, dat daar nie baie tyd is om te dink wanneer jy vars produkte verbou nie. “Jy kan nie toelaat dat politiek jou sakebesluite bepaal nie, want as jy nie uitbrei nie, gaan jy uit die bus val. Jy moet voortgaan asof alles sal uitwerk, en dan hoop dat dit wel gebeur. As jy ’n pessimistiese ingesteldheid het, gaan jy nie oorleef nie.”

Komkommers op die Heger-familieplaas Springfontein naby Oos-Londen in die Oos-Kaap.
Die pakhuis op Springfontein verpak 60 000 komkommers per week.
Verpakte Springveg-komkommers gereed vir verspreiding na kettingwinkels.

Wind, Sabotasie en Eskom

Plastiekbedekte kweekhuise word maklik deur sterk wind beskadig. Dit lei tot ’n aansienlike koste vir mnr. Russell Heger, wat sê die versekeringspremies vir kweekhuise is bloot te duur om versekering te regverdig. “Wanneer die wind hier teen meer as 75 km/h waai, waai dit die plastiek van die kweekhuise af. Wind is ’n groot probleem.”

Afgesien van die wind het hulle ook al met ’n paar onverwagte probleme te doen gekry. Tien jaar gelede het Heger ’n groot verlies gely toe ’n vermoedelik ontevrede werker onkruiddoder by ’n chemiese mengsel gevoeg het wat gebruik is om die komkommers te bespuit. “Ons het ál die plante gebrand — hulle doodgemaak. Ons moes alles uittrek en herplant,” sê hy.

By ’n ander geleentheid het ’n “wondermiddel” wat deur ’n verteenwoordiger aan hulle verkoop is en by die sproeibemesting gevoeg is, die helfte van die druppers op die plaas geblokkeer. “Gelukkig het dit net die helfte van die plaas geraak. Ons moes ál die druppers en ál die plante vervang.”

In die lig van die klein winsmarges van groenteverbouing in Suid-Afrika is die voortslepende energiekrisis teleurstellend, sê Heger. Nie net raak elektrisiteit toenemend duurder nie, maar voorsiening is wisselvallig, soos die onverwagte beurtkrag verlede maand. “Ons gebruik baie elektrisiteit, en hoewel ons ’n kragopwekker het wat aangaan wanneer die Eskom-krag afgaan, moet ons dan vir diesel betaal.Dit is baie frustrerend.”

Navrae: Mnr. Russell Heger, e-pos: russell@springveg.co.za

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.