Goeie beleidmaking vereis betroubare, vergelykbare statistieke oor tyd heen. Ondanks die feit dat daar elke jaar ’n opname van landbouondernemings in Suid-Afrika gemaak word, heers verwarring oor die aantal kommersiële plase en die struktuur van die landbousektor.

Volgens die landbousensus van 2007 was daar 39 966 kommersiële plase, terwyl die syfer volgens die landbou-opnames van 2008 en 2017 onderskeidelik 64 192 en 57 126 was. Met syfers wat so baie verskil, watter syfers moet ons vertrou en hoe ontleed ’n mens neigings in die landbousektor en neem besluite gegrond op bewyse?

Hoewel ons nie tans al die antwoorde het nie, kan ons ’n bietjie duidelikheid oor die landbousektor verskaf. Dit is danksy ’n nuwe, anonieme administratiewe datastel afkomstig van die nasionale tesourie wat die statistiese bevolking van entiteite wat BTW betaal, bevat.

Ons het toegang tot dié data verkry deur ’n program genaamd Southern Africa – Towards Inclusive Economic Development (SA-TIED). Dit is ’n samewerkingsooreenkoms tussen UNU-WIDER, die nasionale tesourie, IFPRI en verskeie ander departemente in die ekonomiese groep, asook ’n aantal plaaslike navorsingsorganisasies.

Dié datastel toon daar was deur die jare sowat 40 000 aktiewe BTW-geregistreerde landbou-entiteite, met ’n effe groter getal in 2015. Die subbedrywe wat hierby ingesluit is, is die teel van nie-voedselproduserende diere, gewasboerdery, blom- en saadverbouing, vrugteboerdery, veeboerdery, gemengde boerderye, pluimveeboerdery en melkproduksie.

Stabiele grootte van ’09-’16

Die aantal BTW-geregistreerde entiteite bly deur die jare baie dieselfde, wat daarop dui dat die grootte van die landbousektor waarskynlik van 2009 tot 2016 dieselfde gebly het. Boonop is hierdie syfer vergelykbaar met die syfer van 39 966 wat in die 2007-landbousensus bepaal is.

Om te sien of die samestelling van die landbousektor mettertyd verander het, word ’n tabel verskaf wat betref die aantal entiteite volgens die grootte van die onderneming, gegrond op hul omset. (Die drempelwaardes wat vir die grootte van ondernemings gebruik is, is gegrond op syfers uit die Wysigingswet op Nasionale Kleinsake [No. 26 van 2003] en word vir inflasie aangepas.)

Skaalgrootte van boerderye in Suid-Afrika volgens jaarlikse omset

Die meeste boerderye – sowat die helfte – val in die mikro-kategorie, terwyl mediumgroot en groot boerderye saam minder as 20% uitmaak. Dit is ’n bewys dat nie alle kommersiële boerderye in Suid-Afrika groot boerderye is nie. Dit lyk egter of die proporsie van boerderye wat as “mikro” geklassifiseer word, mettertyd afneem, terwyl die proporsie wat as “groot” geklassifiseer word, toeneem.

Hierdie datastel kan ’n aanduiding gee van BTW-geregistreede entiteite, maar baie entiteite sal nie in die BTW-rekords wees nie aangesien hul omset minder as R1 miljoen is; die drempel waarbo BTW-registrasie verpligtend is. Dus sal opnames wat die BTW-rekords as steekproefraamwerk gebruik, outomaties entiteite uitsluit wat nie BTW-geregistreer is nie, en die aantal landbou-entiteite sal onderberaam word.

Terwyl die bevolkingsensus van 2011 vrae oor landbouhuishoudings ingesluit het, is geen onderskeid getref tussen of die huishoudings by bestaans- of kommersiële boerderye betrokke is nie. Die syfer van 2,9 miljoen huishoudings wat by landbou-aktiwiteite betrokke is, is dus nie ’n goeie aanduiding van die aantal kommersiële plase nie. Dit dui egter daarop dat baie huishoudings by landbou-aktiwiteite betrokke is, en dat baie landbou-entiteite dalk nie in die BTW-rekords opgeteken is nie.

Grootste persentasie alleeneienaars

Om ’n beter beraming van die aantal kommersiële plase te kry, kan die aantal landbou-entiteite wat vir maatskappybelasting (nie BTW nie) geregistreer is by die aantal BTW-geregistreerde entiteite getel word. Uit die BTW-rekords sien ons dat meer as 60% van landbou-entiteite alleeneienaars is, en sowat 30% beslote korporasies en maatskappye is. Dus, al word hierdie syfers bymekaargetel, sal dit steeds die aantal kommersiële plase in Suid-Afrika onderberaam.

Met die bekendmaking van die resultate van die landbousensus op 24 Maart, waar BTW-geregistreerde entiteite die grondslag van die steekproefraamwerk vorm, moet ’n mens onthou hierdie resultate verteenwoordig net die entiteite met ’n omset van meer as R1 miljoen. Baie entiteite is uiteraard van die sensus uitgesluit. Die resultate sal dus waarskynlik ’n onderberaming van die aantal kommersiële landbou-entiteite wees, en net verteenwoordigend van entiteite met ’n omset van meer as R1 miljoen.

Ons stel voor die regering en Statistieke Suid-Afrika wend ’n ernstige poging aan om ’n volledige landbousensus te doen wat alle kommersiële landbouondernemings – van die kleines in die voormalige tuislande tot die grootstes – insluit.

In dié stadium is ons kennis oor die struktuur van die landbou in Suid-Afrika beperk tot die boere wat vir BTW geregistreer is. Dit kan baie wanopvattings oor die landbousektor uit die weg ruim en verseker beleidmakers het toegang tot meer betroubare statistieke waarmee hulle besluite op grond van bewyse kan neem. 

Me. Marlies Piek is ’n navorser en doktorsgraadstudent aan die Universiteit Stellenbosch en prof. Johann Kirsten is direkteur van die US se Buro vir Ekonomiese Ondersoek.