Die Koöperasie sê in ’n verklaring die eenparige besluit van die lede van die Suider Paarl Landbou Koöperasie om die vrywillige samesmelting te steun, kan toegeskryf word aan die gedeelde waardes van dié twee besighede.

Die twee sal effektief op 1 Julie 2019 saamsmelt. Die Koöperasie sal al die bedrywe van die Suider Paarl Landbou Koöperasie bestuur, en sal steeds die unieke sakemodel van ’n koöperasie deel.

Mnr. Derek Clift, voorsitter van die direksie van die Suider Paarl Landbou Koöperasie, sê in ’n verklaring die besluit is geneem tot voordeel van Wes-Kaapse boere, wat toegang sal hê tot ’n wyer netwerk van produkte en dienste. ’n Sentrale stelsel vir bedinging en operasionele bestuur beteken ook ’n besparing in oorhoofse koste, wat uiteindelik meer geld in die boer se sak sal beteken.

“Die wedersydse kundigheid sal vir albei ledegroepe van nut wees,” sê mnr. Henk Aggenbach, uitvoerende hoof van die Koöperasiegroep. Hy voeg by daar is kenmerkende landboubedrywighede in elke streek, maar dat lidmaatskap gesamentlik uitgebrei kan word.

Henk Agenbach,
Mnr. Henk Agenbach. Foto: Liza Bohlmann

Die Koöperasie het reeds verskeie sakebelange in die Wes-Kaap, onder meer VGK Firearms in Parow, Komkyk Motors in Touwsrivier, ’n depot in die Paarl en ’n vulstasie in Vredenburg.

Die Koöperasie is vier vanjaar sy 75ste bestaansjaar en het 34 handelstakke en 19 gespesialiseerde depots in Suid-Afrika.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.