As die Kaapstad-metro suksesvol is in sy hofaansoek om elektrisiteit van verskaffers anders as die nasionale kragverskaffer, Eskom, te bekom, sal dit ’n presedent skep vir ander munisipaliteite en groot kragverbruikers om krag direk van onafhanklike kragverskaffers (IPP’s) te bekom.

Dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by AgriSA, sê dit kan as ’n argument gebruik word om vir meer private deelname en mededinging in die energiebedryf te beding en te bevorder.

“Wat egter moet gebeur, is ’n konkrete beleidsverandering en die toepassing daarvan. Hoewel daar al verskillende voorstelle oor Eskom en die energiebedryf deur die staat in die media genoem en bespreek is, is daar nog nie ’n duidelike plan of aanduiding van die toepassing van hervorming in die bedryf nie.

“As munisipaliteite direk elektrisiteit van IPP’s kan koop, gaan dít as sodanig nie direk vir die landbou of ander verbruikers die deur oopmaak om ook direk van IPP’s (iemand buiten Eskom of munisipaliteite) elektrisiteit te kan koop nie.”

Regter Leonie Windell van die Noord-Gautengse hooggeregshof het vroeër in ’n virtuele verhoor uitspraak voorbehou in die waterskeidingsaak wat die stad Kaapstad teen mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) gebring het.

Die sentrum vir omgewingsregte (CER) het by die saak aangesluit as ’n vriend van die hof ter ondersteuning van die metro. Die uitspraak sal, ingevolge artikel 34 van die Wet op die Regulering van Elektrisiteit (Wet 4 van 2006), bepaal wat munisipaliteite se reg is om sonder toestemming van die minister krag van IPP’s te verkry.

Poging om prosesse te standaardiseer

Wait glo nie dat boere noodwendig in hierdie stadium sal wil meeding om as ’n IPP krag aan ’n munisipaliteit te verskaf nie. “Boere kyk op die oomblik eerder na opwekking vir hul eie behoeftes, maar dit kan in die toekoms verander.”

Hy sê die drie modelle vir die opwekking van groenkrag waarna boere hoofsaaklik kyk, is eerstens ’n batterygedrewe stelsel wat glad nie aan die netwerk gekoppel is nie, in gevalle waar daar in elk geval geen Eskom-netwerk beskikbaar is nie. Dan is daar ook ’n opwekkingstelsel om gedurende die dag koste te bespaar maar sonder dat krag in die netwerk ingevoer word.

Die derde stelsel is waar daar seisoenaal ’n hoër vraag na krag is. Sonkrag word gedurende die dag opgewek om binne seisoen Eskomkrag aan te vul en buite seisoen word dit aan die netwerk verskaf. Die voorwaarde is egter dat die boer ’n netto verbruiker van Eskomkrag moet bly.

Wait sê die regulatoriese prosesse is moeilik en tydrowend. Dit kan tot 18 maande duur om toestemming by Eskom te kry vir ’n netwerkgekoppelde stelsel en dan is daar ’n verdere registrasieproses by Nersa. Daar was juis die afgelope week ’n vergadering tussen Agri SA en mnr. André de Ruyter van Eskom oor die standaardisering van prosesse en die bekostigbaarheid van elektrisiteit.

Oor die hangende hofuitspraak sê die CER die grondwetlike verpligtinge van plaaslike regerings met betrekking tot kragopwekking is die kern van die saak. Hy voer aan munisipaliteite speel ’n belangrike rol om mense se gesondheid en die omgewing te beskerm, en dat dit die plig van munisipaliteite is om skadelike fossielbrandstof-gebaseerde elektrisiteit om te skakel na herwinbare energie (son- en wind).

“Elektrisiteit van steenkool vorm die grootste hoeveelheid van Suid-Afrika se krag, en dra tot 40% van die land se kweekhuisgasvrystellings by.”

Me. Nicole Loser, ’n prokureur van die CER, sê dit is noodsaaklik om omgewings-, klimaats- en menslike gesondheidsgevolge op alle vlakke van regeringsbesluitneming in ag te neem met elektrisiteitsopwekking.

Dit is deurslaggewend vir die herstel ná die Covid-19-pandemie en om die land se weerstand te midde van die klimaatskrisis te versterk, veral in die lig van Suid-Afrika se kragopwekkingstelsel en die nadelige gevolge wat dit inhou vir die gesondheid, welstand en oorlewing van die land se mense te midde van die klimaatskrisis.

Gemengde boodskap

Die metro vra die nasionale regering al langer as vier jaar vir regsklaarheid oor die aangeleentheid. Hy het die aansoek in Julie 2017 teen die minister van energie en Nersa ingedien.

Luidens hofstukke wil die metro hê dat die hof ’n verklarende bevel maak dat ’n bepaling van artikel 34 van die Wet op die Regulering van Elektrisiteit nie ’n vereiste is nie. Alternatiewelik dat die deel van artikel 34 ongrondwetlik verklaar word, of vir ’n bevel wat sal toesien dat die metro nie ingevolge artikel 34 vir toestemming sal hoef te vra nie.

Die metro voer aan dat hy ’n grondwetlike mandaat het om krag aan sy kliënte te verskaf en dat kliënte toegelaat moet word om te kies watter soort krag hulle ontvang. Kaapstad het dit ook benadruk dat sy planne en werk gedoen moet word in ooreenstemming met ’n nasionaal aanvaarde raamwerk en binne ’n gees van samewerking tussen die regeringsvlakke.

Terwyl Mantashe vroeër vandeesmaand konsepregulasies in die Staatskoerant afgekondig het wat aan munisipaliteite die groen lig gee om hul eie elektrisiteit op te wek en te ontwikkel, voer hy in hofstukke aan daar is geen gronde vir die aansoek nie. Hy sê voorts artikel 34 is nie ongrondwetlik nie omdat dit nie die stad se reg om eleletrisiteit aan te skaf, beperk nie.

Mantashe sê volgens ’n redelike en logiese interpretasie van die wet is daar die intensie dat die minister ’n sentrale rol moet speel om toekomstige opwekkingskapasiteit en die bronne waarmee dit opgewek moet word, te bepaal. Dit sal die wet ongedaan maak indien die metro toegelaat word om sy eie krag op te wek of aan te skaf en die munisipaliteit bo die wet verhef.

Die minister vra die hof om die aansoek van die hand te wys en dat die betrokke partye moet vergader om die saak op te los.

Op sy beurt lê Nersa se argumente klem op die onderskeid tussen kragopwekking en retikulasie (die handel en verspreiding van elektrisiteit en gepaardgaande dienste). Die energiereguleerder gee toe dat munisipaliteite by magte is om laasgenoemde te doen, maar sê die opwekking van krag is ’n nasionale funksie.