In die voorlaaste week van November vanjaar is ernstige waarskuwings gerig oor Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte. Twee van die drie internasionale kredietgraderingagentskappe het nou Suid-Afrika se binnelandse skuld afgegradeer tot rommelstatus. Die derde belangrike agentskap sal dié status na verwagting vroeg volgende jaar bevestig.

Terselfdertyd het die Reserwebank op 23 November besluit om rentekoerse onveranderd te hou, met ’n waarskuwing oor ’n goeie kans dat rentekoerse volgende jaar verhoog kan word. Dit is weens die verswakkende inflasie-vooruitsigte, voortgedryf deur ’n swakker wordende rand, wat die slagoffer is van kredietafgraderings en rommelstatus.

Die aankondiging van die graderingsagentskap Standard & Poor’s op 24 November dat hy Suid-Afrika tot rommelstatus afgradeer, het die rand kwaai laat verswak. Dit was te verwagte. Nóg verswakkings lê voor namate buitelandse beleggers hul beleggings aan Suid-Afrika begin onttrek. ’n Ernstige waarskuwing is aan die Regering gerig om staatsfinansies onder beheer te kry.

Veral staatsondernemings wat basies bankrot is en weens kontanttekorte nie meer lopende sake is nie, was die grootste bydraende faktor tot die afgraderings. S&P se ander rede is dat ekonomiese beleid in Suid-Afrika eerder op herverdeling fokus, pleks van groei. Daar is geen beleidsveranderinge gereed om ekonomiese groei te stimuleer nie.

Suid-Afrika het ook agter geraak met ekonomiese groei teenoor sy eweknieë weens die herverdelingsbeleid van die Regering.

Rentekoerse op staatseffekte het begin styg namate beleggers in staatskuld vergoed wil word vir die hoër risiko’s dat die staat dalk nie vorentoe sy skuld sal kan betaal nie. Onthou, daar is ook talle lenings van staatsondernemings ter waarde van miljarde rande wat finansiers nie wil hernu nie. Dit is ongeag die kans dat hulle veel hoër rentekoerse kan vra (om vir die hoë risiko’s te vergoed), maar hulle stel nie daarin belang nie.

Die gevolge vir die ekonomie en die landbou se geldsake is in ’n onlangse rubriek verduidelik aan die hand van die scenario’s van swak groei, die verswakkende wisselkoers, asook stygende inflasie en hoër rentekoerse (“Kredietafgradering nou onafwendbaar”, LBW, 10 November). Die laaste week in November was ’n belangrike wegwyser van die glybaan waarop die Suid-Afrikaanse ekonomie is weens die Regering se powere bestuur van die ekonomie.

Plaaslik en internasionaal is daar ook nie vertroue in die ANC-leierskap om die nodige regruk-aksies te doen nie. Baie mense meen as die verkiesing van ’n nuwe ANC-bestuur in Desember vanjaar ten gunste van die Ramaphosa-kamp verloop (en nie Zuma bevoordeel nie), sal sake vinnig herstel. Dit is egter nie waar nie.

Dit is net ’n nuwe ANC-leierskorps wat verkies gaan word. Hulle is verbind tot die mandaat van ANC-beleid en het nie seggenskap oor die aanstelling van kabinetsministers nie. En pres. Jacob Zuma is nog tot in 2019 aan die stuur. Ja, daar kan via die uitoefen van druk ’n beter beleidsrigting ingeslaan word en korrupsie kan dalk gestraf word, maar ek sal nie my asem ophou nie.

Krediet-afgradering

Internasionale kredietgraderingsagentskappe beoordeel die kredietwaardigheid van ’n land se skuld. By staatskuld word onderskei tussen skuld in buitelandse geldeenhede (bv. dollar) en binnelandse skuld. Daar is ’n ingewikkelde graderingstelsel, maar dit kom kortliks daarop neer dat hoe meer kredietwaardig ’n land is (en die vermoë het om sy skuld te betaal) hoe beter is die gradering en hoe laer die rentekoerse.

Die laagste vlak is sogenoemde rommelstatus. Internasionale beleggings- en pensioenfondse het mandate wat bepaal in watter kredietgraderingsbeleggings hulle mag belê en rommelstatus is nie deel van hul mandaat nie. Dit beteken heelwat internasionale beleggings en pensioenfondse mag volgens hul mandaat nie meer regstreeks in Suid-Afrika belê nie.

Hulle moet dus hul beleggings uit die Suid-Afrikaanse ekonomie ontruim. Sowat R80 miljard tot R140 miljard kan na verwagting in die volgende maande uit Suid-Afrika vloei, wat noodwendig die rand sal verswak. Die redes wat van die agentskappe in detail verduidelik, is kortliks dat Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte verswak het en dat “besigheid Suid-Afrika” nie goeie vooruitsigte het nie.

Intussen het “besigheid SA” se skuldvlakke kwaai gestyg. Dit het só toegeneem dat die skuld na verwagting vorentoe moeilik betaal sal kan word mits beleid nie omvattend verander nie. ’n Deel van die probleem is Suid-Afrika se staatsondernemings wat in die volgende maande miljarde rande gaan kortkom om aan die gang te bly. Die staat het nie meer die geld nie en hy sal dit ook ál moeiliker kan gaan leen.

Die kredietgraderingsagentskappe se voorwaardes is eenvoudig: Suid-Afrika se ekonomiese beleid moet só verander dat die land op ’n groeipad geplaas word. Sy vermoë om skuld te kan betaal, moet verbeter. Suid-Afrika se staatsuitgawes (en spesifiek staatsondernemings) moet onder beheer kom. Mnr. Malusi Gigaba, Minister van Finansies, se Mediumtermynbegrotingsraamwerk van einde Oktober het geen tekens van dié voorvereistes getoon nie.

Inteendeel, hy het ’n begroting voorgehou wat Suid-Afrika net nóg dieper in die moeilikheid laat beland, sonder enige vooruitsigte op konstruktiewe beleidsveranderinge. Dink aan “besigheid SA” waarvan die groei verswak en waarvan die uitgawes meer is as sy inkomste. Die oplossing wat egter aangebied word, is om nóg geld te gaan leen (terwyl hy sukkel om bestaande lenings te betaal).

Grafiek 1 en 2

Grafiek 1 toon die vooruitsigte op ekonomiese groei in die volgende paar jaar is maar skraal (ná die voorafgaande vyf jaar se dalende groeikoers). Dit beteken staatsinkomste gaan nie veel groei deur middel van belasting nie. Gigaba het ook erken dat belastingontduiking ’n groot kwessie begin word. Hy het belowe daar gaan in aanstaande Februarie nóg belastingverhogings kom (en enige mens weet dit is nie die antwoord nie).

In die Mediumtermynbegrotingsraamwerk word staatsuitgawes begroot om in die volgende paar jaar 2-3% persentasiepunte vinniger te groei as inflasie (met geen teken van besnoeiing nie) en dit beteken net ál meer skuld. Die toename in skuld neem nie eers alles in ag wat staatsondernemings in die volgende maande gaan kortkom om hul deure oop te hou nie.

Intussen neem werkloosheid toe (sien Grafiek 2) wat net bevestig dat Suid-Afrika se beleid van herverdeling nie groei skep nie en verkeerd is.

Reserwebank se waarskuwing

Voor die Mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober was die siening dat met dalende inflasie en dalende voedselpryse (onder die Reserwebank se boonste teiken van 6%) die vooruitsig was dat rentekoerse einde vanjaar en in volgende jaar sou daal en dalk groei sou aanhelp. Dit het nou heeltemal verander. Die uitvloei van kapitaal uit die ekonomie verswak die wisselkoers – en dit is reeds aan ’t gebeur. Die swakker wisselkoers en stygende oliepryse lei onder meer tot stygende brandstofpryse.

Boonop vra Eskom ’n 20%-tariefverhoging. Hoër inflasie is dus onafwendbaar. Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het op sy vergadering op 23 November gewaarsku dat hy weens die hoë risiko van stygende inflasie rentekoerse onveranderd gehou het. Die komitee het ook gewaarsku dat rentekoerse volgende jaar eerder sal styg as daal.

As die Regering nie gou ’n ommekeer in ekonomiese beleid en staatsfinansies in werking stel nie, gaan Suid-Afrika ’n onstabiele tyd tegemoet. Die komende weke sal op vele terreine belangrik wees. Dit hou alles implikasies vir Suid-Afrikaners se geldsake in: Stadige ekonomiese groei, ’n verswakkende wisselkoers, stygende inflasie en stygende rentekoerse.

Om alles te kroon, is daar die verwagte belastingverhogings in Februarie. Suid-Afrikaners het almal goeie ouditeure nodig om te verseker hulle minimaliseer hul groeiende belastinglas binne die wet.