Die Manitou TLB 8445-laaigraaf-en-grawer het ’n Kirloskar-enjin wat 67 kW lewer, en ’n Cararo-rat- en-differensiaalstelsel. Die grawer funksioneer grootliks meganies. Dit kan tot 400 bybehore koppel, soos ’n grondboor, palletvurk en baalhanteringstoerusting. Die grawer kan 4,7 m diep grawe en kan met sy voorste hysstelsel 3,5 ton tot 2,7 m optel. Prys: R828 000, wat aflewering insluit. Navrae: Mnr. Dean Vorster, Manitou Southern Africa in Kaapstad, sel 081 431 7532.
Die Agro-Masz-hoëspoedskottelploeg het 12 skottels met ’n werkwydte van 1,5 m. Elke skottel werk afsonderlik op eie laers en kan ’n werkspoed van 15 km/h handhaaf. Rollers aan die agterkant maak die grond gelyk en verdig die grond genoeg om vogverlies te beperk wanneer dekgewasse gevestig word. Die saadkas hou 200 liter. Dit werk van ’n trekker se elektroniese paneel af, en die trekker moet 45 kW of groter wees. Prys: R224 250. Navrae: Mnr. Karel Jooste, Agripieces SA van Benoni, sel 072 364 0596.
Hyundai se 210 Smart-grawer van 21 ton is ideaal om gate en slote vir pype te grawe. Talle ander bybehore kan daaraan gekoppel word, soos ’n hidrouliese hamer en verskillende groottes bakke. Met ’n Cummins-enjin van 104 kW kom dit standaard met ’n arm van 5,7 m. Die werktuig kan 5,8 m diep grawe. Die maksimum hoogte wat die arm kan reik, is 9,1 m, en die maksimum reikwydte is 6,3 m. Prys: R1,5 miljoen. Navrae: Mnr. Gary Pnematicatos, HPE Africa van Kaapstad, sel 082 490 0693.
Gascon van Elsiesrivier het sy 18 ton-tapkar vertoon wat enige graan kan hanteer. Sy aftapvermoë is 12 t/min. en dit het twee awegare, een binne-in om die graan vorentoe te bring, en een aan die buitekant wat die uittapping doen. Dit is beskikbaar in enkel- of dubbelas. Die uitsonderlik breë bande verseker stabiliteit en verminder grondverdigting. Dit werk van die trekker (minstens 90 kW) se driepuntaftakker af, of met sy eie hidrouliese stelsel. Danksy kameras kan jy in die tenk en ook na agter sien. Dit is in enige kleur beskikbaar. Prys: R517 500. Navrae: Mnr. Johannes Human, tel. 021 590 5280.
Plastiflo van Jeffreysbaai het sy nuwe selfvoerder van 200 kg vir skape vertoon. Dit is van duursame poli-etileen gemaak en sal minstens 10 jaar lank die warm somerson se ultravioletstrale weerstaan. Die selfvoerder het 1,2 m vreetspasie aan weerskante (2,4 m altesame). Die raam is van gegalvaniseerde staal gemaak en die selfvoerder is maklik verskuifbaar tussen kampe. Prys: R4 657. Navrae: Mnr. André-Pieter Koch, sel 072 417 5957.
Die Ewe Turn-skaapkantelkrat wat deur Baden Ligtestaal-projekte van Caledon vertoon is, is ideaal vir wanneer ’n ooi omgedop moet word vir skandering, uierondersoeke en hoeweknip. Die ooi stap uit ’n drukgang in, die operateur trap ’n voethefboom wat die dier liggies vasknyp en omkeer sodat gemaklik met haar gewerk kan word. Dan word sy weer deur dieselfde meganisme op haar pote teruggedraai en stap voor by ’n hekkie uit. Dit is van gegalvaniseerde staal gemaak. Prys: R31 050. Navrae: Mnr. Sas de Kock, sel 083 273 8369.
Kanna Industries van Worcester het sy skaapvoerband vertoon waarmee skaapwerk maklik gemaak word. Die struktuur, met sy twee voerbande aan weerskante van ’n V-vormige optelstelsel, is 3 m lank. Dit vat die skaap weerskante vas, lig hom van sy pote af en ’n elektriese motortjie voer hom stadig — die operateur bepaal die spoed met ’n voetskakelaar — vorentoe. Die voerband kan ook gestop word as dit nodig is om genoeg aandag aan die skaap te gee. Die werkhoogte is ’n ideale 900 mm. Prys: R34 500. Navrae: Mnr. Willa Nolte, sel 072 333 1051.
Algar Veehantering van Carletonville het sy nuwe skaapdrukgang vertoon wat verstelbaar is van 200 mm tot 500 mm om met lammers en ooie van verskillende groottes te werk. Dit bestaan uit seksies van 3 m elk, wat aanmekaar gekoppel kan word soos nodig tot 12 m of meer. Prys: Twee eenhede (op die foto) kos R1 200. Navrae: Mnr. Hannes Nortjé, sel 082 324 6256.
Die New Trend-beeswa, wat New Trend Manufacturing van Worcester vertoon het, is van gegalvaniseerde staal en is roesbestand. Dit is 3,6 m lank, 1,8 m breed en 1,8 m hoog met ’n verdeling binne wat met ’n swaaideur oop of toegemaak word. ’n Beesmat keer dat beeste gly tydens vervoer. ’n Hek agter kan óf oopskuif óf oopswaai. Die wa kan 2,2 ton dra – wat vier tot ses beeste beteken. ’n Oploopbaan kom saam waarop die diere kan inloop. Die tralies kan ook afgehaal word, wat dan van die wa ’n gewone sleepwa maak. Prys: R80 500. Navrae: Mnr. Matthys du Toit, sel 082 358 1301.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.

© MessengerPeople