Die beste manier om vinnig grondregte aan die meeste Suid- Afrikaners terug te besorg, bly ’n doeltreffende grondhervormingsproses met die mini- mum staatsbetrokkenheid.

Ons siening daaroor stem min of meer ooreen met dié van regsgeleerdes, soos advokate Tembeka Ngcukaitobi en Thuli Madonsela, asook die ANC se eie standpunt wat die party op sy onlangse grondberaad aanvaar het. Dié standpunt stel dit dat die huidige bepalings van die Grondwet wat onteieningsmagte verleen, onmiddellik toegepas moet word om die grense van die vergoedingsklousule te toets voor ’n wysiging van die Grondwet oorweeg word.

Dit maak voorsiening vir ’n omvattende grondhervormingsprogram met duidelike beginsels wat in die Grondwet vervat word. Die Grondwet gee ook aan die staat ’n duidelik gedefinieerde taak om grondhervorming, waaronder besitreghervorming, in die voormalige tuislande in werking te stel.

Die Grondwet is dus nie die struikelblok om grond aan die meerderheid van Suid-Afrika se inwoners terug te besorg nie, maar die belangrikste bemagtigende instansie wat die Regering in staat stel om dit te doen. Ons wil dus probeer om ’n werkbare plan vir die verantwoordelike, maar doeltreffende herverdeling van landbougrond ter tafel te lê.

Ons plan is gegrond op die beginsels wat in hoofstuk 6 van die Nasionale Ontwikkelingsplan beklemtoon word. Ons voorsien egter terselfdertyd ’n geleentheid vir kommersiële boere, landbou-ondernemings en die private sektor om beheer van die proses oor te neem.

Verseker regverdige verdeling

Op ’n onlangse paneelbespreking by die Universiteit van die Vrystaat het prof. Lungisile Ntsebeza van die Universiteit van Kaapstad landbou-unies uitgedaag om tydig grond vir die grondhervormingsprogram beskikbaar te stel. Wat ons hier onder voorstel, kan as ’n plan beskou word om presies dít te doen.

Dit sal egter ook ’n riglyn aan boere, landbou-ondernemings en finansiers verskaf om aktief en op ’n verantwoordelike en volhoubare manier tot grondhervorming en die vestiging van kommersiële swart boere by te dra. Ons benodig ’n omvattende proses wat op nasionale vlak toegepas word en duidelike kriteria vir die kies van begunstigdes stel.

Die private sektor moet ’n proses deurvoer waardeur goed geleë plaasgrond geïdentifiseer en vir grondhervorming geoormerk word, begunstigdes moet gekies word en finansiering, mentorskap en ondersteuning moet daargestel word.

Die distriksgrondhervormingskomitees, wat in hoofstuk 6 van die Nasionale Ontwikkelingsplan in die vooruitsig gestel is, sal met ’n kombinasie van boere, landbou-ondernemings, finansiers, donateurs en begunstigdes uit die gemeenskap tot stand gebring word, en sal die minimum deelname van die Regering vereis.

Hoewel die distriksgrondhervormingskomitees in 2015 tot stand gekom het, heers daar groot verwarring oor hul rol, funksies en verantwoordelikhede. Meer as die helfte van die deelnemers is boonop staatsamptenare. Gevolglik funksioneer die distriksgrondhervormingskomitees nie optimaal nie en baie raak onaktief.

In teenstelling daarmee voorsien ons voorgestelde plan dat die private sektor, met die samewerking van begunstigdes, beheer van die proses oorneem. Staatsamptenare moet liefs nie in dié komitees dien nie. Die private sektor behoort vernuwende maniere te kan vind om die verkryging van grond te finansier.

Hulle moet dus ’n deel van hul eie geld toewys om die landbou-omgewing te transformeer om ’n regverdiger verdeling van landbougrond te verseker.

’n Vinnige, volhoubare grondhervormingsprogram vir landbougrond wat deur die private sektor aangedryf word, soos hierbo beskryf, benodig vier “pilare” om die herverdeling van grond deur te voer sonder groot staatsmasjinerie of om wette te wysig:

  • Voorsien aansporings vir die private sektor (waaronder boere en landbou-ondernemings) om grondhervorming privaat in werking te stel deur die een of ander erkenningsmeganisme via die AgriBEE-telkaart of ander maatstawwe vir lewenslange besit.
  • Verskaf bykomende aansporing om boere te beloon vir private pogings tot herverdeling met die toekenning van nuwe waterregte aan die bestaande én nuwe onderneming (wat aan die begunstigde behoort). Dit sal die bestaande boer in staat stel om van grond ontslae te raak en terselfdertyd die suksesvolle vestiging van kleiner plase op besproeide grond verseker.
  • Vestig ’n grondhervormingsfonds by ’n bank in staatsbesit (soos die Land Bank) en stuur dit van stapel deur eenvoudige prosesse en “eenstop”-punte waar alle transaksies en toegang tot insetsubsidies, bekom kan word.
  • Gebruik die beginsel van hefboomfinansiering deur toegang tot die grondhervormingsfonds om boere in staat te stel om van grond ontslae te raak vir grondhervormingsdoeleindes, maar terselfdertyd hul bestaande besigheid uit te brei en meer werkers aan te stel.

R20 miljard reeds beskikbaar

Die skep van ’n “grondhervormingsfonds” by die Land Bank kan help om die vinnige herverdeling van grond te vergemaklik. Ons bepleit ’n eenvoudige proses waartydens staatsbydraes, bydraes deur boere en lenings in ’n alles-in-een-winkel saamgevoeg word.

Geld is beskikbaar by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in die Regering se omvattende steunprogram vir die landbou (CASP; R5,6 miljard oor die mediumtermyn-uitgaweraamwerktydperk 2018-’21), in Ilima/Letsema se voorwaardelike toekenning (R1,6 miljard), en geld geoormerk vir grondverkryging (R4,2 miljard), grondhervorming (R8,7 miljard) en steun ná vestiging (R1,5 miljard) by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.

Saam is daar dus al sowat R20 miljard oor die volgende drie jaar beskikbaar wat in dié fonds gestort kan word. Dit is staatsgeld wat nie rentedraend is nie en wat sal help met die subsidiëring van lenings aan begunstigdes vir grondverkryging, subsidies vir verbeterings op die plase en gesubsidieerde seisoenale krediet, soos in die proses hierbo uitgelig.

Dié fonds kan ook die plek wees waar skenkers se bydraes tot die grondhervormingsproses inbetaal kan word. In wese sal die “grondhervormingsfonds” die hoofelement wees van ’n vermengde finansieringsmodel vir grondhervorming.

Deur dié model sal staatsgeld, skenkersgeld en bydraes deur die private sektor deur middel van lenings teen laer of voorkeurtariewe die finansiering van grondhervorming op ’n baie vinniger manier – sonder enige bykomende fiskale las – bewerkstellig.

Die figuur hierbo gee ’n kort uiteensetting van die model.

Kundigheid lê hiér gesetel

Dit sal nou sinvol wees dat die grondhervormingsafdelings van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye geïntegreer word sodat alle geld, optrede en staatsondersteuning vir die suksesvolle vestiging van begunstigdes bereik word.

Dit sal dus ’n uitbreiding van die mandaat van die Departement van Menslike Nedersettings vereis om stedelike en peri-stedelike grondhervorming in te sluit. Dit impliseer dat die grondhervormingsprogram weer – soos in die tydperk van 1999 tot 2009 – onder die beskerming van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye sal wees.

Dit sal in noue samewerking met die Land Bank wees, maar in wese gedesentraliseer na distrikgrondhervormingskomitees en toegepas deur die private sektor. Die Land Bank se streekskantore kan, met die hulp van plaaslike kundigheid (die private distrikgrondhervormingskomitee) in ’n baie beter posisie wees om begunstigdes te keur en te kies, en só ’n vinnige en suksesvolle herverdeling van landbougrond meebring

. Daar sal beslis mense wees wat ongeneë daarmee is om die private sektor te vertrou om die opdrag tot grondhervorming te gehoorsaam. Dit is egter so dat die finansieringsmodelle, die bestuursvermoë, die ondersteuningsnetwerke, die markte, die insetvoorrade en die kundigheid alles binne die private sektor gesetel is.

Daar is geen nodigheid om die wiel te herontdek, nuwe stelsels te ontwerp en nuwe agriparke te bou nie.

Ons moet die bestaande stelsels en netwerke gebruik om die meerderheid van ons mense te bemagtig. As dit ’n bietjie aanmoediging, ’n paar aansporings en ’n bietjie erkenning en vertroue verg, sal dit Suid-Afrika goed doen en maatskaplike stabiliteit skep.

Boere, saam met kommoditeitsorganisasies en landbou-ondernemings, kan die taak aanpak om grond te herverdeel met minimale staatsbetrokkenheid. Meer spesifiek sal landbou-ondernemings en kommoditeitsorganisasies ná die oordrag van die grond steun en mentorskap aan begunstigdes bied.

Só word ’n inklusiewe deelnameproses in die kommersiële landbou-ekonomie verseker. In daardie gees het ons meer vennootskappe tussen die openbare en private sektor nodig, soos die grondhervormingsmodel van die landbousakekamer en die Bankvereniging van Suid-Afrika (die sogenoemde Agbiz/Basa-model), asook die model van die Land Bank en Afgri, nodig.

Dié vennootskappe moet getoets word om samewerking tussen die Regering en die private sektor te skep, en op hul beurt vertroue te bou.

Dié artikel het oorspronklik in Business Day verskyn as deel van ’n reeks oor grondhervorming.

Wandile Sihlobo is hoof van landbousakenavorsing by Agbiz en prof. Johann Kirsten is direkteur van die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die Universiteit Stellenbosch.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.