Kritici sê dit is te min en te laat, maar die besluit van die monetêre beleidskomitee om die repokoers met 25 basispunte te verlaag is ’n welkome sein dat die Reserwebank erken die ekonomie is in ’n resessie. Die inflasiekoers is 3,6%, wat beduidend laer is as die middelpunt van 4,5% in die teikenband van 3-6% vir inflasie. Die repokoers daal tot 6,25% en die prima uitleenkoers van banke tot 9,75%.

Die inflasieteikenband van 3-6% word in oorleg met die tesourie bepaal en daaraan word nie sommer getorring nie. Die huidige, baie lae inflasiekoers – die laagste in jare – is ’n weerspieëling van die swak saketoestande in die ekonomie.

Ten spyte van hoë koste en prysstygings in geadministreerde pryse is sakeondernemings net nie in staat om prysverhogings deur te gee na verbruikers nie. Inteendeel, ’n mens sien oral dat sakeondernemings taamlike afslag gee net om verkope aan die gang te hou en die besighede se deure oop te hou.

Die slegte stand van sake in die ekonomie is ook daagliks in die nuusmedia te sien. Grootskaalse afleggings is die afgelope tyd by veral staatsondernemings aan die gang. Die gevolge van ’n ekonomie wat onder aansienlike druk verkeer en ’n staat wat vrot van die skuld is met ’n leë staatskas, word nou duidelik.

Die vraag is of ’n daling van ’n kwart persentasiepunt werklik veel gaan help en die vonk gaan wees wat mense sal oorreed om geld te leen om te investeer om werk te skep. Waarskynlik nie. Wat wel belangrik is, is dat die Reserwebank se modelle daarop dui dat die inflasiekoers nog ’n tyd lank onder die vlak van 4,5% gaan bly. Dit kan beteken dat rentekoerse verder verlaag kan word.

Prysstygings vir boere gaan beperk wees

Die lae inflasiekoers hou verskeie implikasies in, soos met kontrakte vir die huur van eiendomme wat jaarliks aangepas word met die heersende inflasiekoers, wat nou onder 4% is. Dit het sy eie rimpelings. Verder gee dit die sein na boere dat dit vir die verwerkers van landbouprodukte moeilik is om prysstygings van meer as die heersende inflasiekoers na kleinhandelaars deur te gee.

Inteendeel, hul winste daal namate hulle stygings in die koste van onder meer elektrisiteit, arbeid en vervoer absorbeer. Daarom moet ’n mens versigtig wees in die komende jaar om begrotings op te stel wat op aansienlike prysstygings gegrond is. Die huidige swak stand van die verbruiker se bestedingsvermoë en verbruikersvertroue wat op die laagste vlak in baie jare is, gaan dit moeilik maak.

Hou ook in gedagte dat soos die somergraanvooruitsigte tans staan, word gepraat van ’n goeie mielieoes. Pryse vir die nuwe oes is reeds sowat R400-R500/ton laer as die huidige oes in die silo’s. Dit gaan druk afneem van intensiewe veebedrywe en prysstygings deur die ketting beperk.

As die rand stabiel bly, gaan inflasie volgens die Reserwebank-modelle die volgende jaar of twee rondom 4,5 % beweeg. Voedselinflasie staan tans op sowat 3,5% en toon al ’n paar maande ’n dalende neiging.

Voedselverwerkers onder druk

Tabel 1 gee ’n opsomming van die dalings in die bedryfswins van die grootste voedselverwerkers in Suid-Afrika in hul jongste verslagdoeningstydperk. Daar was deur die bank ’n aansienlike daling in hul bedryfswins omdat hulle nie alle grondstof- en verwerkingskoste kon deurgee in hul pryse aan die kleinhandel en die verbruiker nie.

Onthou ook dat die paar groot kettingwinkelgroepe skynbaar bykans 80% van die voedselverkope hanteer. Hul het ’n besondere houvas op hul verskaffers om nie volle koste elke jaar deur te gee nie.

Die groot voedselverwerkers probeer ’n deel van hul kostestygings verhaal deur doeltreffender te wees en marges te sny – en natuurlik nie te veel vir landbougrondstowwe te betaal nie. Die newe-effek van die bose kringloop is dat die groot verwerkers die voordele van skaalekonomie najaag, wat dan neig om kleiner ondernemings uit die mark druk. Dit konsentreer die mark natuurlik verder teen boere (verkopers).

Supermarkgroepe plaas druk op die kleiner verskaffers om hul pryse laer te hou, wat hulle uiteindelik uit besigheid dryf. Die werklikheid is dat as verskaffers nie op die paar groot supermarkgroepe se rakke is en aan hul vereistes voldoen nie, is dit baie moeilik om ’n afset te kry vir die produkte van kleiner voedselverwerkers en boere wat waarde toevoeg.

Waardetoevoeging van jou produkte op plaasvlak en om dit by die verbruiker te kry, hou probleme en risiko’s in en beteken nie noodwendig meer wins in jou sak nie. Die advies aan mediumgrootte boere om self waarde toe te voeg en hul produk op die rak te plaas, moet maar met die nodige knippie sout geneem word. Dit is ’n moeilike proses, wat kapitaal- en bestuurintensief is.

’n Mens kan baie lang debatte hieroor voer, maar die feit bly dit is nie ’n maklike pad nie, veral waar verbruiksbesteding nou onder druk is en verbruikers terugbeweeg na die goedkoper soort produkte en produkte met ’n styselbasis.

Reserwebank se verwagtinge

Tabel 2 gee ’n opsomming van die belangrikste verwagtinge van die Reserwebank rondom enkele sleutelaanwysers en wat die resultaat van sy modelle is. Ek het die rentekoerse self effe laer aangepas vir 2020 en verder, want die Reserwebank steek nie sy nek uit met voorspellings vir rentekoerse nie; ontleders moet tussen die lyne lees.

Tog sê die Reserwebank in sy nuusverklaring dat sy modelle daarop dui dat daar nog ’n rentekoersdaling in 2020 kan wees. Dit is belangrik dat hy verwag dat die groeikoers vir 2019 slegs 0,4% gaan wees, maar dat dit gedurende die volgende drie jaar effens kan verbeter.

’n Rede vir die optimisme is dat hy meen die risiko van ’n wêreldwye resessie het die afgelope tyd baie afgeneem. Sentrale banke oorsee het stappe gedoen om geld in hul ekonomieë te pomp, want hulle kan kwalik rentekoerse verlaag omdat die meeste rentekoers reeds naby nul is.

Die groot onbekende faktor is natuurlik die ruilwaarde van die rand teenoor veral die dollar. As die rand verswak, wat ’n risiko is as die Reserwebank rentekoerse verlaag, kan inflasie weer toeneem weens hoër pryse vir ingevoerde produkte soos brandstof.

Daar is ’n aansienlike verskil tussen rentekoerse in Suid-Afrika en dié in Europa en Amerika. Handelaars gebruik die rentekoersverskille om geld te leen teen rentekoerse naby aan nul en dan die geld in Suid-Afrika teen 8-9% in staatseffekte te belê.

s die verskil in rentekoerse kleiner raak, sal kapi-taalbeleggers voel dit vergoed hulle nie vir die risiko’s wat Suid-Afrika inhou nie, veral omdat in Maart oor ’n breë front ’n laaste kredietafgradering na rommelstatus kan gebeur as die Moody’s-kredietgraderingagentskap Suid-Afrika se skuld afgradeer. Indien Suid-Afrikaanse rentekoerse dan as “te laag” gesien word vir die risiko, sal geld die land uitvloei en die rand vinnig verswak.

Die feit dat rentekoerse verlaag en inflasie na verwagting laag gaan bly, sal natuurlik help om ekonomiese groei te ondersteun. Beter ekonomiese groei wat minstens begin styg, sal ’n groot verbetering wees op die afgelope tien jaar se voortdurend dalende neiging en dit kan tot die landbou se voordeel wees.

Tensy daar tekorte is, is dit selfs vir landbouprodukte baie moeilik om hoër pryse deur te gee na die verbruiker as hulle onder druk is soos tans. Maak net seker jou kredietverskaffer gee wel die laer rentekoers aan jou deur, want elke bietjie help.