Mnr. Nick Liebenberg, uitvoerende hoof van Laeveld Agrochem, vertel hoe die onderneming van ’n familiesaak gegroei het tot die reus wat vandag in vier lande sake doen, en steeds deur ’n persoonlike aanslag gekenmerk word.

Hoe het dit gebeur dat jy van ’n salaristrekker in ’n sake-eienaar verander het?

Mnr. Nick Liebenberg, uitvoerende hoof van Laeveld Agrochem. FOTO: LAEVELD AGROCHEM

Nick Liebenberg:

Dit kos waagmoed, ’n goeie plan en baie geloof om ’n standvastige werk te verruil vir ’n onsekere toekoms as entrepreneur. Ek het in die laat 1980’s besef dat dinge nie net in die land verander nie, maar ook op besigheidsvlak. In daardie stadium was ek die bemarkingsbestuurder by Bayer.

Destyds het multinasionale ondernemings, soos Bayer, besluit om agente en handelaarskappe te gebruik vir verspreiding, pleks van ’n groot span verteenwoordigers. Ek en ’n paar vriende, nou almal aandeelhouers, en my seun Corné het toe die kans waargeneem om self een van hierdie handelaarskappe te begin.

Sedertdien het ’n klomp van die kleiner handelaarskappe weggeval en talle daarvan is in groter handelaarskappe gealmalgameer. Laeveld Agrochem is een van die oorspronklike handelaarskappe wat die toets van die tyd deurstaan het.

Wie het hierdie sprong saam met jou aangepak?

Ek het die onderneming saam met Corné begin. Hy is tans direkteur van bemarking by Laeveld Agrochem. Om ná 20 jaar as ’n salaristrekker in ’n entrepreneur te verander was ’n groot stap. Ons het niks gehad nie en almal in die huis het ingespring om te help waar hulle kon.

Gelukkig het ek deur die jare goeie verhoudings met ’n wye netwerk mense in die bedryf opgebou en natuurlik was daar ook die goeie verhouding met Bayer en die geleentheid om die maatskappy se produkte te versprei. Daardie jare het ons met die skud van ’n hand sake gedoen. Vandag is integriteit steeds die ruggraat van ons onderneming se sukses. Die sukses wat ons behaal het, is alles net genade.

Ná 27 jaar het die tyd om die leisels te oorhandig seker aangebreek?

My tyd om af te tree is amper hier en ek is besig om stadig, maar seker my verantwoordelikhede aan die nuwe geslag te oorhandig. Ek sal altyd by die maatskappy betrokke bly, al tree ek af. Dit is vir my lekker en opwindend om elke dag te werk. Ek sal dus beslis nie net langs die see gaan sit nie.

Hoe lyk jou opvolgbeplanning om kontinuïteit te verseker?

Ons het gesoek na iemand wat my rol sal kan vervul met soortgelyke tegniese kennis oor die bedryf, dieselfde sakevisie en sterk bestuursvaardighede. Ons opvolgbeplanning sluit nie net familielede in nie, maar ook mense wat soos familie voel. In mnr. Ian Mansfield het ons daardie mens gevind. Hy is tans hoof van aankope.

Ek en Ian het soortgelyke persoonlikhede en het selfs dieselfde posisie in rugby gespeel. Ons ervaring en loopbaanervaring stem ook ooreen. Hy het sowat 15 jaar lank by Syngenta gewerk en daar waardevolle bedryfskennis opgedoen. In die nabye toekoms sal hy die bedryfsbestuur van die onderneming oorneem.

Laeveld Agrochem het ’n reuse-produkaanbod. Hoe belangrik is die verhouding met jul verskaffers?

Ons het ’n groot mandjie produkte. Of jy nou met mango’s of lietsjies boer – ons het ’n verskeidenheid opsies en ons ondersteun graag maatskappye wat produkte self ontwikkel. Die gewasbeskermingsreeks sluit ’n verskeidenheid produkte van verskillende maatskappye in. Dit behels grootliks onkruiddoders, insekdoders, swamdoders en plaagdoders.

’n Reeks biologiese produkte en dieregesondheidsprodukte is ook beskikbaar. Ons uitgebreide netwerk handelaars en takke word onderhou deur ’n span hoogs opgeleide deskundiges in gewasbeskerming. Laeveld Agrochem is lid van CropLife Suid-Afrika en onderskryf die gedragskode van die vereniging.

Ons wil die oorsprong van produkte en verdere produkontwikkeling steun. Hierdie bronne sluit maatskappe soos Bayer, AgriTechnovation, Rolfes Agri, Syngenta, Dow AgroSciences en Villa Crop Protection in.

Dit is ons beleid, want dit is waar die “kombuis” vir nuwe en beter produkte is. Die verhouding tussen ons en hierdie maatskappye is op ’n persoonlike vlak gevestig en ek meen dit verbeter ook die sakeverhouding en vertroue tussen ondernemings.

Hoe bevoordeel jul netwerk agente die boere met wie julle sake doen?

Mnr. Corné Liebenberg, Laeveld Agrochem se direkteur van bemarking. FOTO: LAEVELD AGROCHEM

Corné Liebenberg:

Waardetoevoeging en die ontsluiting van geleenthede is een van Laeveld Agrochem se sterk punte. Vandag doen die maatskappy sake oral in Suid-Afrika, asook in Namibië, Botswana en Zambië. Ons is meer as net ’n gifsmous, ons bevorder voedselsekerheid deur ’n gesondheidsdiens aan die landbou te verskaf om só oeste te optimaliseer.

Hierdie optimalisering behels meer as net produkverkope en sluit adviesdienste en praktiese hulp en dienste aan die boer in. Dit sluit in om protokolle vir uitvoer uit te werk sodat geen ongewenste chemiese residue op produkte agterbly nie. Laeveld Agrochem se sowat 135 agente en 70 verspreidingsdepots werk saam om in elke plaas se spesifieke behoefte te voorsien.

Om die regte produkte of spesialiteitsmengsels te lewer, werk die agente saam met die boer. Daarvoor gebruik ons verskillende ontledings, grondprofiele en vergelykende produksiesyfers van die streek om te sien of dit mededingende resultate vir die boer oplewer. Vertroue bou jy op met verloop van tyd.

Die meeste van ons agente is ouer as 50 en dit dui op die kennis en vertroue wat oor dekades tussen ons en kliënte gebou is. Ons ken mekaar én die probleme van die verskillende plase. Die maatskappy se leuse, “Saam boer ons vooruit”, lê almal na aan die hart. Dit is nie net ’n bemarkingsfoefie nie.

Ons is nou al baie jare aan die gang en daardie “saam” van “saam boer ons vooruit” gaan beslis oor die werklikheid van elke dag saam met die boer aan ’n beter oes werk. Die dienstekomponent van Laeveld Agrochem het die afgelope paar jaar uitgebrei om presisieboerdery lonender te maak. Hiervoor is die rekenaarbestuursprogram MyFarmWeb juis ontwikkel.

Corné, jou bemarkingsplanne was nog altyd ’n bietjie anders as dié van jul mededingers. Hoekom is dit julle aanslag?

Ons meen dit is nodig om binne die boerderygemeenskappe waar ons sake doen ’n verskil te maak aan meer as net boere se oeste. Laeveld Agrochem is daarom betrokke by verskillende boeredae en landbouskoue, maar ook musiekkonserte en rolprentprojekte wat die Afrikaanse kultuur bevorder.

As jy van flieks soos Vir altyd en Pad na my hart gehou het, weet dat Laeveld Agrochem deel was van die span wat dit moontlik gemaak het. Ons ploeg graag terug. Hierdie belegging in kultuur, flieks en ons “klein dorpie-fliekaande” se vertonings, ondersteun Afrikaans en Suid-Afrikaanse kunstenaars. Só help ons ook om vermaak te bring aan die plattelandse gemeenskappe waar ons sake doen.

Vanjaar pak julle ’n bootreis aan. Vertel meer oor die projek.

CL:

Die opgewondenheid is groot oor Laeveld Agrochem se Landbou-Seil-Safari-bootreis op die MSC Sinfonia van 9 tot 13 April. Dit is die eerste jaar dat ons hierdie projek aanpak. Dit is spesifiek geskep vir boere en hul gesinne om saam te kan ontspan en leer. Die bootreis is na die Portugese Eiland van Mosambiek, saam met vermaak en ontspanning met die geleentheid om na kenners te luister.

Dié kenners sal gesels oor landbousake, nuwe produkte, tegnologie en boerderymetodes wat winsgewendheid en volhoubare produksie ondersteun. Suksesvolle boere gaan van hul geheime verklap en die vermaaklikheidsprogram loop oor van die land se grootste Afrikaanse sterre.

Die maatskappy het aanvanklik in die Laeveldstreek sake gedoen, vandaar die naam. Deesdae is produkte vir alles van sitrusplase in die Laeveld tot vrugteboorde in die Wes-Kaap beskikbaar. Laeveld Agrochem se verspreidingsnetwerk strek oor al die provinsies en deesdae ook in Botswana, Namibië en meer onlangs in Zambië. FOTO: LIZA BOHLMANN

Laeveld Agrochem speel ’n groot rol in die landbou in Suider-Afrika. Tog bly julle in wese ’n familie-onderneming. Hoe werk dit in die praktyk?

NL:

By ons maatskappy beur ons weg van ’n té streng korporatiewe atmosfeer in die onderneming. Só word die hegte band tussen familie en vriende na die onderneming oorgedra en dit sorg vir wedersydse vertroue en respek. Ons gesin en aangetroude familie vorm deel van die bestuurspan. Corné het as ’n baie jong man saam met my die onderneming begin en dit is vir my lekker om hom te sien groei in sy pos as direkteur van bemarking.

Sy vernuf met finansiële sake en bemarkingsidees is belangrik vir die groei en visie wat ons vir Laeveld Agrochem het. Ek en my vrou, Dalene, is reeds 50 jaar getroud en ook sy het van meet af aan gehelp om die onderneming aan die gang te kry. Dalene en pa Piet het nagte deur gewerk om die fakture en papierwerk klaar te kry toe dit nog net ek en Corné in die onderneming was. Deesdae is daar genoeg plek vir drie geslagte om by die onderneming te werk.

Ons dogter, Liezel, is betrokke by die onderneming as bestuurder van menslike hulpbronne. Haar man, mnr. Rudi Allers, is ook reeds sowat 20 jaar by Laeveld Agrochem betrokke en is tans die direkteur verantwoordelik vir krediet- en personeelbestuur. Rudi en Liezel se oudste seun, Ruaan, begin nou ook sy voete in die maatskappy vind.

Ons ander seun, Wouter, is finansiële bestuurder. Die ondersteuning van jou gesin, familie en vriende, is belangrik in ’n familiemaatskappy. Ons kan mekaar vertrou en op mekaar steun – of dit nou by die kantoor of by die huis is. Hierdie waardes leef ons elke dag ook in ons maatskappy uit. Sodra jy met ons sake doen, stap ons ’n pad saam met jou en word jy deel van ons familie se omgeekring.