Dit wil voorkom of die regerende ANC se meedoënlose standpunt van die laaste paar maande – dat onteiening sonder vergoeding op groot skaal as beleid voorgestaan word – in die proses is om deur werklikhede getemper te word. Die standpunte van die landbou is welbekend.

So ook die standpunte van finansiers en ander ingeligte ontleders oor die reuse- skade wat die voorstaan van só ’n beleid reeds aangebring het nog voor sodanige wetgewing deurgevoer kon word. Afgesien van die kwaai plaaslike kritiek oor die beleid, het dit ook begin duidelik word dat Suid-Afrika heelwat internasionale ooreenkomste gaan skend.

Die land loop ook die gevaar om uit Amerika se Agoa-handelsooreenkoms geskop te word. Dit is ’n ooreenkoms wat jaarliks hersien word. Die lande wat spesiale voorkeurtoegang tot die Amerikaanse mark kry, moet aan sekere demokratiese beginsels voldoen en onteiening sonder vergoeding is strydig met daardie beginsels.

As Suid-Afrika van die ooreenkoms uitgesluit word, wat glo kan gebeur, gaan die land miljarde rande skade ly met ’n wye reeks uitvoerprodukte, soos met die uitvoer van motors na Amerika. Dit hang saam met die erkenning van mnr. Trevor Manuel, voormalige Minister van Finansies, dat dit moeilik gaan om beleggings te werf solank dié beleid voorgestaan word.

Land Bank se rol

Die Land Bank is ’n staatsonderneming. Dié bank het met die bekendstelling van sy jaarverslag en finansiële resultate die Regering daarop gewys dat die toepassing van so ’n beleid tot gevolg sal hê dat die Regering onmiddellik moet instaan vir leningswaarborge van sowat R43 miljard aan die Land Bank.

Komende van die direksie van ’n staatsonderneming wat die landbou bevorder, het dit skynbaar nuwe lig vir die ANC op die donker saak gewerp. Dit het ook grootliks verdere steun aan die georganiseerde landbou se standpunte gegee.

Die georganiseerde landbou is bereid om met die Regering saam te werk binne ’n markgedrewe, kapitalistiese stelsel – waarvan eiendomsreg die hoeksteen is – om suksesvolle grondhervorming te bevorder. Die Land Bank se lenings is volledig in die landbou.

Sy mandaat is om eerstens die kommersiële landbou en tweedens die opkomende landbou te finansier en te bevorder. As ’n onderneming wat volledig aan die staat behoort, het die Land Bank ’n ontwikkelingsmandaat ingevolge waarvan die voorsiening vir slegte skuld minder as 10% van dié lenings uitmaak.

Ondanks die mandaat is sowat 80% van die lenings toegestaan aan die kommersiële landbou en sowat 20% aan die opkomende landbou. Die totale leningsboek het einde Maart 2018 op sowat R43 miljard gestaan. Terloops, goeie lenings aan die kommersiële landbou (met ’n baie lae persentasie slegte skuld) help om die lenings met ’n hoër risiko aan die opkomende landbou te balanseer.

Grafiek 1 toon die aandeel van die Land Bank in die totale uitstaande landbouskuld, soos op 31 Desember 2017, soos gepubliseer deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. Die kommersiële banke hou 61% van die uitstaande landbouskuld, teenoor die Land Bank se aandeel van 27,2%.

Landboubesighede (koöperasies) het sowat 7% van die uitstaande landbouskuld gehou. Dié skuld moenie verwar word met lenings wat deur die jaar loop nie, soos produksielenings wat seisoenaal is en redelik hoog oploop en weer afgelos word. Dit word nie in die uitstaande saldo’s weerspieël nie.

Die landbou het in 2016-’17 sowat R137 miljard aan produksiemiddele bestee by landboubesighede en ander verskaffers van produksiemiddele. Daarvoor moet boerderye sekuriteit verskaf om hul produksielenings in stand te hou. Land Bank se finansiële status Die Land Bank se totale bates het op 31 Maart 2018 sowat R49,4 miljard beloop, waarvan voorskotte en lenings R43,4 miljard beloop het en eie kapitaal en reserwes sowat R6 miljard.

Dié samestelling word in grafiek 2 getoon. Dit beteken dat die Land Bank se eie kapitaal sowat 13,3% beloop waarteen slegte skulde verreken kan word voor die Land Bank insolvent is. Dit kán gebeur.

’n Aantal jare gelede was die Land Bank in groot moeilikheid omdat sy slegte skulde sy kapitaal uitgewis het en die staat as alleenaandeelhouer ’n kapitaalbydrae moes lewer om die besigheid weer solvent te kry. Die Land Bank se bron van geld is die geld- en kapitaalmark.

Dié geld word op grond van streng voorwaardes bekom, onder meer die eksplisiete voorwaarde dat as daar probleme met die sekuriteit van die lenings is, moet die staat instaan en die lenings aflos.

Dít is waarteen die Land Bank die ANC gewaar- sku het, want die sekuriteit sal noodwendig vernietig word deur ’n beleid wat die eiendomsreg van landbougrond – en dus die sekuriteitswaarde daarvan – aantas.

Die Land Bank het sy leningsboek sterk laat groei en markaandeel weggeneem by ander finansiers (grafiek 3).

In 2007 was die Land Bank se aandeel van landbouskuld sowat 11,3%, oftewel minder as R5 miljard. Die leningsboek is redelik aggressief uitgebou, veral in die kommersiële landbou (om winste te lewer sodat lenings met ’n hoër risiko aan die opkomende landbou gegee kan word).

Die Land Bank het in die boekjaar 2017-’18 wins van R254 miljoen gemaak op bates van R43 miljard, wat ’n lae rendement op kapitaal is. Die dilemma daarmee is dat dit nie ’n besondere sterk balansstaat is om slegte skulde te verwerk nie. Nog minder is daar ruimte as voorsiening vir slegte skuld verhoog moet word.

Dan moet ’n mens ook onthou as die waarde van grond, wat die eerste vorm van sekuriteit is vir verbande, met meer daal as eie kapitaal en reserwes wat 13% van bates is, word die bank insolvent. Aangesien grond as sekuriteit vir verbande dien, sal enige beleid wat die waarde van grond laat daal, die Land Bank insolvent maak.

Volgens die Land Bank se finansieringsmodel en die wyse waarop hy geld in die geld- en kapitaalmark leen, sal alle lenings aan die bank dadelik opgeroep word en die staat sal daarvoor moet instaan. Dít is die feite wat die Land Bank met die bekendstelling van sy jaarverslag op die tafel geplaas het.

In die finansiële media is wyd daaroor berig. In die laaste deel van Augustus was daar groot woelinge in die landbou met onder meer Landbouweekblad en Agri SA se grondberaad en gesprekke met pres. Cyril Ramphosa en adj.pres. David Mabuza. Dit het die dwaasheid van so ’n beleid beklemtoon.

Dit het politici ook laat besef dat daar ander oplossings vir grondhervorming is. Die ooreenkoms wat vyf organisasies in die georganiseerde landbou gesluit het om saam te werk om oplossings binne die raamwerk van beskerming van eiendomsreg te vind, het ook ’n groot rol gespeel om die debat te beïnvloed.

Dit is duidelik dat die gesprek en uitsprake binne twee weke van grondonteiening na grondhervorming geswaai het.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.