Die mosie in die Parlement oor die moontlike aanpassing van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding toe te pas het hewige en uiters emosionele debatte ontketen.

Die feit dat meer as 140 000 voorleggings in enkele weke gestuur is aan die komitee wat die kwessie ondersoek, gee ’n aanduiding van die groot aantal belanghebbendes en idees rondom die onderwerp van grond, die landbou en natuurlik woongrond.

Terloops, die kommersiële landbou het al etlike jare die standpunt – en dit word nou weer bevestig deur gebeure – dat die behoefte nie noodwendig is aan plaasgrond nie, maar eerder aan ’n eie stukkie grond – nie staatsgrond of kommunale grond nie – by stedelike komplekse vir ’n woonhuis en ander aktiwiteite.

Die landbou het ook al lankal aan die Regering vertel dat titelaktes onontbeerlik is vir die suksesvolle verspreiding van grondeienaarskap. Dit het nou in die debatte skielik erkenning begin kry.

Die georganiseerde landbou het in die afgelope paar jaar heelwat bewyse opgebou van geslaagde modelle en wat bereik kan word wanneer die kommersiële landbousektor en opkomende of nuwe landbouers saamwerk. ’n Mens kan net hoop in die huidige geroesemoes kan die suksesvolle modelle as riglyne dien vir die pad vorentoe.

Daar is egter twee aspekte wat dikwels in die debat oor grond misgekyk word: Die landboubedryf word gekenmerk deur ’n mengsel van boerderytipes en terselfdertyd sal ’n debat moet begin oor wat die regte tipe landboubeleid vir die toekoms is.

As Suid-Afrika nie ’n samehangende landboubeleid gaan ontwikkel om die nuwe ontwikkelings vanweë die groter verskeidenheid boerderytipes vanuit ’n beleidperspektief te rig nie, gaan die land weer in slaggate vasval. Die benadering waar die staat selektief net aan swart opkomende boere droogtehulp gee, is byvoorbeeld iets wat met hand en tand beveg moet word.

groter verskeidenheid

In die debatte kom die idee toenemend na vore dat die landbou in Suid-Afrika in die toekoms gegrond gaan wees op ’n groter verskeidenheid boerderytipes as waaraan tot dusver gedink is.

Een van die beste beskrywings wat in die jongste jare gepubliseer is, kom uit die navorsing van proff. Nick Vink en Johan van Rooyen. Dit is bykans tien jaar gelede gepubliseer, maar daar is nie nuwer landbousensusdata nie.

Die tabel gee ’n nuttige opsomming van ’n moontlike klassifikasie van boere in Suid-Afrika. Hierdie tipe verdeling het waarskynlik nie veel verander in die jongste tien jaar nie, buiten dat die groot kommersiële boere effe meer geword het ten koste van middelgroot boere. Boerderye bestaan reeds uit ’n wye verskeidenheid eenhede.

Groot, kommersiële plase het buitebeleggers en professionele bestuur met groot kapitaalbeleggings. Kleiner eenhede produseer kommersieel met die doel om ’n lewensbestaan aan die betrokke familie te gee. Dié boerderye word meestal geklassifiseer as klein en mediumgroot kommersiële boerderye.

Dit is die kategorie wat in die volgende dekade die vinnigste kan groei, mits die Regering sy idees oor grondhervorming reg kan toepas. Die sowat 35 000 ontluikende, kommersiële boere van tien jaar gelede sal opskuif na klein kommersiële boere.

Die kategorie wat sterk groei kan toon, is bestaansboere, wat met die regte beleid kan ontwikkel in ontluikende en klein kommersiële boere. Dit sal dus ’n groot mengsel van boerderye gee waaroor Suid-Afrika nuut moet begin dink.

Gekoördineerde beleid

As die Regering ernstig is om ’n nierassige, kommersiële landbousektor te skep wat uit verskillende boerderytipes en groottes bestaan, is dit noodsaaklik dat ook herbesin word om ’n landboubeleid te ontwikkel wat die verskillende tipes plase sal ondersteun en rig.

Dit is iets wat Suid-Afrika tans nie het nie. ’n Samehangende landboubeleid verg heelwat navorsing en insette, soos Amerika se sogenoemde “Farm Bill” wat elke vyf jaar grondig hersien word en die landboubeleid – en dus ook staatsbesteding – rig.

Dit was oor die jare baie suksesvol om die Amerikaanse landbou te laat groei, want dit verseker ’n samehangende landboubeleid wat al die aspekte omvat ná deeglike navorsing en debat. Landboubeleid moet uit ’n samehangende pakket bestaan wat die sektor in staat sal stel om sy oogmerke te bereik.

Lande se landboubeleid het nogal heelwat ooreenstemmende doelwitte.

Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) sê landboubeleid moet gerig wees op die volgende aspekte:

  • Die lewering van voedsame en bekostigbare voedsel;
  • Produsente moet in staat gestel word om hul lewenstandaard te verbeter deurdat hulle in ’n oop en deursigtige handelsomgewing kan handel dryf;
  • Ondersteuning en aanpassing by klimaatsverandering en meegaande rampe en die vermoë om risiko’s te kan bestuur;
  • Die verskaffing van openbare infrastruktuur;
  • Ondersteuning om te kan bydra tot ekonomiese groei en ontwikkeling; en
  • ’n Geïntegreerde benadering tot voedselproduksie en voedselveiligheid.

Interessant is dat die OESO bevind het dat sowat 60% van die lande in die groep ’n beleid het om binnelandse pryse te stut op vlakke wat hoër is as die internasionale prysvlakke en ook dat die vlakke van beleidsondersteuning aan die landbou in baie lande aan die toeneem is, terwyl steun aan die landbou in Suid-Afrika in die afgelope 20 jaar gedaal het.

Wat is van die elemente waaroor eenstemmigheid verkry moet word in ’n oorkoepelende, samevattende beleidsdokument wat die landbou kan rig en elke vyf jaar hersien kan word saam met die begrotingsproses?

  • Hulpbronbeskerming en die bestuur van skaars hulpbronne het op groot skaal agterweë gebly. Dit sluit veral die waterbronne in wat op groot skaal besoedel word.
  • Toegang tot finansiering vir die verskillende kategorieë boere moet grondig hersien word. Die Land Bank-model moet uitgebrei word om aan nuwe, kleiner kommersiële boere goedkoop, sagte lenings te gee – soos die ou Landboukredietraad – met titelaktes as sekuriteit.
  • Navorsing, ontwikkeling en voorligting, asook siekte- en plaagbeheer moet drasties verbeter. Die beste benadering sal waarskynlik ’n privaatsektormodel wees wat met begrotingsgeld, heffings en private projekte gefinansier word na behoefte, maar op gekoördineerde grondslag, soos die graanbedryf se huidige benadering.
  • Toegang tot markte. Die huidige landboubemarkingsbeleid het ten doel om landboubemarking te dereguleer, wat wel gedoen is. Die dilemma is nou dat landbouverwerking en handel aan die afsetkant so gekonsentreerd geraak het dat dit vir boere met kleiner volumes en wat nismarkte wil bedien, baie moeilik is om marktoegang op gelyke voet te kry. Die vier supermarkgroepe oorheers die kleinhandel en daar is groot verwerkers wat ook die verwerkingsbedrywe oorheers. Die suksesvolle vestiging van nuwe, kleiner kommersiële boere is in so ’n beleidsomgewing gedoem.
  • Gekoördineerde handelsbeleid wat in pas is met die binnelandse ontwikkelingsdoelwitte van die landbou en ’n mate van beskerming teen goedkoop ingevoerde produkte verskaf, is ’n voorvereiste vir die sukses van kleiner en mediumgroot boere.
  • Staatsondersteuning in die geval van rampe – ongeag ras of plaasgrootte – moet deel uitmaak van ’n omvattende landboubeleid om suksesvolle nuwe boere te vestig en bestaandes op plase te hou.
  • Gekoördineerde voedselveiligheidsmaatreëls wat deur een reguleringsowerheid toegepas word, is noodsaaklik. Die owerheid moet ook beheer oor die gehalte van ingevoerde produkte uitoefen. Sekere lande plaas voedselsubsidies aan armes ook onder die beleidsdoelwitte. In Suid-Afrika word dit as deel van sosiale toelaes gesien.
  • Die herbou van die plattelandse ekonomie, infrastruktuur en veiligheid is ’n aspek wat verwaarloos is. Die agteruitgang op dorpe en in plattelandse infrastruktuur, saam met die armoede wat daar intree, verhoog die veiligheidsrisiko op die platteland.