Tufflex Plastic Products het die eerste Suid-Afrikaanse plastiekherwinningsmaatskappy geword wat die Operation Clean Sweep- (OCS) belofte onderteken het. Dit is ’n internasionale rentmeesterskapprogram wat ontwerp is om die verlies van plastiekhars in die vorm van korrels, vlokkies en poeiers te voorkom en te keer dat dit in die mariene omgewing beland. Plastiek Suid-Afrika is die lisensiehouer van die Declaration of the Global Plastics Associations for Solutions on Marine Litter, en het reeds in Maart 2011 die belofte onderteken.

As deel van die toepassing van die OCS-belofte kry maatskappye wat dit onderteken, die nodige ondersteuning in die vorm van ’n handleiding en bruikbare voorstelle om hulle te help om veilige en omgewingsverantwoordelike vervaardigingsprosesse en prosedures in werking te stel.

“Herwinners speel ’n belangrike rol in die plastiekwaardeketting. Ons het dieselfde verantwoordelikheid as alle ander belanghebbendes om te verseker daar is minimale lekkasie en vermorsing van korrels en ander onnodige afval in die omgewing,” sê mnr. Charles Muller, bestuurshoof van Tufflex.

Tufflex se grondstofafdeling verskaf herwonne polimere aan ’n groot deel van die plaaslike plastiekbedryf. Hy produseer ook produkte soos spoorwegstawe, meubels, vullisdromme, dekke vir wandelpaaie en palette van herwonne huishoudelike en nywerheidsplastiek.

Volgens Muller is dit die maatskappy en sy werknemers se voorneme om hul omgewingspoor so klein moontlik te hou deur die polimere wat hulle gebruik, verantwoordelik te bestuur en die toevallige vrystelling daarvan in die omgewing te voorkom.

Die OCS-belofte is ook onlangs deur die Suider-Afrikaanse vereniging van plastiekpypvervaardigers (SAPPMA) onderteken. Die organisasie verteenwoordig nagenoeg 80% van alle Suid-Afrikaanse plastiekpypvervaardigers. SAPPMA sê deur die ondertekening is hy verbind tot die bekamping van plastiekkorrels in die omgewing. Hy gaan ook sy lede aanmoedig om in hul eie hoedanigheid die belofte te onderteken.

Die belofte is reeds deur verskeie plastiekmaatskappye, soos Polyoak Packaging, Berry Astrapak, Sasol en Safripol, en verskeie produsente-verantwoordelikheidsorganisasies, soos Petco, Polyco, die Suid-Afrikaanse Vinielvereniging en die Polistireenvereniging van Suid-Afrika, onderteken.

Volgens mnr. Douw Steyn, verantwoordelikheidsdirekteur van Plastiek SA, is dit verblydend dat groot belanghebbendes die belofte onderteken het en hul steun voeg tot die bekamping van plastiek wat onnodig in Suid-Afrika se waterbronne, soos waterweë, vleilande en oseane, beland. “Voëls en seediere verwar maklik die klein stukkies plastiek met voedsel.”

Luidens ’n artikel in die Augustus 2020- uitgawe van National Geographic is navorsing oor mikroplastiek (brokkies van 5 mm of kleiner) nog in ’n vroeë stadium omdat studies tot dusver op groter stukke plastiekafval toegespits was. Wetenskaplikes meen egter dié kleiner stukkies plastiek het reeds wêreldwyd versprei – van die diepste oseaanskeure tot die hoogste bergspitse. Die stukkies plastiek is soms só klein dat dit deel uitmaak van die stof wat oor die aarde tot hoog in die atmosfeer gewaai word.

Dit is nog onseker wat die uitwerking van die plastiek op die mens is. Daar is reeds gevind dat mikroplastiek nadelig vir visse en ander mariene en varswaterwildlewe is. Dit sluit die ontwrigting van voortplantingstelsels, belemmerde groei en ’n swak eetlus in, veroorsaak weefselinflammasie en verander voedingsgedrag.