Dit is werklik goed om ’n man van sy kaliber in landbougeledere te hê wat na die belange van die boer, wat soms stemloos is, omsien. Hy sorg nie net dat sake in die grootste groentebedryf in Suid-Afrika glad verloop nie, maar hy bewaar al die noodsaaklike afsetpunte vir vars produkte soos goud.

As daar probleme is by die varsproduktemarkte, dan onderhandel hy namens die boere. As daar met regulasies ’n probleem is, dan tree Jooste in as ’n vennoot van die boer. Hy is ’n gesiene en hooggeagte man in die politieke kringe. Manie haal sy hoed vir hom af. Daar is skaars ’n bedryfsliggaam wat meer bruikbare inligting en navorsing aan sy lede beskikbaar stel as Aartappels SA.

Manie krap egter sy kop oor die prys van aartappels wat in die winter om die dood nie tot hoër as R32 per 10 kg-sakkie wil klim nie en selfs tot so laag as R26 per sakkie daal.

Elke winter hoor ons Jooste sê die kosteknyptang haal die aartappelboere in, maar elke winter lê daar daagliks meer as 1,1 miljoen sakkies op die markte. Agente vermag die byna ondenkbare en verkoop elke dag 300 000-400 000 sakkies. Dit is boere wat die markte só vol laai. Daaraan kan Jooste niks doen nie.

As na kenners, soos dr. Johann Willemse, dr. Johann van der Merwe en mnr. Jaco Oosthuizen, geluister word, dan is die prysbepalingsmeganisme van die varsproduktemark die doeltreffendste manier om te verseker dat daar volgehoue waarde vir die verbruiker én die produsent in die voedsel-waardeketting bestaan.

Teen gemiddeld slegs R30 per sakkie, is dit moeilik om te glo dat daar genoeg waarde vir die produsent is. Dalk kan sommige boere die swak R30-branders langer ry as ander, wat beteken die minder as 600 aartappelboere, wat min of meer op dieselfde aantal hektare boer as wat meer as 1 000 boere in die 1990’s geboer het, gaan net aanhou minder raak.

Manie wonder of die land dit kan bekostig en waar die oplossings vir hierdie neigings lê?

Wie gaan ná die droogte oorbly?

Landbouweekblad het goeie reaksie gekry op die afgelope paar weke se artikels oor die planne wat boere in die droogte beraam en die lesse wat hulle geleer het. Boere met wie ons gepraat het, is ook baie bekommerd oor die ontvolking van die droogtegebiede en die gevolge wat dit vir hul voortbestaan inhou.

Willemse Visser wat tussen Pofadder en Brandvlei boer, sê plase staan leeg, mense het ’n ander heenkome gaan soek. Daar is 13 jong boere uit hul distrik weg, “Boland toe, op ander skaapplase gaan werk, ry ’n bietjie lorrie, hul vroue werk, of hulle gaan werk in die buiteland.”

Tog was die boerekinders se buitelandse inkomste die afgelope paar jaar ’n groot uitkoms. Hulle kon hul ouers help om hernieubare plaaskragstelsels wat die einde van hul pad bereik het, te verbeter, koöperasierekeninge te betaal en vragte lusern te koop. Vir sommige boere en hul gesinne was dit ’n groot uitkoms om ’n paar maande lank in Amerika te gaan werk – ás hulle voor die Covid-19-valbyl kon landuit kom. Ongelukkig gaan baie van hulle nie terugkom nie.

Wilhelm Steenkamp, een van die jonger garde wat só baie vir sy tuisgemeenskap Williston doen, sê dit is sleg as jong mense weggaan. Baie van hulle het nog grond, maar het “net die plaashekke toegemaak, daar is nie vee op die plaas nie en die buurman kyk nou maar daar”.

Die uitwerking op hul gemeenskapslewe is sleg en hy is jammer dat sy kinders dalk nie maatjies gaan hê nie, want die kans is skraal dat die boere wat weggegaan het, gaan terugkom. Dit is nie net mense wat weggaan nie, hulle vat ook hul energie en vernuwende denke saam.

Boonop loop die gebiede ook op ’n ander manier leeg. Mense is nog op hul grond, maar daar is al hoe minder van hulle wat nog ernstig boer met net ’n paar slagvee om die huis. Hulle sal dalk ophou om roofdiere in toom te hou en hul grensheinings in stand te hou. Dít kan die wêreld vir hul bure warm maak.

Inperking knou ook werkgeleenthede

Dit is nou meer as 100 dae nadat die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika uitgebreek het. Die nadelige gevolge van die uitgerekte landwye inperking raak al hoe sigbaarder met sakeondernemings wat hul deure heeltyds toemaak en mense wat hul werk verloor. Elke dag hoor Manie van maatskappye wat werkers wil aflê.

President Cyril Ramaphosa het ook sy kommer daaroor uitgespreek. Hy sê hierdie “tsoenami van werkverliese” kom in bykans elke land voor waar daar een of ander vorm van inperking was. Deurentyd was almal bewus daarvan dat daar nadelige gevolge sou wees, maar hy sê dit was absoluut noodsaaklik ter wille van die red van menselewens.

Reeds in April het die internasionale arbeidsorganisasie voorspel dat daar wêreldwyd sowat 305 miljoen werksverliese sou wees. Die situasie van werkers in die informele sektor is selfs meer benard met ’n beraamde verdere 1,6 miljard mense wat die gevaar loop om hul heenkome te verloor.

In die landbou lyk die prentjie effens beter. Dié sektor kon in ’n groot mate normaal voortgaan. Met groot somergraan- en sitrus-oeste is daar baie hande in die lande en boorde nodig. Kort voor Statistieke SA se bekendmaking van die eerste kwartaal se arbeidsyfers verlede week was die verwagting nog dat die landbou se syfers soortgelyk as die laaste kwartaal van 2019 se 885 000 sou wees.

Gr. 7-leerlinge se eksamenantwoorde

Vraag: Waarvoor word beesvelle gebruik? Antwoord: Om die bees binne te hou.

V: Wat is outobiografie? A: Dit is die ontstaan en geskiedenis van die motorkar.

V: Noem vyf dinge wat melk bevat? A: Kaas, botter en drie koeie.

V: Wat is die verlede tyd van eet? A: Honger.

V: Wat is die verkleinwoord van Oupa? A: Kleinseun.

V: Wat is die teenoorgestelde van kleinneef? A: Kleinteef.

V: Voltooi die volgende idioom: Hoe meer haas . . .? A: Hoe groter die haaspastei.

V: Wat is die doel van die kies-en oogtande? A: Die kiestande kou die kos en die oogtande kyk dat hulle die kouwerk goed doen.