Die manne by Agri SA en TLU SA is maklik in die visier. Manie hoor gereeld ’n onderwerp waaroor almal ’n eiertjie wil lê: “Maar wat doen hulle vir ons met daardie ledegeld?”

Wel, Manie wil maar net sê dat hy altyd verbaas is wanneer hy hoor hoeveel daar wél gedoen word (talle kere redelik ongesiens) om na boere se belange om te sien. Dit is ook wanneer dit sleg gaan (soos nou) dat daar besonder hard agter die skerms gewerk word.

Spesifiek word tans probeer om die brose vrede in die landbou te bewaar soos daar gestoei word om ’n nasionale groeiplan vir die landbou daar te stel. Dié plan sal tot voordeel van die hele ekonomie strek. Het ons nie net verlede week gesien hoe die landbou se insinking van byna 30% die hele ekonomie lelik laat les opsê het nie?

Gelukkig, op redelik tipiese Suid-Afrikaanse manier, lyk dit asof ons dit reggekry het om in ’n mate tot besinning te kom en saam te begin werk noudat die nood kwaai begin druk en gemoedere begin hoog loop het oor uitsprake rondom onteiening sonder vergoeding.

Die nuwe, oorkoepelende landbouplan waaraan die landbou tans woeker (wil dit Manie voorkom) het sy ontstaan gehad op ’n vergadering wat Roelf Meyer se In Transformation-inisiatief met Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister in die Presidensie, op 15 Augustus bemiddel het.

Dié vergadering is bygewoon deur John Purchase van Agbiz, Dan Kriek van Agri SA en Francois Strydom van Senwes as verteenwoordigers van die groter landbou- en landbousakesektor.

Blykbaar, vertel Manie se spioene vir hom, was die goeie doktor heel oorbluf met die nuus van die driemanskap dat die landbou reeds ’n plan op die tafel kon sit en dat daar nie onnodig tyd gemors moet word nie.

Daarna het ’n verdere vergadering met pres. Cyril Ramaphosa by Tuynhuys op 21 Augustus gevolg waar die opdrag vir die opstel van ’n nuwe landbouplan bevestig is. Manie verstaan ook dat die voorstel dat die landbou op dieselfde manier bygestaan moet word as in die motorbedryf, redelik byval gevind het.

Ramaphosa het ook gevra dat ál die leiers in die sektor met die Regering moet begin saamwerk.

Dan was daar ook die vergadering tussen Cyril se adjunk, David Mabuza, Paul Mashatile, die ANC se tesourier-generaal, en ’n afvaardiging van Agri SA en Agbiz oor die ekonomiese en politieke onsekerheid ten opsigte van grondbesit, gevolg deur die vergadering tussen Agri SA en verteenwoordigers van Suid-Afrika se vernaamste handelsvennote, asook die hoëvlakvergadering die afgelope Vrydag met die ANC se uitvoerende komitee.

Dit wil ál meer vir Manie lyk asof dinge nou behoorlik rigting begin kry.

Laaste kans

Baie sal afhang van die mate waartoe organisasies, soos Agri SA, Afasa, TLU SA en Nafu SA, gaan saamwerk. Daar was natuurlik die dramatiese ondertekening van ’n ooreenkoms binne die georganiseerde landbou om saam ’n nasionale sektorgedrewe landboustrategie te ontwikkel wat op ’n nasionale beraad in November deur die onderskeie organisasies, landboukenners en beleidmakers sy beslag moet kry.

Dit gaan nie maklik wees nie. Daar is hemelsbreë verskille in die uitgangspunte van die verskillende organisasies. Dit is egter nóú die tyd om verskille op die agtergrond te laat en klem te lê op dít waaroor daar wel eenstemmigheid is. Dít moet as die boustene vir ’n nasionale plan gebruik word.

Soos wat die oudstryder en voorslagboer Japie Grobler van Asuf (wat moet sorg dat niemand dwars trek nie) tereg waarsku: Hierdie kan die heel laaste geleentheid wees om saam ’n oplossing te vind.  

Oog van die bal af?

Met al die politieke gegons oor grondhervorming, wil Manie net waarsku dat ons nie ons oë van die droogte-bal moet laat dwaal nie. Dinge lyk maar nog lelik op baie plekke. In teenstelling met die grondkwessie bly die knellende droogte ’n suiwer maat- skaplik-ekonomiese probleem.

Vir Manie maak dit dus net sin dat alle betrokke partye – vanaf landbou-ondernemings en landbou-unies tot boere en burgerlike organisasies – ook hier ’n slag begin saamtrek, politieke verskille ten spyt. Vir Manie lyk dit egter of dit nog nie lekker gebeur nie.

Terwyl die koerante vol is van nuus oor hoe liefdadigheidsorganisasies, soos Boere in Nood en Gift of the Givers, alles in hul vermoë doen om sukkelende boere met voer by te staan, sal Manie graag wil sien dat die landbou-unies en produsente-organisasies soos destyds in 2014-’15 groter erns van die saak maak.

Die Sybokhaartrust het wel al so ’n bietjie probeer help deur die koste van voer te betaal, maar volgens een Angoraboer het hy in 12 maande tot dusver net sowat R1 600 se hulp uit daardie bron ontvang. En dít terwyl die trust meer as R300 miljoen werd is . . .

Manie verstaan dat die trust hoofsaaklik bestaan uit heffingsgeld wat bedoel was om sybokhaarpryse tydens markinsinkings te stabiliseer. Maar boere voer nou aan dat dit eerder aangewend behoort te word om kuddes in stand te hou aangesien daar geen skeersel sal wees as daar nie bokke is nie. Manie stem saam.

Miskien besef almal nog nie die omvang van die krisis nie – talle boere is op hul knieë, plattelandse ondernemings gaan tot niet, mense verloor hul werk en die natuurlike hulpbronne gaan erg agteruit. Selfs al reën dit binnekort goed, sal dit jare duur voor die streek weer ekonomies en ekologies op dreef is.

Dit lyk net nie reg nie dat boerderye wat miljarde rande werd is, op donasies van die publiek (verbruikers) moet staatmaak. En al word die droogte nog dié week deur vloede gebreek, kan genoemde organisasies gerus die geleentheid gebruik om ’n meer sinvolle, gekoördineerde strategie vir die volgende droogte te beraam.

Boude vryf

Jannie vra sy pa op die veiling waarom hy eers oor die perde se boude vryf voor hy hulle koop. Pa: “Ek maak seker die perd is in ’n goeie kondisie, my seun.”

Jannie: “Pa, dan dink ek daai oom van die plaas langs ons wil vir Ma koop.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.