Verstaan goed, Manie het simpatie met veral vroue en gestremdes as groepe wat dikwels aan die agterspeen moet suig, maar grond is nie ’n geskenkpakkie wat lukraak uitgedeel kan word om mense bly te maak of om hul guns te wen nie. As dit ’n stedelike erf vir behuising is, is dit nog te verstane, maar as dit by landbougrond kom, is dit ’n heel ander saak.

Goeie landbougrond word al hoe skaarser. Daarom is dit noodsaaklik dat begunstigdes van dié grond in staat moet wees om dit produktief te bewerk. Die geskiedenis van grondhervorming tot dusver wys duidelik mense se vermoë om te kan boer, het tot dusver geen rol gespeel nie. Daarby was daar weinig sinvolle ondersteuning van staatskant en daarom is daar min herverdelingsplase wat nog in produksie is.

Volgens die beleidsdokument sal die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming nuwe eienaars bystaan met opleiding en ondersteuning sodat hulle produktief kan boer. Manie weet nie wat nou gaan verander nie. Dieselfde departement kon dit vir langer as 20 jaar nie regkry nie. Hy het net meer en meer belastingbetalersgeld in ’n bodemlose put gegooi.

Voorbeelde van vermorsing

Die Sondagkoerant Rapport het onlangs na navorsing van die instituut vir armoede, grond en landelike studies (Plaas) verwys wat die staat se onvermoë om begunstigdes van grondhervorming by te staan, uitgewys het. Plaas se navorsing in die Oos- en die Wes-Kaap, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Noordwes het ook getoon dat bykans die helfte van die plase wat herverdeel is, aan die elite, soos politici, staatsamptenare en welvarende sakelui, gegaan het.

Een voorbeeld was ’n plaas wat in 2015 aan Thandi Mnyamana, tesourier van ’n tak van die ANC se vroueliga in KwaZulu-Natal, toegeken is en wat sy uitverhuur het. In 2016 is R2,3 miljoen aan haar geskenk om die plaas te “herkapitaliseer” en twee jaar later het sy ook vee en plaaswerktuie ontvang om haar te help. Volgens Plaas se verslag produseer die plaas steeds niks.

Lig in die tonnel

Goeie nuus is dat daar darem nou ten minste ’n poging is om riglyne te bepaal waarvolgens begunstigdes gekies en grond uitgedeel sal word. Dalk kan dit die kaping deur die elite in ’n mate teëwerk. Staatsamptenare wat bedank, moet eers deur ’n afkoeltyd van twee jaar gaan voor hulle om grond aansoek kan doen.

Dienende politici mag ook eers ’n jaar ná hul uittrede om grond aansoek doen. Die lewensmaats van staatsamptenare kan wel grond kry, maar moet hul verwantskap met die amptenaar verklaar. Die ander ligpuntjie is dat die departement minstens kommentaar vra en tot 3 Maart geleentheid bied om bydraes te lewer.

Wat maak Sisulu?

En só laat Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, die oë behoorlik rek met die aanstelling van Menzi Simelane en Mo Shaik as haar spesiale raadgewers. Simelane, voormalige direkteur vir openbare vervolging, en Shaik, ’n eertydse buitelandse hoof van intelligensie, word albei by staatskaping betrek.

Sisulu se aanstelling van dié twee word sterk deur die DA veroordeel. Die party het in ’n parlementêre antwoord bevestiging van die aanstellings gekry en sê die belastingbetaler betaal nou amptelik die (waarskynlik buitensporige) salarisse van Simelane en Shaik. ’n Klagte sal nou by die Openbare Dienskommissie gelê word om die aanstellings te ondersoek en versoeke sal gerig word om die salarisse bekend te maak.

Emma Louise Powell, adjunk-skaduminister vir behuising, water en sanitasie van die DA, sê dit is selfs meer kommerwekkend dat die meeste van Sisulu se aanstellings by die departement se snelreaksiespan (NRRTT) bondgenote blyk te wees van haar veldtog in 2017 om adjunkpresident te word.

Powell sê geld wat gebruik kon word vir droogtehulp, sal nou die salarisse betaal van beweerde bondgenote van Sisulu se persoonlike politieke veldtog. Met die land se ekonomie op ’n naaldpunt en die gesukkel om die droogte teen te werk, is daar nie nou tyd vir die minister van water en sanitasie om politieke speletjies te speel nie.

Hou aan omgee

Manie se kollegas wat onlangs Landbouweekblad se droogtehersteldag op Brandvlei in die Noord-Kaap bygewoon het, is diep geraak deur die waardigheid en vasbeslotenheid waarmee boere in dié geweste deur die droogte worstel. Hélène Smit, ’n traumaberader, het op dié geleentheid die boere se situasie gelyk gestel aan die trauma wat paramedici of brandweermanne in die gesig staar elke keer dat hulle op ’n ramptoneel afkom – met die verskil dat boere se skof nooit eindig nie. Boonop moet hulle ’n dubbele trauma verwerk. Buiten jou eie seerkry, moet jy ook toesien hoe jou gesin, jou werkers en die hele gemeenskap swaarkry. Die psigiater dr. Elisabeth Kübler-Ross het baanbrekerswerk onder oorlewendes van Nazi-konsentrasiekampe gedoen. Daaruit het geblyk dat gevangenes wat energie buite hulself aangewend het deur medegevangenes te help en te onderskraag, hul eie trauma beter kon verwerk. Op Brandvlei was daar vele tekens van sulke empatie onder boere. Daar was luide instemming toe Neil de Klerk van GWK ’n beroep op die boere gedoen het om Agri Noord-Kaap se volgehoue pogings om ramphulp van die regering te beding, te steun. Hy het verwys na Willem Symington, dié organisasie se adjunkvoorsitter, wie se boerdery bykans tot niet is, maar wat nietemin voortstoei ten bate van die hele provinsie se boere. Sybrand Venter, die jong boer wat ’n voeraankope-groep op Carnarvon gestig het, het ’n beroep gedoen op boere om mooi te kyk na mekaar en hul bure geestelik te ondersteun wanneer die spanning en die bekommernis die oorhand kry. Daarby het die NWKV se veteraan-droogtekenner dr. Louis du Pisani dié wekroep gevoeg: “Ons moenie onverskillig staan teenoor die krisis nie. Hou op staar na die probleem en soek na die oplossing.”

My pa se werk

Die juffrou doen ’n opname oor ouers se beroepe en vra die kinders daaroor uit.

Pietie: “My pa is ’n bankbestuurder.”

Sannie se pa bestuur Checkers.

Jannie: “My pa is ’n stripper by ’n nagklub.”

Die juffrou is geskok en vra Jannie om pouse agter te bly. “Is alles reg by die huis?” vra sy.

“Ja, juffrou, ewintlik werk my pa by Eskom. Ek is net te skaam om dit voor die ander kinders te noem.”