Volgens Ramaphosa sal dit binnekort bekend gemaak word. Die verwagtinge is geskep en Manie hoop hierdie is nie ’n muis wat ’n olifant wil baar nie. Dit laat die hele land asem ophou om te hoor wat bekend gemaak gaan word. Die president het self by herhaling gesê hierdie verslag lê die grondslag vir “die afhandeling van ’n omvattende, verreikende en transformatiewe grondhervormingsprogram”.

Manie wil die president vra om dit eerder gouer as later bekend te maak – veral omdat die verslag in al hoe meer hande beland en die versoekinge sekerlik daar is onder individue in die kabinet om dit selektief te laat uitlek met die oog op hul eie politieke doelwitte. Daar is reeds heelwat in die media geskryf en bespiegel hieroor, maar wat regtig saak maak, is wat in die verslae self staan. Dit is tyd dat die land dit sien.

Manie meen die groot vraag is of die president net die hoofpaneel se verslag gaan bekend maak of gaan dit die hoofpaneel se verslag plus die minderheidsverslag van Agri SA se Dan Kriek en Nick Serfontein, megaboer, wees óf ’n kombinasie van die twee. Dit sal vir Manie ’n goeie aanduiding gee van die balans van bydraes binne hierdie diverse paneel wat uiteraard uit die staanspoor oor ’n kwessie soos onteiening sonder vergoeding sou verskil het.

Dit sal mos goed wees as alle bydraes nou in die ope kom sodat die burgerlike samelewing en die landbou die kwessie kan debatteer. Onteiening sonder vergoeding en die onsekerheid wat daarmee gepaardgaan, plaas ’n demper op talle ander belangrike sake.

Daar word gepraat van ’n konsepplan vir die landbou op medium- tot langer termyn binne die eenheidsforum vir die landbou (Asuf) waaraan daar nog gewerk moet word, daar is Roelf Meyer en andere se openbare-private-groei-inisiatief (PPGI) waarna die president ook verwys het en wat belowend lyk, en dan is daar R3,9 miljard vir swart boere se steun wat by die Land Bank gaan lê.

Die president sê deur die samevoeging van die departemente van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming is die institusionele grondslag gelê vir ’n omvattende benadering om landelike gebiede ekonomies te ontwikkel. Dit is groot woorde. Die slang in die gras is onteiening sonder vergoeding en dit is tyd dat almal duidelik moet weet wat hierdie woorde beteken.

Ons eie Don Quixote

’n Kollega van Manie stuur anderdag ’n skermgreep van die Midrand-polisie se Facebook-blad. “Ons het nie enige updates nie. Kyk intussen net na Bheki Cele,” langs ’n foto van ons stroewe minister van polisie – die man wat homself steeds “generaal” noem, sewe jaar ná hy in die pad gesteek is as nasionale polisiekommissaris, onder meer vir sy aandeel in ’n twyfelagtige huurkontrak aan ’n sakeman met politieke bande.

Wanneer Manie ook al na Cele luister, dink hy onwillekeurig aan die karakter Don Quixote, die Spanjaard wat in sy verbeelding teen groot vyande oorlog voer, maar inderwaarheid agter windmeulens aanjaag. Cele se windmeulens is egter wettige, private vuurwapenbesit.

Die spektakel van sy aanslag daarop is allermins snaaks. Cele wil graag hê niemand, buiten die polisie en weermag, mag bewapen wees nie. ’n Konsep vir ’n nuwe vuurwapenwet wat verlede jaar uit die polisie-administrasie gelek is, doen byvoorbeeld weg met ’n vuurwapenlisensie vir selfverdediging. Sy nuutste salvo is voorgestelde regulasies om private sekuriteitswagte se bewapeningsopsies te beperk tot haelgewere en handwapens, afgesien van wagte wat kontantwaens beskerm.

Ironies genoeg sou duisende wettige vuurwapen-eienaars nooit vuurwapens besit het nie – en die private sekuriteitsbedryf as geheel sou baie kleiner gewees het as wat dit is – as die polisie en vervolgingsgesag hul werk behoorlik kon doen. Die argumente ten gunste van die ontwapening van burgerlikes – dat vuurwapens in private besit tydens huisrooftogte gesteel en dan in misdaad gebruik word – is so holrug gery soos wat dit ongeldig is.

Wie kan vergeet van die polisieman van Vereeniging wat tans 18 jaar tronkstraf uitdien omdat hy vuurwapens wat vir vernietiging geoormerk was, uit die polisie se kluise aan bendeleiers in die Wes-Kaap verkoop het?

Die polisie erken self hy het nie die vermoë om al die vuurwapens te ontvang en te bewaar wat oornag onwettig geword het toe die Grondwethof bevestig het dat vuurwapenlisensies wat verval het, nie hernu mag word nie. Die meeste geweldsmisdade wat in Suid-Afrika se howe aangehoor word, word met ongelisensieerde vuurwapens gepleeg.

Die einste semi-outomatiese gewere wat Cele nou die private sekuriteitsbedryf wil belet, maak reeds geruime tyd hul verskyning in gewapende rooftogte en plaasaanvalle. Hoe gaan die staking van wettige lisensies vir vuurwapens die aantal onwettiges verminder?

Wie gaan help?

Die feit dat iets soos ’n landelike veiligheidsplan bestaan – ’n vennootskap tussen die polisie, die georganiseerde landbou en boerderygemeenskappe om landelike misdaad te bestry – is deels ’n erkenning dat die polisie alleen nie in staat is om gewone landsburgers te beskerm nie.

Watter opsies is beskikbaar vir plaasbewoners wat soms honderde kilometer van die naaste polisiekantoor af woon as booswigte skielik toeslaan? Veral as daardie polisiekantoor nie eens ’n voertuig beskikbaar het om te reageer op ’n noodoproep nie.

Manie ken baie mense wat vuurwapens besit. Nie een van hulle wil ooit in ’n posisie wees waar hulle dit teenoor ’n ander mens hoef te gebruik nie. Gegewe die wreedheid en berekendheid van plaasaanvallers en die onvermoë van die polisie om betyds in te gryp, is ’n vuurwapen saam met ’n weldeurdagte plaasveiligheidsplan egter die meeste plaasbewoners se beste kans op oorlewing.

Dié soort werklikhede is egter moeilik vir mense soos Cele om te begryp. Danksy ministeriële lyfwagte (moontlik gewapen) verkeer hulle nie vir ’n oomblik in lewensgevaar nie. Net so min soos wat Don Quixote wou luister na die mense wat aan hom probeer uitwys het hy jaag agter windmeulens aan.

Waarheen nou?

Ouma ry op haar fiets by die hek uit.

Haar kleinseun vra: “Waarheen gaan Ouma?”

Ouma: “Begraafplaas toe.”

Kleinseun: “En wie gaan die fiets terugbring?”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.