Dié plekname weerspieël die eerste mense wie se klapklankname in hedendaagse name met k’s vervang word, tot sendelinge, koloniale regeerders en mynhuise wat ’n Britse invloed gebring het. Dit dui ook op die onafgehandelde en ondeurdagte boerderyplanne van die afgelope 40 jaar se regerings in die kommunale gebiede.

Hulle het almal bygedra tot die ingewikkelde grondsituasie in Namakwaland, waar die eerste openbare verhoor oor grondonteiening 26 Junie op Concordia gehou is.

Die Parlement se mooi plan met die verhoor was dat mense moes kom sê of artikel 25 van die Grondwet dit vir die Regering moontlik maak om grond sonder vergoeding te onteien en motiveer hoekom hulle so sê.

Maar met só ’n rare geleentheid om parlementslede toe te spreek, wou die meeste sprekers ook sê hoe lank gelede hulle onteien is en hoe sommige gemeenskappe herhaaldelik onteien is (eers deur kolonialisasie, toe deur mynmaatskappye en toe deur die apartheidsregering se inkorporering van die gebiede op die oewer van die Oranjerivier by binnelandse kommunale gebiede).

Veral die bedrywighede van mynmaatskappye was ’n teer punt. Op die myndorpe rondom Concordia kan mense nie wegkom van hul mynverlede nie. Hulle kyk immers elke dag teen mynhope en ander uitgewerkte myninfrastruktuur vas. ’n Mynkwessie wat ook gereeld ter sprake kom, is dié van die onwettige ontginning van diamante.

Dit kan opgelos word as die oortreders wettige toegang kry tot die grond wat in elk geval hulle s’n is, het van die sprekers gesê. ’n Spreker het gekla die Alexkor-staatsmyn, wat veronderstel is om tot voordeel van die plaaslike mense bedryf te word, strompel van een ellende na die volgende. Daar is glo selfs sprake van Gupta-betrokkenheid by die myn.

En ja, Manie kan bevestig, daar was ten minste twee verwysings na dié berugte familie tydens die verhoor.

As daar ’n paar dinge is wat ná die eerste verhoor gesê kan word, is dat mense ’n behoefte het om hul stories te vertel en baie graag wil hê die Regering moet meer sigbaar wees om hul probleme te help oplos – nie net vir ’n dag lank opdaag en baie haastig praat in ’n taal wat hulle nie altyd verstaan nie.

Die ander is dat Suid-Afrikaners stigtelike openbare verhore kan hou en na mekaar kan luister. Maar die komitee moes meer moeite gedoen het met hul vertalers. Een vertaler het moedig, maar minder suksesvol, probeer om Namakwalandse aksente en unieke uitdrukkings in Engels te vertaal.

Soms het die Namakwalanders almal verras en keurige Engels gepraat. Dan moes die vertaler Afrikaans praat, met sprekers wat oor hul skouers loer en reghelp soos hulle aangaan.

Manie is nogal bekommerd oor watter rekord van die verhoor dit sal oplewer. Die toustanery voor die saal waar die verhoor gehou is, het Manie herinner aan April 1994 toe Suid-Afrikaners ure lank geduldig gewag het om in die eerste demokratiese verkiesing te stem. Lesers sal Manie seker nie kwalik neem as hy wens ons kon die horlosie 24 jaar terugstel om dinge anders te doen nie.

Sosiale media toe net sleg nie! 

In ’n vorige uitgawe van Landbouweekblad het die soeklig op die gevare van sosiale media geval. Manie wil darem net noem dat die moderne platforms vir kommunikasie en menings lug darem nie net sleg is nie.

’n Kollega van Manie het verlede jaar begin om Swartland Botanics, ’n Facebook-blad met nuus en foto’s oor vondse en navorsing in die Swartland waar piepklein stukkies renosterveld nog oor is, te volg.

Mense dink nie altyd aan die Swartland as ’n plek met ’n verskeidenheid pragtige veldblomme nie, maar Stephen Cousins, die navorser agter die blad, het Manie met nuwe oë (en agting) na die oorblywende donker dele van die Swartlandse landskap laat kyk. Halfpad deur Junie het die blad egter die slegte nuus gebring dat Stephen in ’n motorongeluk oorlede is.

Daarna het die beste in sosiale media na vore gekom. ’n WhatsApp-groep is gestig en daardeur kon Landbouweekblad Stephen se familie “ontmoet” om toestemming te kry om die artikel wat Stephen voor sy dood saam met ’n joernalis geskryf het, te plaas.

Die groep het ook gehelp om foto’s van plante in die Swartlandse renosterveld wat Stephen nog sou stuur, aan te vul met foto’s wat mense geneem het tydens uitstappies saam met hom. Landbouweekblad bedank almal van hulle.

Boer op Twitter 

So gepraat van sosiale media en boere. Wie sê Twitter, daardie sosiale mediaplatform wat Helen Zille so heeltyd in die sop laat beland, is net daar om jou bloeddruk op te jaag met al die belaglike uitsprake van oningeligte of kwaadwillige mense?

’n Overbergse boer, wat onlangs ’n groot deel van sy graankampe na beheerde spoorverkeer oorgeskakel het, sê sy gesprekke op Twitter met boere wat die praktyk in ander wêrelddele met groot sukses toepas, was besonder waardevol en het ’n groot deel van sy navorsing uitgemaak.

Wys jou net, die waarde van sulke platforms hang maar af van wie jy volg, waarop jy antwoord en wat jy aan jou “volgelinge” stuur. Daar is groot waarde wat ontsluit kan word uit gesprekke met oënskynlik wildvreemde mense. Maar, wil Manie darem net byvoeg, dit help altyd as hulle in die landbou belang stel.  

Vat maar oor . . .

En sosiale media kan ook heel snaaks wees. Manie kry die ander dag dié ene op ’n WhatsApp-groep waaraan hy behoort: “Wou net hoor of enigeen van julle manne dalk belang stel. My neef het geboek en reeds betaal vir ’n jagweek in Namibië, maar vergeet dit bots met sy troudatum.”

Manie se ore spits, veral nadat sy Kalahari-jagtog onlangs deur die mat geval het. Die boodskap lui verder: “Indien enigiemand belang stel om sy plek in te neem, kontak hom gerus. Dis Saterdag om 14:00 by die NG kerk Brakpan. Sy is baie vriendelik en ’n bobaas-kok. Brunet en weeg 62 kg, 1,52 m lank. Sy sal die een wees in die wit rok. Haar naam is Rita.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.