Hierdie ware patriotte se stories het waarskynlik die gronddebat deur die winde van verandering gestuur en weer ’n mate van rasionele denke in ’n warboel van politieke uitsprake, toutrekkery en fopnuus tot stand gebring. Hul stories van hoop, eerlikheid en deursettingsvermoë is ’n besonderse voorbeeld vir ons almal.

Dit wat hulle gedoen het, is gedoen in die geloof dat hulle die regte ding móét doen teen dikwels ’n hoë risiko, want eintlik kon hulle nie anders nie. Tereg kan Manie se kollegas nie uitgepraat raak oor die grondberaad en die suksesverhale wat hulle daar gehoor het nie.

Verhale soos dié van Henk Agenbach en Die Kooperasie se hervormingsprojekte en selfdoen-benadering wat wins toon en met 75 bemagtigingsprojekte stil-stil die lewe van 66 000 mense bevoordeel.

Dié van die Jakes Gerwel Tegniese Skool op Bonnievale wat meer as R65 miljoen van die gemeenskap moes insamel om uitkoms te gee aan ’n nuwe geslag wat andersins in ’n spiraal van drank, dwelms en eenouergesinne sou verdwyn.

Dié van die MD Foundation wat vyf boerderye van ondergang gered het omdat 180 werkers hul werk sou verloor.

Ook die storie van die plaaswerker Dirk Louw wat byna ’n huwelik moes prysgee om sy droom te verwesenlik om self te boer. Danksy ’n mentor, ’n onkreukbare vertrouensverhouding en ’n staatsamptenaar wat agteroor gebuig het, is dié boer op ’n sukses-spoor gesit.

Dan ook ’n bewoë Jannie Div wat gepraat het oor Graan SA se bemagtigingsprojek wat 5 500 boere betrek en in staat gestel het om die eerste keer ’n bed te kan koop. “Ek vra altyd: Hoe het die projek jou hart geraak?” Manie weet elke week of twee lees jy dié soort storie in Landbouweekblad (of Boerebybel, soos op die beraad gehoor).

En dié stories maak ’n indruk. Mense praat daaroor en dit maak dalk die deur na moontlikhede oop.

Maar sit ’n sestigtal suksesverhale wat nie een om eie gewin gedoen is nie op ’n vol program en op een verhoog en die diepte van die landboulandskap se hart en beproefde bemagtigingsmodelle bring ’n kentering in politici se stoomrollerbenadering in die aanloop tot die verkiesing.

Die beleërde Mike Mlengana, direkteur-generaal van landbou, het ’n volle dag deurgedruk en sy kop laat sak oor verhale van reuse-suksesse wat ondanks die Regering se struikelblokke tot stand gebring is.

Hy moes ook luister na die gesukkel met die stelsel, lenings en titelaktes. Van die mense wat die beraad bygewoon het, steier steeds om sin te maak van die stortvloed optimisme. Soos iemand dit daar so raak saamgevat het: Dit voel soos die geboorte van ’n nuwe Suid-Afrika. Daar is egter nie sprake van ’n nuwe “normaal” ná die beraad nie.

’n Boerevriend sê juis: Daar is ’n hemelsbreë verskil tussen kennis en begrip. En saam met kennis kom ’n verpligting. Manie meen dit is nie ’n valse, blinde hoop wat posgevat het nie – ná soveel berade verdwyn goeie voornemens dikwels in die newel van die alledaagse gejaagdheid.

Daar is egter minder angs, meer tasbare planne met uitkomste, minder onrusbarende stemboodskappe met valse verklarings van grondgrype en selfs ’n geskiedkundige samewerkingsooreenkoms tussen vier landbou-organisasies. Hier dink ’n mens onwillekeurig aan Mark Twain wat eendag gesê het: Patriotisme is om jou land deurentyd te ondersteun, en jou regering – as hy dit verdien.

Etienne van Wyk, ’n passievolle boer van Marydale wat as ’n plaaswerkerseun tot ’n blink voorbeeld van ’n suksesvolle, kommersiële landbouer gevorder het, het dit raak opgesom: “Ek kan nie vorentoe en ek kan nie teruggaan nie. Ons het titelaktes nodig.”

Net só kan die land – en die landbou, wat ’n allerbelangrike ekonomiese en maatskaplik-ekonomiese skakel in die ratwerk verskaf – nie vorentoe of agtertoe sonder ’n gekoördineerde landbouplan nie. Nou is die tafel uiteindelik gedek.

’n Goue draad

Op dié beraad het Manie gesien hoe 65 sprekers vertel het watter planne hulle al beraam het. Diegene wat kom luister het, kon ook identifiseer watter van dié planne hulle dalk op hul plase of in hul gemeenskappe kan toepas. Tydens etenstye was dit opmerklik om te hoor hoe mense vir mekaar gesê het dat hulle nie geweet het hoeveel boere doen reeds só baie vir hul mense en gemeenskappe nie.

Hulle wou hê die goeie nuus moet wyer versprei word. Dit het Manie se hart geroer om te hoor hoe gebed deel was van die gesprekke, projekte, boerderye en die land se toekoms. Boere se passie vir hul land, hul boerderye en hul gemeenskappe het keer op keer duidelik geword. Geloof, vertroue, hoop, deursettingsvermoë en harde werk was vir Manie die goue draad wat al die stories aan mekaar verbind het.

Grondverhore maak oë oop

Op Agri Limpopo se kongres het Kallie Schoeman vertel hoe diep die openbare deelname-vergaderings oor onteiening sonder vergoeding hom geraak het. Hy sê wanneer mense daar gehoor het wie hy is, wou hulle dadelik weet hoekom hy nie sy grond met ander mense wou deel nie – hy het dan so baie.

“Soos ons almal het ek ook gedink my pa en oupas het hard gewerk vir alles wat ons het.” Schoeman is die seun van die wyle Hendrik Schoeman, destyds minister van landbou, en die agterkleinseun van genl. Hendrik Schoeman wat in die Anglo-Boereoorlog geveg het.

Sy oupa, Karel Schoeman, het die Schoeman-boerdery naby Delmas begin. Schoeman sê: “Hoe meer ek van die ander groepe mense gehoor het, hoe meer het ek besef dat hoewel ons gewerk het vir wat ons het, het ek in die binnebaan gehardloop. Die mense ‘aan die ander kant van die rivier’ het nie dieselfde kanse gehad om besittings bymekaar te maak nie.”

Hy sê die proses het hom verander. “In ons boerdery en omgewing gaan ek alles doen wat ek kan om die mense om my te laat deel in die voordeel wat ek as wit Suid-Afrikaner geniet het.”

Wat is in ’n naam?

Die politieke ontleder Melanie Verwoerd het die kongresgangers van Agri Noord-Kaap laat skater toe sy die berugtheid van haar van oor die jare aan mense moes verduidelik. Sy vertel dat sy haarself per keer by ’n maatskappy aangemeld en net haar voornaam aan die ontvangsdame genoem het.

Toe sy gevra word wat haar van is, sê sy: “It is a bad one.” Die ontvangsdame se oë rek wyd. Sy merk toe op: “Oh, is it Zuma?” Met verloop van tyd het dié wat berug is in Suid- Afrika darem ook verander.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.