Daarom was Manie so opgewonde om te hoor van die Gamtoos-boeregemeenskap se nuwe projek om indringerplante in die Kouga- en Krommerivierstelsels naby Kareedouw en Joubertina in die Oos-Kaap uit te roei. Dié rivierstelsels is die lewensaar vir die meeste dorpe naby Port Elizabeth, asook die Langkloof, waar watertekorte boere telkens gedwing het om werkers af te lê.

Die Gamtoos-besproeiingsraad gaan dié projek namens die departement omgewingsake bestuur. Die raad gaan ’n jaar lank 61 kontrakteurs en 800 werkers in diens hê om 950 ha se digte bosse van meestal swartwattel by die Dieprivier en sy sytakke skoon te maak. Ál die kontrakteurs is uit die plaaslike gemeenskappe en hulle het aangedring dat die werkers gewerf word uit werkloses in die munisipale gebied Kou-Kamma.

ENORME DRUK

Edwill Moore, gebiedsbestuurder van die besproeiingsraad, sê dié projek behoort verligting aan die droogtegeteisterde gebied te bring deur watervloei na die Impofudam sowel as die Kouga- en Churchilldam verder stroomaf te bring. “Die voortslepende droogte het groot druk op ons opgaardamme geplaas. Uitheemse indringerplante – in dié geval hoofsaaklik swartwattel – gebruik baie water wat andersins in dié damme sou vloei. Om sulke spesies uit te kap, is een van die kostedoeltreffendste maniere om ons watervoorraad te verhoog.”

Die Kougadam was teen druktyd op 24,9% (teenoor 51,7% ’n jaar vantevore). Onttrekking aan die Impofudam is einde verlede jaar stopgesit ná sy vlak tot 17,5% gedaal het. Dié dam se vlak het teen 6 Januarie verder tot 16,3% gedaal teenoor 34,4% ’n jaar vantevore. Navorsers het in 2018 bereken dat indringerplante jaarliks die ekwivalent van die Jozinidam in KwaZulu-Natal uit Suid-Afrika se opvanggebiede leegsuig.

Landbouweekblad het ook al berig van Wes-Kaapse boere wat merkbare verskille in hul grondwatervlakke, boorgatlewerings en die voorkoms van natuurlike fonteine gesien het ná hulle indringerplante op hul eie grond uitgekap het. Dit is darem een plan waarvoor jy nie ’n apatiese staatsamptenaar nodig het nie – al wat jy kort, is gewillige hande en ’n paar kettingsae. Manie wens die Gamtoos-manne alle sterkte toe. Hy sal ook hul damvlakke met groot belangstelling dophou.

GEE OM VIR MEKAAR

As daar een ding is wat sterk in die droogte na vore getree het, is dit hoe mense kan saamstaan as die nood druk. Voer is wyd en syd aan die beleërde boere van veral die Karoo en Oos-Kaap gestuur. In Namibië het die Dare to Care-projek meer as R10 miljoen ingesamel om veeboere se voeraankope te subsidieer. Ander instellings het ook geld ingesamel, onder meer onder aanvoering van ’n boer, Henriëtte le Grange, wat mense aangemoedig het om boere in nood te help. Só kan Manie voortgaan om ander voorbeelde te noem.

Nóg iets wat gebeur het, is dat mense weer met mekaar begin gesels en vir mekaar omgee. Johan Moolman van Aranos in Namibië vertel bure bel mekaar weer as een dorp toe gaan en vra of hy iets kan saambring, want dit is nie net veld en voer wat skraps is nie, maar ook petrolgeld. ’n Boer besef dalk sy buurman is in ’n dieper gat van nood en dan gaan kuier hy vir hom om hom moed in te praat.

Die droogte het dus weer die saamstaan en buurmanskap na vore gebring. Die een buurman kan dalk nie vir die ander een geld aanbied om voer te koop nie, maar hulle kan mekaar moed inpraat en raad gee. Dit is belangrik. Geld is ’n eenmalige ding, maar moed inpraat, raad en omgee is iets wat die mensdom die nodigste het.

Mense het selfs groepies op WhatsApp gestig om mekaar te motiveer. Hy sê die droogte het hom persoonlik geleer alles gaan nie net oor homself nie, maar ook oor sy verhouding met God en met sy bure. “Ek hoop die droogte sal só ’n geestelike impak op ons maak dat dié nuwe verhouding nooit uitgedoof sal word of selfs verflou nie,” sê hy.

PLUIMPIE VIR SA BOERE

Ondanks die feit dat 2019 waarskynlik as een van die swakste landboujare die afgelope dekade in Suid-Afrika bekend sal staan, is daar ook gunstige aspekte. Aan die ongunstige kant was die landbousakevertroue laag, droogte het ’n groot deel van die land bly knel, daar was die terugslag van dieresiektes, soos bek-en-klouseer en Afrika-varkpes, en die politieke omgewing was onstuimig.

Nogtans wys Wandile Sihlobo, ekonoom, ons daarop dat Suid-Afrika in 2019 die 48ste plek op ’n ranglys van 133 beoordeelde lande beklee het wat voedselsekerheid betref in The Economist se internasionale voedselsekerheidsindeks. Die voedselsekerheid word gemeet aan die beskikbaarheid van kos, die toeganklikheid daartoe en die gehalte daarvan.

Die 48ste plek was veral relatief goed as dit met die ander Brics-lande (Brasilië – 39ste, Rusland – 42ste, Indië – 72ste en China – 50ste) se posisies vergelyk word. Suid-Afrikaners se bruto nasionale inkomste per kop in 2018 was 25 posisies agter Rusland, 23 agter China en 19 agter dié van Brasilië. Nogtans was die voedselsekerheidsindeks baie meer vergelykbaar met dié lande. Dit was 9 posisies agter Brasilië, 6 posisies agter Rusland, 2 posisies voor China, en 24 posisies voor Indië.

Onderhandeling oor ’n plaas se prys

Julius Malema wil Nkandla by Jacob Zuma koop. Malema: “So, hoeveel wil jy vir die grond hê?”

Zuma: “Hoeveel het jy?”

“Mmmm . . . so R800 000”, antwoord Malema.

Zuma: “Nee, wat. Dis te min. Ek wil darem die woord ‘miljoen’ in die bedrag hoor.”

Malema: “Nou, ja. Wat dan van ’n halfmiljoen?”

Zuma: “Nou praat jy! Teen daardie prys is dit joune.”