Die drama het begin toe oudminister Derek Hanekom meegewerk het sodat sy departement van landbou die bank in 1998 oorgeneem het. Nie alleen is die naam na “Land Bank” verander nie, maar ook is dr. Helena Dolny as uitvoerende hoof aangestel – ’n stap wat tot groot drama sou lei. Sy en Thoko Didza, Hanekom se opvolger, het klaarblyklik nie langs dieselfde vuur gesit nie.

Spoedig was daar klagtes deur Bonile Jack, die direksievoorsitter, van rassisme, nepotisme en korrupsie teen Dolny wat deur prof. Michael Katz, ’n regsgeleerde, ondersoek is. Ná ’n uitgerekte en onverkwiklike geskil het Dolny einde Desember 1999 bedank. Eers amper 18 maande later is Monwabisi Fandeso, voorheen direkteur van SA Brouerye, in haar plek aangestel. Fandeso was ’n relatief probleemvrye drie jaar in die tuig.

Ondanks jaarlikse geldelike verliese het die bank nog in 2003 ’n uitstekende lang- en kortermyngradering van AA- en F1+ deur Fitch Ratings geniet. Fandeso is terug SAB toe en is ná ses maande vroeg in 2005 met Alan Mukoki, ’n uitvoerende direkteur van die People’s Bank, vervang. Jaarlikse verliese het voortgeduur.

Teen 2007 was die instelling tegnies bankrot – ondanks ’n reddingsboei deur die regering van sowat R1,5 miljard. Mukoki is April daardie jaar tydelik deur Lulu Xingwana, destyds minister van landbou, geskors en in Augustus 2007 het hy bedank.

Salarisse het skerp gestyg

Ondanks die swak finansiële vertoning het uitvoerende hoofde se salarisse skerp gestyg. Waar dit in 1999 nog R560 000 was, het dit in 2001 tot R1,3 miljoen toegeneem, in 2004 was dit al R2,26 miljoen en in Mukoki se slegste jaar het hy R3 miljoen met ’n prestasiebonus van R1 miljoen gekry.

Nóg ’n rampspoedige skuif was toe Xingwana in 2007 dr. Phil Mohlahlane van die pos as adjunk-direkteur-generaal by die departement na die bank verskuif het om as uitvoerende hoof waar te neem. Hy is onder ’n wolk van korrupsie daar weg en is later skuldig bevind en tot tronkstraf gevonnis.

Manie onthou nog goed hoe dit minister van finansies die bank in 2008 by die departement van landbou weggeneem het. Phakamani Hadebe, ’n senior amptenaar by die tesourie, het soos ’n ridder op ’n wit perd op die toneel verskyn om die bank van ondergang te red.

Saam met ’n nuwe direksie onder voorsitterskap van Herman van Schalkwyk het hulle met ’n regrukplan begin. Binne vyf jaar het die bank se wins met 29,4% tot R349 miljoen gestyg en sy leningsboek het met 24% tot R33 miljard gegroei. In April 2013 was die bank se graderings weer AA en F1+ deur Fitch Ratings.

Einde 2015 het TP Nchocho, voormalige groephoof van die Suid-Afrikaanse afdeling van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, Hadebe as uitvoerende hoof vervang. In 2016 is die bank weer aan die departement van landbou teruggegee.

Nchocho was tot einde Desember 2018 in die tuig en sedertdien was daar drie waarnemende uitvoerende hoofde, naamlik Bennie van Rooy (finansiële hoof van die bank tot hy verlede jaar bedank het), Kone Gugushe wat sedert Desember 2018 waarnemende finansiële hoof was en nou Sydney Soundy, uitvoerende bestuurder van strategie en kommunikasie, nadat Gugushe ook ’n maand gelede bedank het. Dié voortdurende skommelinge is beslis nie bevorderlik vir enige beleggersvertroue nie.

Manie sou graag wou weet wat agter die skerms aangaan, hoekom die regering nie sover kom om ’n uitvoerende hoof aan te stel nie. Benewens die gebrek aan ’n heeltydse hoof, moes die bank in September verlede jaar Yatheen Rumrup, sy hoof van interne oudit en in daardie stadium ook die waarnemende finansiële hoof, verplig om met verlof te gaan ná aantygings van moontlike wangedrag. Vroeër dieselfde maand het die bank bekend gemaak dat ’n ander senior amptenaar, me. Loyiso Ndlovu, ontslaan is nadat sy skuldig bevind is aan viktimisering en slegte behandeling van ’n werknemer.

Die nuwe uitvoerende hoof sal hare op sy tande moet hê om hierdie belangrike landbou-instelling se status te herstel, veral met die albatros van ’n sukkelende staat wat ook om sy nek hang.

Syferkaskenades

Dit is vir Manie duidelik dat die staat geen benul het van die hoeveelheid plase wat al vir herverdeling gekoop is en hoeveel daarvan wel kos produseer nie. In antwoorde op vrae in die parlement het Didiza aangedui dat 2 925 plase aan begunstigdes uitverhuur word en dat daar ’n verdere 3 172 is waar daar nog nie huurooreenkomste is nie.

Volgens die staat is 6 459 plase sedert 1994 gekoop. As ’n mens die syfers bymekaar tel, is daar in die eerste plek 362 plase waarvan glad nie rekenskap gegee word nie. Manie se vriend Johann Borman, wat homself besig hou met statistieke oor plaasaankope, sê ook die syfers maak nie sin nie. Hy sê as die staat se 6 459 plase reg is, is elke plaas gemiddeld 377 ha. Dít is nie ’n voldoende ekonomiese eenheid om op te boer nie.

Hy meen dit is waarskynlik titelaktes waarna Didiza verwys, want een plaas kan uit meer as een titelakte bestaan. Hy reken die staat het sedert 1994 altesaam 2 433 miljoen ha gekoop in 2 575 transaksies wat neerkom op gemiddeld 945 ha per transaksie. Elk van daardie transaksies verteenwoordig waarskynlik ’n plaas.

In haar parlementêre antwoord dui Didiza ook die karige inkomste aan wat die departement vir die uitverhuring van die plase kry. Sy sê vanaf April 2019 tot einde November 2019 het die 2 925 huurooreenkomste ’n inkomste van R2,8 miljoen vir die staat ingebring. As Manie rofweg sy somme maak, beteken dit minder as R1 000 per huurooreenkoms in die betrokke agt maande. Dit beteken dus dat die begunstigdes van daardie plase dit teen gemiddeld sowat R120 per maand huur.

Begin verlede jaar het Didiza se voorganger, Maite Nkoane-Mashabane, ook uitgewys dat die begunstigdes van huurkontrakte swak betalers is. In daardie stadium het sy aangedui dat altesaam 3 863 plase reg oor die land uitverhuur word en dat vir slegs 1 615 huur betaal word.

Nuwejaarsvoorneme

My Nuwejaarsvoorneme was om net twee doppe per dag te drink. Dit gaan egter nie so goed nie. Ek trek al by 1 Mei.