Janes Barnard, boer van Hoopstad en mede-organiseerder van die gespreksgroep Basis-Diff, het die jongste voorbeeld genoem. Hy sê in die lig van die jongste prysvlakke het hulle koppe bymekaar gesit om te kyk hoe die prentjie lyk van die afgelope tien jaar se produksiekoste teenoor die hektare wat geoes moet word om die uitgawes te dek.

Hy sê in 2012 het hy ’n John Deere 8335RT (track) trekker teen R2,3 miljoen gekoop.

Die gemiddelde opbrengs daardie jaar by hom was 8 t/ha teen ’n gemiddelde Safex prys van R2 015 per ton. Dit het hom ’n omset van R16 120 per ton gegee. Hy moes dus 143 ha oes om die trekker te betaal.

Hy sê as hy vanjaar weer 8 t/ha kan oes teen die huidige Safexprys van R3 200 per ton dan lyk die somme só: ’n JD 8370RT kos nou R6,2 miljoen. Teen 8 t/ha (wat nie moontlik lyk nie) met ’n prys van R3 200/ton verdien hy nou R25 600 per hektaar. Hy moet nou 242 ha oes om die trekker te kan koop. Dit is 69% meer as in 2012. Die winsgrens het dus met 69% gekrimp.

’n Jaar gelede het Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, ’n soortgelyke verdoemende prentjie aan Manie geskets. Hy het gesê 30 jaar gelede kon die wins uit ’n mielie-oes met ’n klein opbrengs byna die hele volgende jaar se produksiekoste betaal. Deesdae, selfs teen dubbel die opbrengs, kan dit skaars 10% van die volgende produksiejaar se koste betaal.

Toe hy in 1989 begin boer het, kon die wins uit ’n opbrengs van 1,8 ton mielies per ha sowat 86% van die volgende produksiejaar se produksiemiddels koop. In 2018 kon die wins van 4 t/ha nie eens 9% van die volgende jaar se produksiemiddels betaal nie.

’n Interessante stuk inligting wat Andries (Tot) Pienaar, Merino-koning van Colesberg en Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar in 1985, in 2014 aan Manie vertel het, was dat hy in 1970 R20 vir ’n teelooi en R60 vir ’n hektaar grond in sy omgewing betaal het. In 1980 was die prys R50 vir ’n ooi en R150/ha. In 2014 was dit R1 300 vir die teelooi en R3 500/ha. In 50 jaar het die verhouding dus dieselfde gebly – die waarde van die ooi bly ’n derde van die grondprys.

Kleurvolle karakter tree uit

’n Kleurvolle karakter oor drie dekades in die landbou, mnr. Aggrey Mahanjana, gaan die tuig as die groep- besturende direkteur van die nasionale organisasie vir opkomende rooivleisprodusente (Nerpo) neerlê en hom op sy boerdery toespits.

Mahanjana, Manie se vriend, was reeds voor die organisasie se amptelike stigting in 1997 by die beplanning daarvan betrokke. Hy was vir langer as ’n dekade die besturende direkteur van Nerpo wat nou al meer as 3 miljoen kleinboere verteenwoordig. Hoewel hy aftree, het hy ingestem om in te staan as voorsitter van die organisasie in die plek van mnr. Paradise Mahlangu, wat 10 jaar lank in dié posisie gedien het en drie maande gelede oorlede is.

Oor jare het Manie aanskou hoe die welluidende Mahanjana nie gehuiwer het om die regering te kritiseer as hy verbrou het nie en ook hoe hy hom altyd vir groter eenheid in die landbou beywer het.

In 2014, op die Rooivleisprodusente-organisasie se kongres, het hy die regering sterk gekritiseer en beskuldig van onpatriotiese optrede, selfsug, swak beleid en wetgewing wat nie toegepas word nie. Hy het gesê dit verdryf wit én swart boere van die plase af. Twee jaar later het hy luidkeels verwys na die regering se jaarlikse planne waarvan niks kom nie – CADAP in 2013-’14, APAP in 2015-’16 en Phakisa in 2015-’16. Hy wou weddenskappe aangaan oor die volgende plan vir 2016-’17.

Mahanjana het ook ’n belangrike rol in 2011 gespeel met die vestiging van Afasa toe Nafu uitmekaar geval het, asook toe daar oor eenheid in die breër landbou begin praat is en Asuf as eenheidsforum gestig is. Om die waarheid te sê, hy was só ’n gewilde karakter dat sy naam in 2014 as ’n moontlike eerste swart uitvoerende hoof vir Agri SA genoem is, toe daar na ’n opvolger vir Hans van der Merwe gesoek is.

Goedkoopste bier

Vir diegene wat altyd so swartgallig is oor alles in die land – hier volg nou ’n boodskap met goeie nuus: Suid-Afrika se bier is amptelik die goedkoopste ter wêreld!

Die finansiële webblad Expensivity het in ’n opname oor die wêreld se bierpryse en -verbruik bevind dat, ondanks al die Suid-Afrikaanse sondebelasting, dit steeds die goedkoopste ter wêreld hier bly teen gemiddeld sowat R25 per bottel van 330 ml.

Die twee ander goedkoopste lande is die Oekraïne met R26 per bier en Argentinië waar dit nog ’n halwe sent meer kos.

In die opname is die prys bereken deur die gemiddelde te vat van pryse in drankwinkels en hotelle en daar is gekyk na bekende handelsname, soos Corona en Heineken.

Al is bier dalk plek-plek goedkoper as water in Suid-Afrika, kan Manie darem noem dat Suid-Afrikaners nie die meeste bier ter wêreld drink nie. Suid-Afrika beklee die negende plek met ’n gemiddelde verbruik van 322 bottels per kop per jaar. Die meeste bier word in die Tsjeggiese Republiek gedrink met ’n verbruik van 468 bottels per kop. Die inwoners gee al die toeriste in die land die skuld hiervoor.

Die minste bier, 4 bottels per persoon per jaar, word in Haiti verbruik en in Duitsland word die meeste geld aan die voggies bestee – R28 000 per kop per jaar. Die duurste plek om ’n bier te drink, is in Katar teen sowat R167 per bier.

Manie wil hom tog verstout om te sê dat Suid-Afrikaanse bierdrinkers in hierdie land van melk en heuning dalk kan wegkom met ’n bierprys van minder as R25 per bottel as hulle hul oë oophou vir die regte winskopies.

Waar kom hulle vandaan?

Vraag: Watter eiland het die meeste miljoenêrs opgelewer?

Antwoord: Robbeneiland!