Die miljoene rande wat oor ses jaar daar verkwis is, is verstommend. Wat egter verregaande is, is dat die melkplaas vandag steeds “gemelk” word.

Volgens dr. Roy Jankielsohn van die DA se getuienis voor die kommissie betaal die provinsiale regering steeds ’n miljoen rand per maand aan ’n maatskappy om 120 tot 160 koeie te melk. Luidens sy getuienis is daar ’n “kultuur van vrees” onder amptenare om uit te praat oor die grootskaalse korrupsie, veral ná die geheimsinnige omstandighede waarin twee amptenare dood is.

Van die boere wat begunstigdes sou wees, het getuig dat 80 van hulle elk tien melkkoeie en ’n aandeel van 52% in die plaas beloof is. Daar het niks van gekom nie. Estina, die Gupta-verwante maatskappy wat betrokke was, het glo meer as R200 miljoen van die Vrystaatse regering ontvang.

Manie kan nie wag dat die groot kanonne, soos Ace Magashule, oud-premier van die Vrystaat en nou die ANC se sekretaris-generaal, saam met Mosebenzi Zwane, wat provinsiale LUR vir landbou en landelike ontwikkeling was, ’n beurt kry om hul stories te vertel nie. Die Zondo-kommissie hervat sy werk op 12 Augustus.

Geesdrif kwyn

Manie verneem van die groothartige Oos-Kaapse boer Walter Biggs dat dit nie tans so goed gaan met sy gemeenskapsprojek Masibambane (hande vat) nie. Biggs het verlede Desember ’n gemeenskapsberaad by Alexandria en Kenton-on-Sea gereël wat deur die Bela-Bela-grondberaad geïnspireer is.

Volgens Biggs was die verskeie belanghebbendes vuur en vlam ná die beraad, maar die geesdrif het in Desember en Januarie begin kwyn. Hy sê daarna het mense op die verkiesing gewag en niks verder het gebeur nie. Daarby het die gebied ook ’n voortslepende droogte wat boere moedeloos gemaak het om stappe te doen. Hy sê dat die streek wel ’n goeie winter beleef.

Hy voeg by dat van die maatskappye wat na die tafel gekom het, ook nie hul deel doen nie. Dit is ’n gesukkel om ondersteuning te kry en dit maak hom moedeloos. Sy eie gemeenskapsprojek in Alexandria het ’n spoedwal getref toe die plaaslike burgemeester herroep is. Daarby is hy en sy vrou besig om ’n plaas te koop wat baie tyd verg.

Hy meen hierdie stand van sake is ’n aanduiding van waar Suid-Afrika tans staan. “Wanneer ons ’n plafon tref, val ons terug, maar dalk moet ons begin om deur die plafon te breek,” sê hy.

Hy meen dit is dalk weer tyd dat kommersiële boere en die regte mense (soos Landbouweekblad) weer bymekaarkom en iets reël om die gemoedere te lig. “Kyk net hoe het Bela-Bela, Komga en Masibambane gemoedere gelig. Maar as dit nie opgevolg word nie, val alles weer plat.”

Kyk verder as net hongersnood

Manie sien in ’n onlangse verslag van die Verenigde Nasies (VN) dat meer as 2 miljard mense nie toegang het tot gesonde kos nie en die gevaar loop om gesondheidsprobleme te ontwikkel. Baie van hierdie mense woon in die ryk lande in die Noordelike Halfrond.

Cindy Holleman, senior ekonoom by die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) en die redakteur van die verslag, pleit by regerings om verder as net na hongersnood te kyk. Matige voedselonsekerheid raak mense wat die hoeveelheid kos wat hulle eet, moes verminder of gehalte moes inboet omdat hulle nie genoeg geld of ander hulpbronne het nie. Dít kan vetsug veroorsaak.

Die data toon dat daar nou byna net soveel vetsugtige mense as honger mense is. In 2016 was daar 822 miljoen vetsugtige mense wêreldwyd. Dit is die mees onlangse syfers beskikbaar en voedingskundiges meen dit kan nou selfs hoër wees. Matige voedselonsekerheid lei ook tot wangroei (stunting), ’n toestand wat kinders se liggaamlike en verstandelike ontwikkeling vir altyd strem.

Sy sê regerings behoort nie net daarop klem te lê om méér kos te produseer nie, maar ook te kyk hoe toeganklik daardie kos vir hul mense is, hoe dit versprei word en selfs menslike gedrag en kulturele gebruike. Regerings is baie gerig op die produksiekant. Hulle meen as daar kos beskikbaar is, sal mense eet. Dit is nie altyd die geval nie, sê Holleman.

Wat Manie nog meer ontstel is dat – ná byna ’n dekade se vooruitgang – die aantal mense wat honger ly, die afgelope drie jaar weer begin styg het. Een uit elke nege mense wêreldwyd ly honger.

Luidens die verslag het ’n beraamde 820 miljoen mense in 2018 nie genoeg kos gehad om te eet nie. Dit is 1,1% meer as die 811 miljoen van 2017 en dit is ook die derde agtereenvolgende jaar dat dié syfer gestyg het. Die nood is steeds die hoogste in Afrika, wat die wêreld se hoogste vlakke van hongersnood het. Dit word onder meer toegeskryf aan die klimaat, konflik en laer ekonomiese groei.

Boere staan saam

Manie het op Thabazimbi se skou weer gesien hoe boere mekaar in ’n tyd van nood bystaan. ’n Afgetrede plaaslike boer, Bossie Boshoff, se een seun, Marthinus, was in ’n ernstige ongeluk met masjinerie in Noord-Amerika betrokke waar hy werk en het sy een been verloor en verskeie ander beserings opgedoen.

Om Bossie en sy vrou, Martie, te help om hom te gaan bystaan, het die skougenootskap van die jaarlikse Thabazimbiskou ’n deel van die opbrengs uit ’n veiling van bulsemen en ander items aan die egpaar afgestaan.

Jan Trichardt, voorsitter van die skou, sê hulle het beoog om goedere tydens die afsluitingsdinee op te veil om die skou met sy uitgawes te help. Toe hulle van die ongeluk hoor, het hulle besluit om ’n deel van die opbrengs aan die egpaar af te staan om hulle met hul reis- en ander uitgawes te help. Sodoende kon die skou sowat R40 000 skenk, alles uit die plaaslike en besoekende boere en ander landboumense se sakke. Dit laat ’n mens se hart sommer warm klop as jy van sulke naasteliefde hoor. Mooi só, boere!

Katryntjie is weg

My buurvrou skel nou oor haar hoender Katryntjie wat weggeraak het. Die ding het nie eers lekker gesmaak nie!

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.