Op ’n onlangse vergadering van Agri SA met lt.genl. Moeketsi Sempe, afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring, asook provinsiale kommissarisse het almal ooreengekom dat ’n taakspan saamgestel sal word om die nasionale landelike veiligheidstrategie deur te werk en ’n strategiese ontleding van die hulpbronne wat daarvoor benodig word, saam te stel.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, het agterna aan Landbou.com gesê van die kwessies wat onder meer aandag geniet het, is die situasie oor aanvalle en moorde op plase, onwettige jag met honde wat in sekere gebiede skerp toegeneem het, die gebrek aan hulpbronne by plattelandse polisiekantore, asook die reservistestelsel binne die raamwerk van die strategie. Daarby was daar voor dit ook die aankondiging van die polisie dat taakspanne in sommige brandpuntgebiede ontplooi gaan word om misdaad te bekamp.

Manie is seker die feit dat pres. Cyril Ramaphosa hom vir ’n slag oor plaasaanvalle uitgespreek het, het baie met die polisie se nuwe benadering te doen. Daarby het die landelike gemeenskap baie bygedra om die afgelope tyd opnuut die aandag op plaasaanvalle te vestig.

Daar word beraam 800 tot 1 000 mense het in tot 400 voertuie van reg oor Limpopo byvoorbeeld onlangs by die nedersetting Soekmekaar naby Louis Trichardt saamgetrek met die hofverskyning van drie verdagtes vir die aanval en roof van die Joubert-egpaar van Dendron.

Daarby het AfriForum ’n versetoptog oor die voorval gehou waaraan 500 voertuie deelgeneem het. Die organisasie sê hy sal aanhou om bewustheid oor plaasaanvalle te skep. Die Vaalharts-gemeenskap het op ’n soortgelyke wyse opgeruk ná die moord op die Brand-familie daar. Manie meen hierdie sigbare optrede sal help om die polisie op sy tone te hou.

Thoko se swye

Daar kom die aankondiging oor vlak 2 van die inperking toe uiteindelik, maar die skade wat aangerig is, kan nie oornag ongedaan gemaak word nie. Die drank-, tabak-, restaurant- en jagbedryf is dié wat eerste in mens se gedagtes wink

Manie wonder steeds hoekom Thoko Didza, minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, nie in enige stadium haar stem dik gemaak en doelgerigter vir dié bedrywe in die bresse getree het nie. Regulasies wat hierdie bedrywe aan bande lê, raak die mense vir wie sy pa staan (die boere) tog regstreeks.

Die biefstukke wat nie in restaurante geëet was nie, die wyn wat nie gedrink was nie, die tabak waarop daar nie belasting gehef was nie en die wild wat nie geoes kon word nie, word alles deur boere geproduseer. Ander departemente het die stokke in die speke gedruk.

Francois Rossouw van Saai meen daar is ’n agenda by die regering om boere ekonomies te onteien en daarom die minister se swye. Hy meen hoe swakker boere se balansstate vanweë inperkingsregulasies raak, hoe makliker word dit vir die staat om hulle later teen ’n appel en ’n ei uit te win.

Sosiale media platforms gons natuurlik ook oor die moontlikheid dat hooggeplaastes se betrokkenheid by sluikhandel die enigste moontlike rede was vir ’n handelsverbod op tabakprodukte wat die land R38 miljoen per dag gekos het. Dit is nie debatte waarby Manie sommer betrek wil word nie, maar die ANC-regering moet kennis neem dat mense die party al hoe minder vertrou – en nie sonder rede nie.

Getuienis voor die Zondo-kommissie wys dat daar geen tekort aan onderduimse agterbaksheid onder dié party se leierskorps nie. Baie van die name wat daar genoem word, dien nog in Ramaphosa se kabinet.

Suid-Afrikaners uit alle oorde se reaksie op sosiale media onder die hutsmerk VoetsekANC behoort ’n duidelike waarskuwing aan die party te wees dat mense genoeg gehad het. Oudpresident Nelson Mandela se raad aan die bevolking om met die ANC te doen wat hulle met die Nasionale Party gedoen het, sou die ANC aan hulle doen wat die Nasionale Party aan hulle gedoen het nie, word nog onthou.

Bou self ook die wynbedryf

Suid-Afrikaanse wyn het tydens die verbod amper dieselfde status as die bedreigde swart renoster geniet. Die Facebook-groep SaveSAWine het binne ’n oogwink duisende volgelinge gehad. Mense van so ver as Kanada en Pole het foto’s geplaas waar hulle ’n goeie Pinotage of vrugtige Chenin blanc geniet (iets wat baie Suid-Afrikaners nie beskore was tydens die alkoholverbod nie).

Honderde mense wat oorsee woon, het ook op die groep gevra waar hulle Suid-Afrikaanse wyn in die hande kan kry en hoe hulle die bedryf kan ondersteun. Selfs die wêreldbekende sjef (en iemand wat self ook ’n wynhandelsmerk besit), Jan-Hendrik van der Westhuizen, het slegs Suid-Afrikaanse wyn saam met sekere van sy spyskaarte in sy bekroonde Franse restaurant JAN bedien.

Hy het boonop ander internasionale restaurateurs en wynkelners uitgedaag om dieselfde te doen en Suid-Afrikaanse kelders te ondersteun waar hulle kon. Alles in solidariteit met die wynbedryf wat op sy knieë gedwing is vanweë die regering se verbod op plaaslike verkope van alkohol.

Wynprodusente vertel vir Manie hul invoerders was net so simpatiek oor die situasie toe Ramaphosa op 12 Julie onverwags aangekondig het drank mag nie meer in Suid-Afrika verkoop word nie.

Dit is natuurlik wonderlik dat die wêreld so bankvas staan agter die plaaslike wynbedryf, maar Manie meen tog hy moet waarsku dat dit ietwat gevaarlik kan wees as mense jou bloot ondersteun net omdat hulle jammer voel vir jou.

Daarom moet kelders deurentyd hul eie handelsmerke versterk, en ja, ook Handelsmerk Suid-Afrika, uitbou. Die wêreld moet kennis neem van ons top-wyne – nie omdat ons regering die bedryf stief behandel nie, maar omdat dit met die bestes ter wêreld kan meeding.

Wat as ons wen?

Cobus Bester (radioman) vertel dié storietjie op die Facebookblad Nagkantoor:

Die destydse eerste minister, Hendrik Verwoerd, en sy minister van buitelandse sake, Eric Louw, het op ’n dag sit en gesels oor ’n oplossing vir die land se probleme. “Ons moet oorlog verklaar teen Amerika,” verklaar Eric Louw.

“Dít is die oplossing!”

“Wat?” vra Verwoerd.

“Ja!” sê Eric. “Kyk hoe goed gaan dit met Duitsland en Japan ná hulle teen Amerika en die ander verloor het. Amerika se Marshallplan het hulle in ekonomiese reuse omskep. Ons moet oorlog verklaar!”

“Maar, Eric,” sê Hendrik, “wat gebeur as ons wen?”