Die Parlement wil ’n ad hoc-komitee aanstel om te begin skryf aan ’n grondwetwysiging wat onteiening sonder vergoeding toelaat. ’n Paneel grondregte-ringkoppe – waaronder die leierboer Nick Serfontein, Agbiz se talentvolle Wandile Sihlobo en die gerekende advokaat Tembeka Ngcukaitobi – timmer tans op die aandrang van pres.

Cyril Ramaphosa beleidsvoorstelle oor grondhervorming uit. En daar maak ’n nuwe wysiging aan die onteieningswet, wat omskryf wanneer geen vergoeding aanvaarbaar is, ook sommer sy verskyning. Na gelang van na wie jy luister, is hierdie ontwikkelinge óf ’n katastrofe wat die land na die Middeleeue sal terugstuur óf ’n beredeneerde proses om struikelblokke vir broodnodige grondhervorming uit die weg te ruim.

Kort voor druktyd het Jeremy Cronin en Thulas Nxesi, onderskeidelik die Minister en Adjunkminister van Openbare Werke (wat vir dié wetsontwerp verantwoordelik is), in die Business Day ’n beroep op kalmte gedoen. Hulle het aangedui dié wetsontwerp sou op 14 Desember in die Staatskoerant verskyn, wat net-net genoeg tyd toelaat om die nuwe wet deur ’n openbare deelnameproses te neem voor die huidige Parlement verander.

Die res van die wetsproses sal ná die verkiesing deur die volgende Parlement gehanteer word. Hulle skryf die wetsontwerp sê dat geen onteienende owerheid eiendom arbitrêr mag onteien nie.

“Owerhede met onteieningsmag mag nie voortgaan tensy hulle eers probeer het om ’n ooreenkoms met die eienaar te bereik vir die verkryging van die eiendom op redelike gronde nie. Alle stappe in die proses, insluitend die vraag van wat billike en regverdige vergoeding behels, is onderhewig aan regterlike oorsig,” sê Cronin en Nxesi.

“Wat nou bygevoeg is, is ’n kort seksie wat omstandighede omlyn waarin dit billik en regverdig sou wees vir nul vergoeding wanneer grond in die openbare belang onteien word. Selfs in só ’n situasie, waarin dit wel ’n ongeregtigheid sou wees om meer as ’n nominale of inderdaad nul vergoeding te betaal, sal elke saak volgens verdienste beoordeel moet word. Die grondwetlike vereiste is vir ’n billike en regverdige balans tussen die openbare belang en die belang van dié wat geraak word. Vergoeding word met die belastingbetalers se geld betaal, nie die Regering s’n nie.”

DUIDELIKE TEKEN

Cronin en Nxesi vaar in hul rubriek uit teen regsgesindes in die Parlement wat waarsku dat ’n beoogde wysiging aan die Grondwet die begin van ’n era van rasgegronde bloedvergieting is.

Hulle verwerp in dieselfde asem die “demagogiese beroepe om alle grond met die haal van ’n pen te nasionaliseer deur onteiening sonder vergoeding”, want “om almal van ons in huurders in ons geboorteland te verander, is heeltemal ongevoelig vir die aspirasies van die meeste Suid-Afrikaners”.

Dit is dalk die duidelikste teken nóg dat die Regering besef dat daar nie ligtelik met eiendomsreg omgegaan mag word nie. Soos Max du Preez die afgelope week gesê het: Dit is egter jammer dat die debat die land reeds enorme skade berokken het.

WIE WAS DAAR?

By geskiedkundige gebeure is dit dikwels net so belangrik om te kyk na wat ontbreek as na wat gebeur. Die Nasionale Vergadering (NV) se stemming oor die wysiging aan die Grondwet se eiendomsklousule vroeër die maand is geen uitsondering nie.

Die NV, die belangrikste verteenwoordiger van stemgeregtigde Suid-Afrikaners, bestaan uit 400 parlementslede. Net 300 het op 5 Desember gestem oor die mosie om ’n proses van stapel te stuur om onteiening van grond sonder vergoeding in die Grondwet te laat inskryf. Die res was nie daar nie.

Uit die ANC se 249 lede het net 178 gestem. Uit die EFF se 25 lede het 23 gestem. Uit die DA se 89 lede het 77 gestem. Uit Cope se drie lede het net een gestem. Al vier die Vryheidsfront Plus se lede het gestem en sewe van die tien IVP-lede.

Omdat net 50% nodig was om die mosie te laat slaag en met só ’n gemaklike meerderheid, kan dit wees dat die ANC se hoofsweep nie te kwaai gedreig het oor lede wat om heeltemal regverdigbare redes nie daardie dag in die Kaap kon wees nie. En ons parlementslede is nou ook nie juis bekend as die pligsgetrouste amptenare op aarde nie.

Maar as Manie so kyk na die name wat ontbreek op die lys van LP’s wat gestem het, wonder hy darem. Mense soos Jeff Radebe, Naledi Pandor, Angie Motshekga en Pravin Gordhan, almal kabinetsveterane wat die verwoesting van die Zuma-jare oorleef het. Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma wat kort voor die ANC-leierskapskongres ’n parlementslid geword het in die hoop dat sy president sou word, was ook nie daar nie. Ook van oudpres. Jacob Zuma se lojaalste bondgenote se stoele was op dié dag leeg. Hulle is Nomvula Mokonyane, Mosebenzi Zwane, Lindiwe Zulu, Bathabile Dlamini en Des van Rooyen.

HOOP VIR PHILIPPI

Boere van die Philippi-tuinbougebied in Kaapstad se volhoubaarheid is reeds jare lank in die gedrang weens grootskeepse diefstal en geweldsmisdaad, sowel as grondhonger eiendomsontwikkelaars. Die boere het vroeër vanjaar ’n sug van verligting geslaak toe die Stad Kaapstad ’n verbod op enige verdere ontwikkeling in die gebied geplaas het.

Ná Dan Plato, voormalige minister van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, as burgemeester van Kaapstad aangewys is, het Alan Winde, voormalige minister van landbou en ekonomiese geleenthede, dié portefeulje by hom oorgeneem. Winde het met sy eerste besoek in dié hoedanigheid aan die Philippi-gemeenskap aangekondig hy gaan R5 miljoen uit sy departement se begroting bewillig om reserviste in die gebied te finansier.

Mnr. Gunther Engelke, voorsitter van die Kaapse Vlakte-boerevereniging, het gesê: “Hier woon en leef almal saam. Wit, bruin, swart, Christen, Moslem, noem maar op. Ons moet ophou fyngevoelig wees as ’n lid van ’n sekere gemeenskap opstaan en praat van ‘ons’ en ‘hulle’. Ons is almal slagoffers met dieselfde probleme. Ons moet ophou om onsself in groeperings af te sonder en moet saamspan.”

Soos elders is hulle bekommerd oor die kriminele regstelsel se vermoë om vasgetrekte misdadigers aan die pen te laat ry. Dit is egter al telkemale bewys dat gemeenskappe wat saamstaan teen misdaad, groot suksesse kan behaal. Manie wens hulle alle sterkte toe.

MIN WOORDE

Die dominee vra met huisbesoek aan ’n boer om dié vier woorde op te som: Vrede. Harmonie. Liefde. Kalmte. Die boer antwoord droogweg: “My vrou slaap.”