Met die hofverskyning in Senekal van die twee verdagtes vir die wrede moord op plaasbestuurder Brendin Horner (22), het die landbougemeenskap, soos dit nou al die gebruik geword het, in groot getalle na die hof opgeruk.

Maar hierdie keer was dit nie genoeg om met plakkate, swart vlae en wit kruise te probeer verwoord hoe die euwel van plaasmoord aanhoudend boere, hul gesinne en werkers kasty nie.

Terwyl Manie se kollega dié dag op die kliprantjie skuins agter die landdroshof gestaan het, kon sy voel hoe die atmosfeer al hoe meer gelaai word, soos spreker ná spreker die verband getrek het tussen die polisie se klaarblyklike ignorering van hul misdaadprobleme en Horner se dood.

Die plaaslike boeregemeenskap meen ’n magtige veediefstalsindikaat, met sy tentakels tot diep in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, sit agter die moord. Die jong Horner se liggaam is gevind met ’n nylonkoord om sy nek, vasgemaak aan ’n ysterpaal. Boere het dié daad as ’n boodskap van uittarting en minagting beskou.

Toe breek die damwal op Senekal. ’n Groep boere bestorm die landdroskantoor en dring daarop aan om die beskuldigdes te sien. Gemoedere het hoog geloop en skade word aangerig, onder meer ’n polisievoertuig wat aan die brand gesteek is.

Daarmee is ’n kantelpunt bereik in die uitgerekte stryd om die regering so ver te kry om net sy kop uit die sand te trek en daadwerklik teen die misdaadgolf op die platteland op te tree.

Die kwessie waaroor die landbougemeenskap nou ernstig moet besin, is waarheen hy die veldbrand, wat nou aangesteek is, gaan stuur.

Die feit dat ’n lid van dié gemeenskap nou in aanhouding is en van terrorisme, poging tot moord, aanhitsing tot geweld en openbare geweldpleging aangekla word, het implikasies vir ons almal. Hy, en enige ander boere wat weens protes in hegtenis geneem word, sou waarskynlik nooit só drasties opgetree het as die regering net lankal sterker teen plaasmoorde opgetree het nie.

Dit is skreiend dat die polisie in dié geval blitsvinnig opgetree het. Maar die geweld deur wit beswaarmakers het die regerende ANC in ’n politieke hoek gedruk. Die volgende hofverskynings van beskuldigdes in plaasmoord-sake gaan polities gelaai wees. Opportuniste, soos die EFF, sal nie skroom om ’n rassestryd buite die hof uit te lok nie.

As dít gebeur, verskuif die openbare klem weg van die stryd teen plaasmoorde. Enige beheer wat die landbougemeenskap sou hê oor die blootstelling wat die kwessie, ook in die buiteland, geniet, sal verdwyn. Daarom is uiters verantwoordelike optrede nou nodig.

Geen vuurwerke op Agri SA-kongres

Van Manie se spioene het vuurwerke op Agri SA se kongres verwag ná die vroeëre personeelskuiwe en daarna die drastiese verdeling van die organisasie in ’n maatskappy met ’n winsmotief. ’n Deel bly oor wat hom vir beleidskwessies beywer.

Pleks daarvan was die virtuele kongres ’n vertoonvenster van optimistiese denke en progressiewe planne. Dalk is daar steeds onderstrominge, maar met deesdae se virtuele byeenkomste kan mense mekaar mos nie in die oë kyk nie. Die werklike gevegte word dalk nou buite die openbare oog baklei.

Manie was veral beïndruk met die jonger garde. Drie jong vroue wat seker enige jong man tot boerdery kan aanspoor, staan nou aan die hoof van die bedryfs- en korporatiewe afdeling, asook die ramprisiko-afdeling. Hulle is Jolanda Andrag, Mihlali Xhala en Andrea Campher. Maar, al is hulle “sag op die oog” soos Manie se kollega dit beskryf, sit elkeen met groot verantwoordelikhede op haar skouers.

Aan die kommoditeitskant is daar byvoorbeeld 26 lede wat uiteenlopende eise en verwagtinge het. In die korporatiewe kamer is daar 59 lede van wie sommige internasionale maatskappye is – elk met sy eie belange om te beskerm.

Vir dié drie was 2020 ’n behoorlike vuurdoop met Covid-19, die inperking en alles wat daarmee gepaardgegaan het. Andrag sê juis die hoogtepunt van die jaar tot dusver was om te sien hoe almal binne die waardeketting kon saamwerk om tydens die inperking probleme opgelos te kry.

Verskeie ander sprekers het ook beklemtoon hoe samewerking en goeie verhoudinge ten tye van die inperking gehelp het om die wa deur die drif te trek. Andrag sê sy het veral by dr. Pieter Prinsloo, voormalige voorsitter van die bedryfskamer, geleer hoe belangrik verhoudings is.

Agri SA het Prinsloo, wat tussendeur sy beesboerdery ook nog ’n tandarts is, op die kongres met ’n eerbewys vir sy bydrae tot die organisasie vereer.

Lekker om weer te skou

Man, was dit nou nie lekker om weer te skou nie! Die meeste skoue het vanjaar vanweë die Covid-19-pandemie in die slag gebly, veral dié wat altyd in die tweede helfte van die jaar plaasvind. Twee skoue staan egter kop en skouers bo die ander uit omdat hulle deurgedruk het.

Manie praat van die BKB-Afrika-allerasse-ekspo (ALE) op Parys waarin Landbouweekblad as mediaborg ’n rol speel, asook Gobabis in Namibië wat albei die afgelope paar weke uitkoms vir die skou-honger boere gebied het. Soos Jacobus le Roux van BKB op Parys gesê het: Digitale beoordeling is net nie dieselfde as om werklik ’n skou by te woon nie. ’n Mens wil die diere ruik, het hy bygevoeg.

Hierdie skou is verlede jaar vir die eerste keer gehou omdat telersgenootskappe gemeen het daar is nie meer ’n werklike groot skou in die noorde nie, soos die Randse Paasskou wat nie meer ’n landbou-afdeling het nie, en die Pretoriaskou wat gesneuwel het.

Toe pak hulle die ALE-skou aan: Vir die boere deur die boere. Die datum moes onlangs aangeskuif word omdat die reëls groot byeenkomste verbied het, en toe word vlak 1 van die reeks inperkings gelukkig net betyds ingestel sodat die skou kon voortgaan.

In Namibië het die Windhoekskou ook in die slag gebly. Gobabis se organiseerders het besluit om voort te gaan. Dit was die regte besluit, want hulle kon ook lekker skou. Soos Johann Brits, een van die organiseerders, dit stel: Al die boere wat in Windhoek wou skou, het Gobabis toe gegaan, en het hulle nie lekker geskou nie!

Wat noem jy ’n boer?

Wat noem jy ’n boer met ’n G-string aan?

’n John Deurtrekker.