Vir iemand buite Suid-Afrika kon dit vermaaklik en komies gewees het om dit dop te hou, maar as ’n Suid-Afrikaner kon Manie maar net sy kop in skaamte laat saak. Louis Meintjes van TLU SA sê dit is werklik pateties en skandalig dat die land se verkose leiers só ’n sirkus kan toelaat, terwyl die wêreld se oë op ons gerig is tydens een van die belangrikste gebeurtenisse van die jaar. Daar is geen selfrespek nie, geen selfdissipline nie en net die eie “ons” maak saak.

Manie meen daar sal ernstig gekyk moet word oor hoe hierdie geleentheid in die toekoms aangebied moet word om te keer dat dit deur politieke faksies vir eie gewin uitgebuit word. Op die ou einde is die verloorder die hele Suid-Afrika en sy mense!

Die beter kant

Maar kom ons lê eerder die klem op dit waaroor dit regtig moes gegaan het, naamlik die president se planne vir die jaar vorentoe en hoe dit die landbou gaan raak. Agri SA sê in sy reaksie die staatsrede hou potensiaal in, maar daadwerklike optrede word nou verlang. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur, sê sy organisasie stem saam met die president dat die landboubedryf groot potensiaal vir groei toon, maar dit is jammer dat hy nie meer aandag aan die landbousektor in sy staatsrede gegee het nie.

Van Zyl sê dit is kommerwekkend dat daar geen verdere besonderhede oor droogtehulp en praktiese oplossings vir die voortslepende droogte is nie, dat daar geswyg is oor misdaad in landelike gebiede en dat die beleidsonsekerheid oor onteiening sonder vergoeding voortduur. Aan die ander kant is dit bemoedigend dat die president die toekenningsproses van waterlisensies gaan versnel en dat hy hom verbind het om werkskepping in die landbou aan te moedig.

Die landbousakekamer Agbiz sê hy verwelkom die groter realisme in die staatsrede. Veral die klem op inklusiewe ekonomiese groei om Suid-Afrika se probleme die hoof te bied. John Puchase sê daar was heelwat verwysing na die ontwikkeling van ’n maatskaplike verdrag tussen die regering, sakesektor, arbeid en gemeenskappe om die probleme te takel en Agbiz is by van dié aksies betrokke.

Die nuwe houding oor kragopwekking, die toestemming vir ondernemings en huishoudings om hul eie krag op te wek en die skuif na hernubare energiebronne word sterk verwelkom. Dit moet egter dringend in werking gestel word.

Purchase sê ’n kernprobleem wat die president beklemtoon het en een wat groot kommer wek in die landbousake-omgewing, is die verslegtende vermoë van die staat, insluitend openbare ondernemings, om basiese dienste te lewer. Manie stem saam dat dit die landbou se vermoë om internasionaal mededingend te wees, ernstig benadeel.

Agbiz is veral bly dat die president die logistieke probleme besef wat landbou-uitvoer kortwiek en bly oor die aankondiging dat die Durbanhawe, ’n belangrike uitvoerhawe vir landbouprodukte, nog vanjaar opgeknap sal word.

TLU SA het sy bedenkinge of die beloftes wat die president gemaak het, wel tot die voordeel van die land is en of dit werklik deurgevoer kan word. Meintjes meen Suid-Afrika is vasgevang in die ANC, SAKP en Cosatu se ideologiese net wat tot dusver slegs die ekonomie skaad. Hy sê die ANC se blaf raak nou uitgedien. Indien sy byt nie gekoppel is aan kundigheidsbenutting asook etiese toepassings nie, sal sake maar net op die korrupte manier aankarring.

Manie stem saam met Meintjies as hy sê die president kan nie verwag dat grondhervorming deur onteiening sonder vergoeding versnel sal word én dat landbouproduksie terselfdertyd verhoog sal word nie.

Taxi’s volgeprop met skape en kinders

Van ’n sirkus gepraat . . . Manie kon maar net sy kop skud toe hy verlede week in die nuus lees van ’n taxi wat in die Oos-Kaap voorgekeer is met 27 passasiers – almal skape.

Luidens die polisie het lede van die veediefstaleenheid van King William’s Town en Somerset-Oos hoofroetes gepatrolleer toe hulle die taxi met sy vreemde vrag gewaar het. Vier mans was saam met die skape in die taxi en hulle kon nie verduidelik waar hul vrag vandaan kom nie. Die polisie het daarna ook op ’n tydelike kraal met nóg 17 skape afgekom en ’n plaaslike boer het die skape as syne uitgeken.

Dit laat Manie ook dink aan die twee mans wat in Januarie naby Klerksdorp in Noordwes in hegtenis geneem is toe hulle met 29 skape in twee voertuie betrap is. ’n Boer naby Hartbeesfontein het die polisie in kennis gestel dat daar 39 skape op sy plaas gesteel is. Die polisie was op die uitkyk vir moontlike verdagtes toe hulle die twee voertuie met die skape gewaar het.

Asof dit nie erg genoeg is om ’n taxi en voertuie vol skape te prop nie, was daar in Januarie die ontstellende videomateriaal van ’n taxibestuurder wat by Bela Bela in Limpopo voorgekeer is met 58 skoolkinders ingeprop in die Quantum-taxi wat eintlik net plek het vir 14 passasiers. Die voorval is wyd veroordeel, beslag is op die voertuig gelê en die bestuurder word vervolg.

Nogtans het Manie die gevoel dat hierdie glad nie so ’n uitsonderlike voorval was nie. Taxi’s word daagliks volgeprop om soveel geld moontlik met ’n rit te verdien. In een week verlede jaar in die Oos-Kaap is vier taxi’s by Port Elizabeth voorgekeer wat altesaam 88 mense te veel vervoer het. In een het die 26-jarige bestuurder 47 kinders in die 16-sitplek-bussie gehad en in ’n ander een was 36 passasiers terwyl daar net plek vir 14 is.

Die vriendskappe wat tel

Twee ou boere sit in die dorpskroeg ná die maandelikse vetveeveiling. Hulle praat oor ditjies en datjies voor die een lank stilbly. Hy neem ’n diep teug aan sy bier, voor hy met die verbasende nuus vorendag kom: “Gister het my ou groot vriend Piet Wolmarans met my vrou weggeloop.”

Die boer se vriend is geskok, en dit kos hom ’n rukkie om tot verhaal te kom. “Ek is só jammer, my maat,” begin hy. “Maar van wanneer af is daardie niksnut Wolmarans jou vriend?” Die ander boer glimlag breed en antwoord: “Van gister af.”