Daar is ’n siening dat nie alle sertifikate gerugsteun word deur fisieke voorraad in die silo nie. Die feit dat ’n ondersoek deur die JSE verlede jaar daartoe gelei het dat Suidwes Landbou se Bloemhof-silo uitgevang is vir oortredings van die rapporteringreëls van silovoorrade was verdere vet op die vuur. Daar is bevind dat daar silosertifikate vir 10 800 ton eerstegraadse witmielies was, maar daar was net 5 500 ton van dié mielies in die silo. Dit het tot ’n boete van R1,5 miljoen gelei.

Die wantroue is nou besig om opnuut op te vlam omdat graankopers in hierdie tyd, voor die nuwe oes gelewer word, begin sukkel om voorraad te kry, terwyl amptelike syfers toon daar behoort genoeg voorraad te wees. Johan Willemse, landbou-ekonoom, wys daarop dat die ontevredenheid vererger word onder diegene wat meen dat die huidige mielieprys nie die werklikheid weerspieël dat dit moeilik is om fisieke voorraad te bekom nie.

Die Safex-prys staan op uitvoerpariteit, terwyl daar nie uitvoer of voorraad beskikbaar is nie. Daar word geargumenteer dat die prys die tekort aan voorraad moet weerspieël. Terwyl die debat voortduur, is daar ook ’n groep wat hulle beywer vir die vestiging van ’n kontantmark-platform vir produsente en kopers.

Wat die werklike oplossings behels, sal Manie in die hande van die slim mense laat, maar wat hy wel weet, is dat al die onsekerheid en verdagmakery vir niemand goed is nie. Daar moet op ’n manier groter sekerheid bewerkstellig word – al verg dit omvangryke oudits of veranderinge in die stelsel.

Kaalkop-waarheid oor grond

Artikel 25 van die Grondwet was nooit ’n struikelblok op die pad van grondhervorming nie. Daar is nie hoop vir grondlose mense om grond te kry deur die Grondwet te verander nie.

Hierdie was een van vele kaalkop-waarhede waarmee me. Zenande Booi, regskenner van die Universiteit van Kaapstad, op ’n webinaar oor die pad vorentoe met grondhervorming vorendag gekom het. Sy sê die mislukking van die grondhervormingsproses is al deeglik nagevors. Nooit is die skuld op artikel 25 van die Grondwet geplaas nie.

Die Grondwet gee breë magte aan die staat, maar die staat ontwikkel nie wette wat hom in staat stel om hierdie magte te gebruik nie.

Sy meen, heeltemal tereg, dat swart mense se grondregte juis nié bevorder word wanneer grond aan die staat oorgedra word nadat dit sonder vergoeding onteien is nie. Dit was nie in die verlede ’n goeie manier om grond op ’n regverdige manier vir mense toeganklik te maak nie en ook nie nou nie.

Manie stem heeltemal met haar saam dat die grondloses inspraak moet hê in hierdie kwessie wat hulle op soveel vlakke raak. Die eintlike probleem, wat deur al die retoriek verberg word, is dat die mense wat aanhoudend hul grond sonder vergoeding verloor, arm swart mense in veral die voormalige tuislande is.

Zenande sê hul onteiening word regstreeks en onregstreeks deur die staat gedoen deur die optrede van tradisionele leiers of deur privaat individue met die staat se goedkeuring. Grondbewoners hou dikwels ongeregistreerde regte, dog daar is nie ’n register van die regte nie en wetgewing beskerm ook nie die regte nie.

Intussen word onteiening sonder vergoeding verkeerdelik voorgehou as ’n kitsoplossing om ingewikkelde struikelblokke in die proses van grondhervorming uit die weg te ruim.

Sy sê ’n belangrike vraag is aan wie grond wat onteien word, oorgedra sal word en watter regte daarop sal geld. Vir die staat of tradisionele leiers om grond namens mense te besit, beteken nie daar is regverdige toegang tot grond nie. Dit is ’n manier om terug te val op koloniale en apartheidspraktyke, sê sy.

Spoorsny in die Karoo

Manie se vriend vertel in die vroeë 1920’s, min of meer toe Ford se eerste fabriek in Port Elizabeth op dreef gekom het, het die direksie besluit om ’n Fordjie platteland toe te stuur om potensiële kopers te wys hoe lyk ’n perdelose kar – en hoe lekker dit kan ry op ’n ossewapad.

Op die eerste Karoodorpie van die toer het die opgewonde inwoners al vroeg saamgedrom om die geskiedkundige gebeurtenis te aanskou. Almal was daar, afgesien van een oom wat so besig was op sy plaas dat hy skoon vergeet het van die demonstrasie.

Toe dit hom skielik byval het hy haastig opgesaal en dorp toe gejaag. Halfpad soontoe ontmoet hy sy buurman wat reeds op pad was terug huis toe – en hy moes hoor hy is te laat. Die Fordjie is al weg.

Die oom besluit net daar om in elk geval in te ry “want hy wil darem graag sien wat se soort spoor die kar trap”. Min het die oom geweet dat boere 100 jaar later net so belang sou stel in voertuigspore – deesdae nie vir die blote interessantheid daarvan nie, maar eerder om leidrade te soek vir misdade, soos diefstal en plaasaanvalle. Manie se vriend sê hulle moet bykans elke oggend spoorsny om te kyk watter voertuig nou al weer op die grondpad gedraai of gesigsag het agter wildsbokkies aan. Die boerevereniging sit nou kameras op by elke kruising. Dit gaan baie kos, maar hulle hoop dit help ’n bietjie.

Covid-19-toetse in Namibië

In wat dalk ’n nuutjie kan wees, het ’n landboumaatskappy van Namibië goedkeuring gekry om toetse vir Covid-19 te doen. Die veevoermaatskappy Feedmaster het pas met hierdie diens begin. Mense kan nou van ’n deurry-toetskliniek op die Wanderers-sportterrein in Windhoek gebruik maak.

Drie verpleegsters en vier tegnici in die laboratorium is aan diens. Hulle kan 200 tot 300 mense per dag toets. Die vraag na toetse is groot en hulle sal die kliniek bedryf vir solank as wat daar ’n behoefte is. Mense wat die toets wil gaan doen, sit in hul voertuie en word dan daar getoets. Dit wys jou maar, die landbou is in staat om enigiets te doen as die wil daar is.

Taai biltong

My ouma het altyd gesê dit is nie ’n straf om taai biltong te eet nie. Dit is ’n seëning.