As elkeen van dié rande verstandig bestee was, soos wat Agri SA meen hy vir elke R1 wat geskenk word R5 se waarde kan bied met die hulp van sy eie infrastruktuur, dan moes die regeringshulp bykans R31,5 miljard waarde in droogtegebiede getoon het. As dit hoofsaaklik sou gegaan het aan die boere wat die land se voedsel produseer, sou dit meer as ’n halfmiljoen rand se hulp aan elke boer beteken het.

Helaas is daar bykans niks wat gewys kan word vir al hierdie miljarde wat bestee is nie. Inteendeel: Die misbruik van geld vir droogtehulp was só erg dat die DA se Annette Steyn die ouditeur-generaal versoek het om ’n formele ondersoek daaroor te begin.

Daar is talle tekens van uitbuiting, korrupsie en blatante diefstal. Reeds middel 2017 het Agri SA ’n klomp moontlike ongerymdhede met droogtehulp blootgelê. Ondersoeke is gevra waar diensverskaffers in sommige provinsies na bewering 40% van ramphulpgeld in hul eie sakke gesteek het.

In daardie stadium is gepraat van onder meer die droogtefonds van landelike ontwikkeling en grondsake van R463 miljoen – waarvan R318 miljoen bestee is sonder dat vasgestel kon word waarop. Die department van water en sanitasie het R341 miljoen vir droogtehulp beskikbaar gehad, maar R290 miljoen daarvan is op een ontsoutingsaanleg by Richardsbaai bestee.

Daar is volgens regeringsyfers R48 miljoen vir 204 boorgate betaal. Dit is onseker of dit bestaande gate is wat toegerus is of nuwe gate. Indien dit bestaande gate was, is daar R38 miljoen te veel betaal en al was dit nuwe gate wat geboor is, is daar steeds R28 miljoen weg.

In Noordwes is vier jaar gelede sakke voer vir R158,30 per sak gekoop, maar diensverskaffers het R269 daarvoor gekry – 44% meer as die markprys. In daardie stadium was die somtotaal van droogtehulp vir sowat 150 kommersiële boere in Noordwes vyf sakke voerkorrels vir elkeen – wat genoeg is vir tien beeste vir ’n dag.

In die Noord-Kaap was daar beweringe dat ’n diensverskaffer glo agterna ’n luukse Bentley-motor gekoop het. En só gaan die stories aan en aan . . . Sover Manie kan vasstel, het nog niemand aan die pen gery daarvoor nie.

Ook ander geld vir die landbou kom gewoonlik nie by kommersiële boere uit nie. Vroeër vanjaar het minister Thoko Didiza met groot fanfare ’n Covid-19-rampfonds van R1,2 miljard vir die landbou aangekondig, maar in dieselfde asem gesê dat dit net op kleinboere gemik was.

Altesaam 15 000 klein- en kommunale boere het op die ou einde R500 miljoen se koopbewyse ontvang. R400 miljoen het gegaan aan 146 begunstigdes wat deel is van die regering se pro-aktiewe grondverkrygingsprogram (PLAS). Die res van die geld sou gaan vir maskers en beskermende klere, asook die aanstelling van nog 45 voorligtingsbeamptes om kleinboere by te staan

Om alles te kroon, het die regering aangekondig dat die land nie meer as ’n droogterampgebied verklaar is nie. Dít terwyl verskeie gebiede in die Oos-, Wes- en Noord-Kaap steeds onder die gevolge van die droogte deurloop.

Volgens Willem Symington van Agri SA se rampbestuursentrum het talle boere steeds dringend hulp nodig. Agri SA en sy lede het sowat R24 miljoen wat deur die private sektor sedert 2015 geskenk is, gebruik om boerderygemeenskappe aan die gang te hou. Daarvoor verdien die organisasie en die skenkers groot lof.

voordele van sulke konferensies

Augustus tot November is die landboubedryf (en seker die res van die land) se konferensie-, kongres- en jaareindfunksie-maande. Dit is ook tyd vir Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK) se konferensie. Boere en wetenskaplikes bekyk en bespreek gewoonlik proewe en nuwe kultivars op die navorsingsplaas Langgewens en private plase by Riversdal en Hopefield.

Dit is ’n lekker tyd van die jaar. ’n Mens kan al amper sien na watter kant die graanoeste gaan. Maar vanjaar moes BLWK sy konferensie aanlyn hou. Boere het die interaksie met ander boere en wetenskaplikes misgeloop, asook die kwinkslae wat gewoonlik tussen die proewe kwytgeraak word, maar talle van hulle sê die aanlyn verrigtinge is nogal gerieflik.

Met die lesings en praktiese sessies wat vooraf opgeneem is, kon hulle ’n lesing tydelik onderbreek as daar iemand by die deur is, of net kyk waarin hulle belang stel. Vir talle boere is lang ritte van hul plase na die konferensie, wat gewoonlik in die Kaap iewers gehou word, onnodig. Boonop was dit nie nodig om in die Kaapse winter in ’n koue saal te gaan sit nie.

Hoewel BLWK van die begin af gemik was op alle boere wat bewaringsboerdery toepas, is dit aanvanklik as ’n vereniging vir graanboere beskou. Manie merk egter ’n verblydende neiging dat al hoe meer wingerd- en vrugteboere ook betrokke raak. “Ons boer tog almal met grond,” soos ’n boer van die Hemel-en-Aardevallei opgemerk het.

Dit is ook opmerklik hoeveel kundigheid in Suid-Afrika beskikbaar is. Niemand het nog die kwessie van koolstof in die grond so goed verduidelik soos dr. Elmarie Kotzé van die Universiteit van die Vrystaat nie.

’n Mens kan darem nie nalaat om die uitblinker-personeel van die Wes-Kaapse departement van landbou te noem nie. Arie van Ravenswaay se video’s en hommeltuigbeelde laat ’n mens die proewe se uitleg baie beter verstaan en Johann Strauss het dit weer reggekry om ’n interessante en leersame program saam te stel.

Graad 7-leerlinge se eksamenantwoorde

Vraag: Wat is teenoorstaande hoeke? Antwoord: Hoeke wat vir mekaar kyk.

V: Maak ’n sin met “ter aarde bestel”. A: Wie op ter aarde bestel so ’n groot koek?

V: Wat is die formule vir ’n sirkel se omtrek? A: Paai straal kordaat.

V: Wat is die meervoud van kabeljou? A: Kabeljulle.

V: Waarom is die seun in die verhaal gestraf? A: Omdat hy sy eie virgin van die volkslied gesing het.

V: Vertaal in Afrikaans: “I beg your pardon?” A: Huh?

V: Wat noem ons iemand wat velle looi? A: ’n Onderwyser.

V: Wat kry jy as jy jou melktande wissel? A: Pepermenttande.

V: Wat is ’n terminale siekte? A: As jy op die lughawe siek word.