Manie wonder of dit genoeg gaan wees en hoe lank die besluitnemers in die bevelsraad hul storie gaan gestand doen. Kyk nou maar na die jagbedryf. Eers kon niemand jag nie, toe mag dié van ons wat vir die pot skiet, gaan jag en op plase oorslaap – selfs in ander provinsies. Toe mag ons weer net in ons eie provinsies jag en nie oorslaap op die jagplaas nie – ten koste van die arme Gautengers.

Maar, wonder bo wonder, kom die soveelste verandering: Jagters kan nou weer op die jagplaas oorbly, maar net binne hul eie provinsies – arme Gautengers. Besef die regering jy verarm nie net een sektor wanneer jy die ekonomiese deur in sy gesig toeklap nie?

Die hele land voel dit. Jaco van der Walt van Waltkon Vleis in Limpopo sê die mark vir uitsoekvleissnitte het sodanig gekrimp dat hy nou half-leë vragmotors stuur om vleis by sy kliënte in Gauteng, Noordwes en Limpopo af te laai. Hy sê dit is omdat hotelle, gastehuise, restaurante en wildlodges nou bitter min (of geen) vleis bestel.

Van der Walt sê beesvleis uit goedkoper voorkwartsnitte verkoop redelik goed danksy die feit dat mense by die huis vir hulself kos maak. Winsgewendheid lê egter in die uitsoeksnitte van die agterkwarte – dit is hotelkos, restaurantkos en kos wat vir oorsese jagters in wêreldklas-jagkampe voorgesit word. Dít is die snitte waarmee mense hulself bederf wanneer hulle gaan uiteet. By die huis eet hulle maalvleis, wors en kookvleis.

Van der Walt sê hulle verloor nie net aan die verkopekant nie. ’n Mens kan nie ’n half- of kwartvrag winsgewend vervoer nie, maar ’n mens doen wat jy moet, want selfs by sy slaghuis op Mookgophong kan hy sien hoe die verbruiker se besteding taan.

Sonder gaste is daar nie inkomste in hierdie bedrywe nie. Sake-eienaars kan nie bekostig om sjefs, kelners, kombuispersoneel, skoonmakers, toergidse en talle ander dienspersoneel in die gasvryheidsbedryf te betaal nie.

Manie sluk elke keer swaar as hy ’n vriend of selfs ’n familielid herken wat ’n foto van hom- of haarself onder die hutsmerk #JobsSaveLives op sosiale media plaas. Wanneer ’n mens die persoon in die foto ken, ken jy sy of haar storie. Jy weet hoeveel mense van hulle afhanklik is. Jy weet van die enkelouer-werker wie se kind hulle help studeer of van die bydraes wat hulle aan ’n welsynsorganisasie op hul dorp lewer.

Kom ons hoop die skrefie waarop die deur vir die gasvryheidsbedryf oopgegaan het, is genoeg om ’n bietjie lewe in hierdie verpletterde sektor te blaas.

Soos die houtjie van die galg

So min vertroue as wat Manie in party politieke leiers het, so baie is hy ingenome met die mense van Suid-Afrika se vindingrykheid. ’n Voorbeeld is die planne wat beraam sal word om ’n stukkie wildsvleis op die tafel te kry.

Een van Manie se vrinne daar in Kemptonpark is só lief vir die jagveld ’n mens sou dink hy is ’n afstammeling van Esau. Wanneer dit goed gegaan het voor die inperking het hy koedoes, elande en gemsbokke gejag. Wanneer die finansies knyp, wend hy hom tot goedkoper wild, vlakvarke en bosvarke doer in Limpopo se Bosveld.

Manie vra hom eendag of die polisie of natuurbewaring hom nog nooit afgetrek en vir vervoerpermitte en veeartsenysertifikate vir die karkasse gevra het nie. “Nee,” sê hy. “Nog nooit nie. Ek en my jagmaats maak ’n kano en ’n klomp visstokke op die bakkie se dak vas. As ons gaan jag, waai die beamptes by die padblokkades ons blitsvinnig deur sodat hulle die volgende verdagte motor kan ondersoek.”

Boere sien polisie se harde werk raak

Verlede week stuur ’n kollega ’n stemgreep aan Manie van ’n boer uit die Vaalharts-omgewing waar die Brand-familie vermoor is. Ai, ’n mens kry sommer ’n knop in die keel as jy hoor hoe ’n boer sê: “Ons moet beter na mekaar kyk.”

Sulke nederige eerlikheid vang ’n mens amper onkant in ’n tyd wat vinger wys en die verskuiwing van skuld die norm geword het. Toe die stemboodskap land, was Manie reeds goed omgeklits oor kommentaar uit al wat politieke oord is oor die trae reaksie van die polisie op hierdie saak en ook op landelike misdaad in ander provinsies.

Selfs Manie glo soms te maklik wat hy op sosiale media sien of lees. Die boer uit Vaalharts vertel egter ’n ander storie. Hy loof die polisie vir hul flink, professionele optrede, die manier waarop hulle met die boeregemeenskap saamgewerk het en die deeglikheid waarmee hulle die gebied gefynkam het op soek na leidrade en verdagtes.

Hy vertel hoe selfs hy kort-kort in padblokkades voorgekeer is, hoe die polisiehelikopter heeltyd gevlieg en gesoek het en hoe hard die manne en vroue in blou gewerk het tot die laaste verdagte aangekeer is.

’n Kollega vertel vir Manie dat Dave Osbourne, die boer wat in Junie saam met sy vrou, buurman en werkers in Limpopo aangeval en beroof is, met net soveel lof van die polisie gepraat het. Twee van sy naaste polisiekantore se bevelvoerders het glo binne minute saam met hul bemanning op die plaas opgedaag en uit hul pad gegaan om seker te maak elke moontlike leidraad en bewysstuk word in die ondersoek vervat.

Manie weet dit is nie altyd maanskyn en rose nie en dat ons almal nie altyd sulke goeie ervarings het nie, maar dieselfde moet geld as ’n mens bank, supermark of slaghuis toe gaan. Daar is altyd mense wat lyf wegsteek, ander wat net doen wat hulle moet om uit die moeilikheid te bly – en dan is daar diegene wat trots en ernstig is oor hul werk.

Dit is hierdie polisielede wat Manie wil salueer en sê dankie en sterkte. As ’n mens die misdaadstatistieke so kyk, gaan ons ten nouste saam met manne en vroue soos julle moet werk om die platteland veilig te kry.

My skoonma weeg haarself

My vrou het my laptop op ons kamervloer vergeet en skoonma het gedink dit is ’n skaal. Lang storie kort: My skoonma weeg R18 000.