Die vyf wat met vrywillige skeidingspakkette weg is wat met behulp van die vakbond, Solidariteit, beding is, is Requier Wait, hoof van ekonomie en handel, Jahni de Villiers, hoof van arbeid en ontwikkeling, Martina Benade en Anneke Roux, assistente, en Samson Mokgethwa, bode.

Van der Rheede sê as ’n organisasie wat aan die hele waardeketting dienste moet verskaf, moet Agri SA deurgaans op die hoogte bly en aanpas by politieke, ekonomiese en ander veranderinge. Daarom is verlede jaar begin met ’n nuwe strategie om in die behoeftes van die korporatiewe, bedryfs- en provinsiale affiliasies te voorsien en meer oplossingsgedrewe te wees.

Volgens hom verg dit ’n meer aktivistiese benadering en gesaghebbende personeel met die nodige politieke kontakte, kennis van die landbou- en handelsomgewing en onderhandelingsvaardighede.

Agri SA wil nie net op beleidskwessies klem lê nie, maar onmiddellik ingryp om oplossings te vind – soos die onlangse onderhandelinge met Transnet om die hawens oop te kry. Van die poste word nou geadverteer.

Ingonyama-trust

Dit het Manie nog altyd verstom hoe die speelveld vir verskillende groepe in die land verskil en hoe sommige met moord (spreekwoordelik of selfs in sommige gevalle dalk werklik) kan wegkom en ander vir die geringste oortreding opgeskroef word.

Neem nou maar die taxi-verenigings wat ’n mag op sy eie is wat maklik aan die regering kan voorskryf waarvoor hy te vinde is en waarvoor nie – om nie te praat van die verskillende vakbonde nie. Nóg ’n stert wat op die oog af die hond rondswaai, is die Ingonyama-trust, waarvan koning Goodwill Zwelithini die enigste trustee is.

Die trust verkeer onder ’n wolk ná twee jaar se twyfelagtige ouditverslae. Volgens die Daily Maverick het regter Jerome Ngwenya, voorsitter van die trust, homself verlede week van ’n openbare webgesprek verskoon toe hy deur Lukhona Mnguni, ’n politieke ontleder, daaroor uitgevra is. Hy het bloot gesê hy het belangriker dinge om te doen as om met Mnguni te debatteer en het die gesprek beëindig.

Ander vrae van die publiek en joernaliste is glo redelik aanvallend gehanteer. Die trust (of die koning) besit sowat 30% van die diep-landelike gebied van KwaZulu-Natal. Dit is 2,9 miljoen ha wat verdeel is onder verskillende gemeenskappe onder die toesig van tradisionele leiers.

Na raming leef sowat 5,2 miljoen mense van 250 Zoeloe-stamme op die trustgrond – uit die oogpunt van stemme vir ’n politieke party soos die ANC, sekerlik iets om in gedagte te hou. Dit is ’n situasie wat nie maklik gaan verander nie.

Die hoëvlakpaneel oor grondhervorming onder leiding van oudpresident Kgalema Motlanthe, asook ’n latere adviespaneel van pres. Cyril Ramaphosa het die beëindiging of aanpassings aan die trust voorgestel, maar Zwelithini het dit as ’n “oorlogsverklaring” bestempel. Die trust het ’n begroting van R100 miljoen per jaar waarvan die regering R22,5 miljoen bydra.

Hoewel Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, onlangs haar rug styf gemaak het en ’n maandelikse verslag van die trustraad vereis oor die besteding van die begroting, meen Manie dit gaan nie veel aan die situasie verander nie.

Dan is daar natuurlik ook ’n regsgeding oor die trust wat dit verpligtend wil maak dat bewoners van die grond langtermyn- huurooreenkomste moet onderteken vir die kommunale grond waarop hulle woon.

Om die vrae oor die trust nog ingewikkelder te maak, is hy in ’n dispuut met die eThekwini-munisipaliteit gewikkel oor die beweerde wanbetaling van grondbelasting van sowat R183 miljoen. Tog lekker as ’n mens net ’n dispuut kan verklaar en dan eenvoudig ophou om belasting te betaal en die saak laat voortploeter.

Beter planne?

Een van Manie se kollegas het onlangs ’n vergadering van belanghebbendes in die groentebedryf bygewoon. Die vergadering het gehandel oor ’n meesterplan vir landbouverwerking in die groentebedryf, grotendeels geskoei op ’n plan wat deur Aartappels SA ontwikkel is.

Die plan is deur die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) aangevra. Die buro vir voedsel- en landbouprodukte (BFAP) en die sentrum vir mededinging, regulasie en ekonomiese ontwikkeling (CCRED) aan die Universiteit van Johannesburg was ook betrokke.

Manie was nie verbaas om ’n gesofistikeerde en alomvattende plan te sien nie. Woorde wat lesers goed ken, soos “marktoegang” en die “ontwikkeling van ’n inklusiewe waardeketting”, “werkskepping” en “private en staatsvennootskappe”, is in die plan vervat.

Manie kon nie help om die ironie raak te sien nie. Nie een van die ander planne met van dié woorde, insvluitend die nasionale ontwikkelingsplan en Tito Mboweni se ekonomiese reddingsplan, was of is suksesvol daarin om ons ekonomie, die arm mense in hul sinkhuise, die boere wat deur die droogte geteister is, of die opkomende bestaansboere op te hef uit hul moeilike toestande nie.

Die mate waartoe die gevestigde produsente se ondernemings oor die afgelope 20 jaar gegroei het, is verseker myle voor die mate waartoe bestaansboere in kommersiële boere verander is. En dit is fantasties dat die kommersiële boere vooruitboer – dit skep werk en hou ons ekonomie darem op krukke en uit die rolstoel uit.

Wat Manie pla, is dat daar onvervangbare infrastruktuur is, dinge soos die spoornetwerk, die hawens, die varsproduktemarkte en nog vele meer, waarvan die onderhoud en uitbou afhanklik is van die regering se eie planne en die uitvoering daarvan op voetsoolvlak.

Die plaaslike regerings, waarvan die meeste se betroubaarheid en ywer herinner aan ’n slim, skelm, hardekwas tiener, laat Manie wonder hoe lank nóg voor die toestand van die land se infrastruktuur so chaoties raak dat die biblioteke vol uitstekende planne nie eens meer die groot, gevestigde produsente gaan kan help om momentum te behou om te oorleef nie?

Ten minste, soos Manie se vriend gesê het: “Een ding is seker, beter planne gaan jy nêrens kry nie”.

Het iemand jou al vertel?

Ná die partytjie, soos die getroude paartjie huis toe ry, vra die vrou: “Liefie, het enigiemand jou al ooit vertel hoe aantreklik, sexy en onweerstaanbaar vir vroue jy is?”

Die gevleide man antwoord: “Nee, my skat. Niemand nie.”

Sy vrou vra saggies: “Nou wat de joos het jou daardie idee op vanaand se partytjie gegee?”