Dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die Melkprodusente-organisasie, het in ’n verklaring gesê Statistieke Suid-Afrika se syfers toon dié prysbewegings, terwyl die kleinhandelpryse van melk, kaas en eiers in dieselfde tyd bykans bestendig gebly het.

Hy het sy kommer gelug oor die nadelige gevolge wat die skerp daling in produsentepryse op die volhoubaarheid van melkproduksie kan hê en ’n beroep op melkverwerkers en –verspreiders gedoen om produsentepryse verantwoordelik te bestuur.

Die skerp verlagings in pryse het volgens hom reeds’n ernstige kosteknyptang vir melkboere veroorsaak in so ’n mate dat verskeie reeds die bedryf verlaat het.

“Die daling in produsentepryse kan nie aan die hand van die beweging in fabriekspryse geregverdig word nie.

“Melkkopers word gewys op die nadelige invloed wat soortgelyke prysseine in die verlede gehad het en die hoë koste daaraan verbonde om melkvoorsiening ná sulke drastiese prysverlagings reg te stel.”

Van Dijk sê laer produsentepryse het reeds die groei in melkproduksie benadeel.

Melk SA se syfers wys dat totale melkinname sedert Mei vanjaar teen ’n veel stadiger koers as in vorige maande groei.

Verskeie faktore kan in die komende maande tot ’n verdere inkorting van produksie lei.

“Die droogte in sekere dele van die Oos- en Wes-Kaap, asook die styging in die prys van boerderybenodigdhede, soos brandstof en energie, het ’n nadelige uitwerking op melkproduksie.

“Goeie reën in die droër weidingstreke sal produksie ook benadeel as boere verder op kragvoer besnoei,” sê Van Dijk.