Baie van die faktore wat klimaatsverandering beïnvloed, vind ’n mens op melkbeesplase. Gelukkig bied volhoubare boerderymetodes en meetbare doelwitte oplossings vir die meeste daarvan.

Boerdery kan volhoubaar wees en omgewings-, maatskaplike én ekonomiese doelwitte bereik as dit as geïntegreerde stelsels beskou en bestuur word en boere die koolstofkringloop verstaan, sê dr. Craig Galloway, navorser oor volhoubare landbou by die maatskappy Trace & Save. Om volhoubaar te boer, moet al drie doelwitte aandag kry. “Boerderystelsels moet holisties beskou word, en nie net op een ding konsentreer nie.”

Galloway sê as boere byvoorbeeld hul grond verbeter, kan hulle water doeltreffender gebruik. “Maar as jy met jou grond mors, kan dit jou impak op die omgewing vergroot omdat dit meer koolsuurgas vrystel.”

Hy het tydens Trace & Save se boeredag in die Tsitsikamma gesê die kernbeginsel is om so min insette moontlik te gebruik om die optimale hoeveelheid produkte te produseer. “Nie die maksimum nie, want dit beteken jy mik vir die meeste sonder dat jy weet hoeveel jy moet insit om dit te kry. Dit gaan oor hoe doeltreffend jy kan boer en dít hou verband met winsgewendheid.”

Trace & Save is ’n konsultasiemaatskappy wat boere help om volhoubare boerderymetodes in werking te stel. Die omvattende databasis wat die maatskappy in stand hou om sy boerekliënte se vordering te meet, help ook verbruikers en landboukonsultante.

KEN DIE KRINGLOOP VAN KOOLSTOF

Galloway sê boere wil saam met die natuur werk, maar daar is baie wat die mens nie van die natuur weet nie. “Hoe meer ons leer hoe natuurlike stelsels funksioneer, hoe meer kan ons die stelsels in ons boerderye ontsluit en die voordele kry sonder om vir duur insette te betaal.”

Boere moet eweneens bewus wees van die nuttige tegnologie wat deesdae beskikbaar is, soos inligting, doeltreffender toerusting of beter maniere om goed te meet, en dit inspan om hul boerdery volhoubaarder te maak. Een van die belangrikste inligtingstukke waarvan boere moet kennis dra om die impak van hul aktiwiteite beter te besef, is die koolstofkringloop. Dit toon die prosesse waarvolgens koolstof na en van plase beweeg, en hoe dit uit die grond vrygestel en in die grond vasgevang word.

Van die prosesse is natuurlik, soos respirasie deur plante en diere. Ander prosesse kan deur boere bestuur word en dit kan hulle help om doeltreffender te boer, soos die benutting van kunsmis en afloopwater, die opbou van grondgesondheid en die verlaagde benutting van fossielbrandstof deur bewaringsboerdery.

Heelparty van die ongunstige aspekte van die koolstofkringloop wat ’n uitwerking op klimaatsverandering het, word op melkbeesplase gevind. “Gelukkig is daar maniere om koolstof in die grond te herstel. As die netto beweging van koolstof terug is na die grond, kan ons uiteindelik ’n gunstige impak hê.”

Galloway sê as hy kyk na die veranderinge wat boere aangebring het om boerderydoeltreffendheid te verhoog en kweekhuisgasse te verlaag, het baie melkboere eintlik “ongelooflike stories om te vertel”. Ná die afgelope paar droë jare moet boere besef “hulle kan ’n dam onder die grond bou” deur die koolstofinhoud van die grond te verhoog. “Die inligting wat ek mettertyd by boere ingewin het, toon dat die grond 230 000 liter water deur ’n 60 cm-profiel kan opberg vir elke 1%-toename in grondkoolstof. Dit getuig van veerkragtigheid in die droogte. Uit ’n ekonomiese perspektief is dit duidelik hoe meer water in die grond ekonomies sin maak.”

WAT VAN STIKSTOF?

Stikstof is uiters belangrik vir aangeplante weiding, maar onoordeelkundige gebruik daarvan kan veroorsaak dat groot hoeveelhede stikstof in waterbronne beland, waar dit kweekhuisgasse aan die atmosfeer vrystel. Galloway het baie navorsing oor die dinamiek van stikstof in die grond gedoen. “Ek het gekyk hoe die kweekhuisgasvrystelling per liter melk geproduseer verander namate die koolstof in die grond herstel word vandat ek dit begin meet het. Verhoogde koolstofinhoud in die grond beteken minder kweekhuisgasvrystelling in die atmosfeer, maar daar was ook plase wat grondkoolstof verloor én kweekhuisgasse vrygestel het.”

Hy sê dis veral belangrik om eerder die groot hoeveelhede stikstof wat dikwels in die grond is, te probeer ontsluit, as om te sê dis nie beskikbaar vir plante nie.

Wat Galloway nie verwag het nie, was sy bevinding dat muf, draderige swamme wat organiese materiaal in die grond afbreek en voedingstowwe vir ander mikro-organismes verskaf, ongunstig gekorreleer is met die totale stikstof in die grond. Dit het implikasies vir stikstoftoediening en grondgesondheid. “Muf hou nie van te veel stikstof in die grond nie. Hoe meer stikstof ons in die grond het, hoe harder moet ons werk om dié swamme in die grond terug te kry. Die laaste ding wat ons dus wil doen, is om meer stikstof toe te dien.”

Hy sê dis net as jy meet dat jy van die verwantskappe weet. “Dit is die voordeel van ons databasis, dat ons kan vasstel wat met verloop van tyd in die grond gebeur.” Hy waarsku dit help nie om die data te gebruik om gemiddelde syfers vir ’n plaas uit te werk nie. “Ons gaan nie ver kom as ons alle grond op die plaas dieselfde behandel nie. Die groot taak is om die verskillende dele van die plaas verskillend te behandel.”

Hy het die plase wat hy vir die navorsing vir sy doktorsgraad gebruik het, in kategorieë van doeltreffendheid ingedeel. Galloway het bevind die doeltreffendste groep se melkproduksie per hektaar was die hoogste, en hul veelading was ook die hoogste. “Hulle het nie melkproduksie verhoog deur meer te voer nie, maar deur hul weidings beter te benut en sodoende minder konsentraat per liter melk te gebruik.”

Volgens Galloway moet boere hulself afvra wat hulle gebruik om melk te produseer: Konsentraat of gras? “Minder as 50% van ons diere se energie kom van gras. Die res kom van voer wat ons inkoop, maar ons noem onsself weidingsboere. Ek besef die droogte het sake bemoeilik, maar wat gaan ons in die toekoms doen?”

Hy het voorts bevind die doeltreffendste boere gebruik die minste kunsmis as gevolg van gesonder grond en goeie weidings- bestuur. By een van die boere is die toediening van stikstof tot 220 kg/ha gehalveer, tog het die weidings beter gegroei. “Dit toon dat kunsmisdoeltreffendheid moontlik is.”

Op een plaas het Galloway gevind dat die geleentheidskoste van al die stikstof, fosfaat en kalium R8 000/ha is. Dit is die geld wat boere kan spaar as hulle nie nodig het om die middele in te koop nie. “Dit is ’n klomp geld in die konteks van die oormaat stikstof in die grond en die ongunstige uitwerking wat dit op ons grond het.”

Een van die maniere waarop die koolstof-inhoud van die grond verhoog kan word en die afhanklikheid van kunsmis verminder kan word, is deur verskeidenheid in weidings, veral peulgewasse wat stikstof uit die atmosfeer kan bind.
Ondoeltreffende besproeiing gebruik meer elektrisiteit en veroorsaak sodoende dat kweekhuisgasse vrygestel word. Dit kan ook die grond benadeel, want as weidings te min water kry, bly die wortels naby die oppervlak van die grond. Kry dit egter te veel water, word anaërobiese toestande in die grond geskep.
Melkstalle se afloopwater kan ’n groot vrysteller van kweekhuisgasse wees as dit net in anaërobiese slikdamme gehou word.

PRAKTIESE WENKE

Die bestuursaspekte waaraan boere aandag kan gee om hul boerdery se impak op die omgewing te verlaag en finansiële doeltreffendheid te verhoog, is die bestuur van afvalwater, weiding en besproeiingskedulering, die doeltreffendheid waarmee kunsmis gebruik word, en die vlak van grondgesondheid.

Galloway sê afloopwater in ’n anaërobiese slikdam veroorsaak dat kweekhuisgasse vrygestel word en verteenwoordig onbenutte voedingstowwe. Boere moet dus ’n plan beraam om die afvalwater na hul weidings te herlei. Om te voorkom dat elemente soos magnesium, natrium en stikstof tot skadelike vlakke opbou op die weidings waar dit toegedien word, moet die afloopwater oor al die weidings op die plaas versprei word.

Boere moet weet hoe doeltreffend hulle melk produseer wat betref die hoeveelheid konsentraat en ruvoer wat hulle gebruik. Weidingsbestuur kan ’n groot verskil in dié opsig maak, ook aan die koolstofinhoud van die grond. “Oorbeweiding verlaag jou kans om koolstof in die grond op te berg. As jy te vroeg laat wei, kry die gras nie genoeg tyd om koolstof in die grond vry te stel nie.”

Dit is ook belangrik om minder kunsmis toe te dien deur die benutting van stikstof te verbeter. Galloway stel voor dat verskeie plantspesies, veral peulgewasse, geplant word om stikstof in die grond te ontsluit. Boere moet onthou dat koolstof vrygestel én fossielbrandstof gebruik word as die grond bewerk word, hoewel die grond danksy bewaringsboerdery nie meer so baie bewerk word nie. “Dekgewasse is ’n goeie geleentheid om die grond ’n hupstoot te gee, omdat jy in een seisoen ’n klomp wortels in die grond kan kry.”

Besproeiingskedulering is ’n aspek wat dikwels nie genoeg aandag kry nie. “Ondoeltreffende besproeiing gebruik meer elektrisiteit en veroorsaak kweekhuisgasvrystelling. As jy te min water gee, bly die wortels naby die oppervlak van die grond. As jy te veel water gee, skep jy anaërobiese toestande. Dit alles benadeel die grond.” 

VOLHOUBAAR ÉN SUKSESVOL

Galloway het in 2017 sy doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf met navorsing wat bewys dat melkboere hul impak op die omgewing kan verlaag sonder om winsgewendheid prys te gee.

Aangesien daar min navorsing op plase is oor hoe moeilik dit is om volhoubare praktyke toe te pas, wat die voordele van die praktyke is en die stelsels wat aanvaar moet word om volhoubare boerderydoelwitte te bereik, het Galloway ’n persepsie-opname op 65 plase in die Oos-Kaap gedoen.

Hy het data op 43 plase versamel om hul omgewingsimpak wat betref hul koolstofspoor en doeltreffendheid van voedingstowwe soos stikstof te bepaal, en hul ekonomiese doeltreffendheid te ontleed. Dit het hom gehelp om vas te stel op watter plase die impak die laagste was en hoe die betrokke boere weiding en grondgesondheid bestuur om dit reg te kry. “My navorsing toon dat boere nie finansiële winsgewendheid hoef in te boet om die omgewingsimpak van hul boerderye te verlaag nie.”

Hy het ook bevind dat boere te vinde is vir volhoubare boerdery, maar dat dit vir hulle moeilik is om volhoubare praktyke in werking te stel.

Volgens Galloway is daar drie bestuursaspekte waarop boere kan konsentreer om hul boerderystelsels volhoubaarder te maak: Die regte veelading is belangrik om soveel melk moontlik op die beskikbare grond te produseer sonder om te veel ingekoopte kunsmis en voer te gebruik. Boere behoort die gesondheid van hul grond beter te bestuur om die behoefte aan kunsmis te verklein. Hulle moet aangeplante weidings só bestuur dat dit nie nodig is om veel voer in te koop nie. “Boere moet aandag aan hul bestuurspraktyke gee, en kan sodoende die invloed op die omgewing verklein en hul winsgewendheid verbeter,” sê Galloway. 

Bron: https://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID=5335

Navrae: Dr. Craig Galloway, e-pos: craig@traceandsave.com

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.