Grond is vir enige land ’n strategiese hulpbron wat in landsbelang baie omsigtig bestuur moet word. Suid-Afrika is ongelukkig nie geseën met ’n oorvloed bewerkbare grond nie (net 13%), maar het van die beste boere ter wêreld wat met ’n lae gemiddelde reënval van 460 mm per jaar daarin kan slaag om bogemiddeld te presteer. Ongelukkig word grond in Suid-Afrika as ’n politieke speelbal gebruik en is die regering boere nie goedgesind nie.

Staatshulp is altyd onvoldoende en word solank moontlik van boere weerhou. Ten spyte van groot teenstand is boere steeds vir die land ’n groot ekonomiese bate waarop die regering noodwendig swaar moet leun vir ekonomiese groei, voedselproduksie, werksgeleenthede en vele ander ekonomiese bedrywighede.

Die herverdeling van landbougrond is in landsbelang en kan nie betwis word nie. Om dit regmatig aan alle groepe te verdeel, moes van dag een af op die tafel gewees het. Die regering wil dit egter andersom hê – geen beskerming van private eiendomsreg nie, en alle grond moet staatseiendom raak.

Die gevolge is skrikwekkend. Derduisende werksgeleenthede en miljoene der miljoene rande se landbou-uitvoer ingevolge die Agoa-toegewings gaan van die tafel gevee word. Beleggings gaan opdroog, terwyl beloftes van saad, kunsmis en werktuie net ’n vermorsing van geld gaan wees.

Die regering was reg toe daar 25 jaar gelede met grondhervorming begin is. Ongelukkig het die proses weens wanbestuur en institusionele onbevoegdheid in ’n ideologiese mislukking ontaard. Die regering se dilemma is nou dat die proses nie herhaal kan word nie – daar is eenvoudig te veel geld en tyd vermors. Wat nou moet gebeur, is ’n ope vraag.

Uit opposisiegeledere is die aanname gemaak dat wit boere hul plase op die een of ander wyse gesteel het en daarom summier onteien behoort te word. Dié aanname het geen regsgronde nie, maar uit desperaatheid het die regering hierdie opposisieparty skandelik ondersteun en die onteiening van plase in wit besit regeringsbeleid gemaak.

Dit kom daarop neer dat Suid-Afrika in dieselfde kategorie as Zimbabwe en Venezuela geplaas gaan word, waar onteiening sonder vergoeding albei lande se ekonomie verwoes het, terwyl hongersnood en werkloosheid albei lande in ’n humanitêre krisis dompel. Iemand sal dus moet sê waarom Suid-Afrika nie soos Zimbabwe en Venezuela in ’n bodemlose put gaan beland nie.

Wie gaan oor die gevolge en die gebrek aan gesonde verstand praat? Daar is reeds reaksie op moontlike onteiening sonder vergoeding. Amerika het laat weet dat daar gevolge gaan wees indien eiendomsreg in Suid-Afrika in gedrang gebring word. Andersins staan sewe instellings in Suid-Afrika reeds gereed om die saak hier en oorsee met hand en tand te beveg.

GEEN WENNERS

Die probleem met grondhervorming en onteiening sonder vergoeding is dat die staat alle grond in die land wil besit. Die gevolge is duidelik. Geen grond gaan aan voorheen benadeelde mense teruggegee word nie. Eiendomsreg gaan regstreeks oor na die staat om die ideaal van ’n sosialistiese bedeling te verwesenlik.

By alle kommersiële plase sonder eiendomsreg moet die ineenstoring van volhoubare voedselproduksie as ’n gegewe aanvaar word. Dit beteken ook dat die vestiging van ’n florerende swart boeregemeenskap buite bereik gaan wees. ’n Plaas sonder eiendomsreg – groot of klein – het geen leningswaarde nie. Grond gaan net ’n plek word waar baie hoopvolle mense ’n verlore stryd gaan stry. Die ontnugtering kom later – met gevolge.

Die regering behoort teen dié tyd ook te besef dat grond nie meer die towerstaf is om mense te beïndruk nie. Grondhervorming het reeds – nie amptelik – byna 100% misluk. Ná 25 jaar bly daar maar min oor om op trots te wees. Kiesers se voorkeure het ook meer realisties geraak. Hulle soek nou eerstens ’n werk, ’n huis van hul eie, voldoende skoon drinkwater en beslis die handhawing van wet en orde.

Terwyl probleme eskaleer, is daar niemand wat gaan voordeel trek uit die regering se gronddilemma nie. Boonop sit die land met ’n groeikoers van minder as 1% en ’n bevolkingsaanwas van 1,6% per jaar. Dit is ’n baie hoë hekkie wat op een of ander wyse oorkom sal moet word. Die SAA het reeds vanjaar ’n reddingspakket van R5,5 miljard ontvang.

Intussen word berig dat die SAA, asook die 44 agriparke, wat hopeloos misluk het, ’n bykomende R2 miljard van die regering gaan ontvang. Met ander woorde R4 miljard aan bankrot staatsinstellings. Daarteenoor staan ’n veelseggende en vernederende R300 miljoen aan droogtehulp vir die hele Noord-Kaap, waar mens en dier besig is om te vergaan.

Genadiglik is daar nog goeie mense daar buite wat omgee vir die land se boere. Gift of the Givers het die afgelope twee jaar meer as R230 miljoen se droogtehulp verskaf. Die bedrae van bydraes deur Agri SA, TLU SA en Afriforum is ongelukkig nie aan my bekend nie.

Private skenkings in die vorm van vragte en vragte voer, kospakkies en geld wat deurlopend gelewer is, was vir boere ’n emosionele saak en sal nooit vergeet word nie. Van die regering kan niks gesê word nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het sy foute, maar daar is geen beter alternatief op die horison nie. Hy probeer sy bes om te red wat nog te redde is, maar daar is ongelukkig kwaadwillige mense wat hom vir die verkeerde redes ondermyn. Dit is soos hoogverraad. Gelukkig het hy ’n slim man aan sy kant – mnr. Tito Mboweni, minister van finansies.